‘Katslagter’ teister inwoners van Manenberg

Twee van die katte wat deur die vermeende katslagter geslag is (Foto: Verskaf)

Waarskuwing: Die berig bevat grafiese besonderhede en kan sensitiewe lesers en kinders ontstel.

Die gemeenskap van Manenberg, Kaapstad, is bekommerd oor die slagting van minstens 32 katte wat sedert Julie in dié nedersetting aangemeld is. Niemand weet wie agter hierdie slagtings sit nie, maar die wreedheid daarvan laat inwoners vrees vir die welsyn van hul geliefde troeteldiere.

Gemeenskapslede het die Dierewelsynsvereniging se Philippi-tak in Kaapstad op 15 Julie van die eerste geval in kennis gestel. Volgens Allan Perrins, woordvoerder van dié organisasie, is daar sedertdien daagliks gevalle aangemeld. Hy sê dit is nou besig om handuit te ruk. “Ons het die afgelope week tot drie dooie katte per dag gevind.”

Volgens Perrins lyk dit asof al die katte op dieselfde wyse doodgemaak word. Die sogenaamde katslagtings vind ook binne ʼn radius van ʼn kilometer in die gebied van Manenberg plaas. Die plaaslike polisiestasie is in hierdie radius geleë.

“Al die dooie katte se mae is oopgesny en die ingewande is netjies langs die oorskot geplaas. Die katte is van kop tot stert oopgesny. Wat veral vreemd is, is die feit dat daar op al die tonele nie ʼn druppel bloed gevind is nie. So asof die kat eers skoongewas is,” sê Perrins.

Volgens Perrins is die dooie katte langs paaie, by skole, kerke en buitekant die polisiestasie gevind. Daar is ook ʼn paar gevalle aangemeld waar die katte op inwoners se erwe en opritte gevind is.

‘n Beampte van die Dierewelsynsvereniging laai ‘n dooie kat in die bakkie (Foto: Verskaf)

“Dit lyk asof die katte netjies op spesifieke plekke geplaas word.”

Perrins sê dit lyk ook nie of die katte bytmerke aan hulle het wat op ʼn aanval deur ʼn hond of wilde dier kan dui nie.

Volgens Perrins het hulle Woensdagmiddag vir die eerste keer ʼn dragtige kat dood gevind. Haar ongebore babas is ook netjies langs haar oorskot geplaas.

“Indien ʼn ander dier verantwoordelik was, sou dit tog die ongebore babas ook gevreet het.”

Hy sê hulle wag nog vir ʼn amptelike outopsie om sodoende meer inligting te kry oor wat presies met hierdie katte gebeur het. “Ons sal dan ʼn beter aanduiding hê met wie ons dalk te doen het.”

Volgens Perrins ondersoek hulle die moontlikheid dat die katslagtings aan satanistiese rituele of bende-inisiasies verbind kan word. Daar is ook die moontlikheid dat dit aan hondegevegte gekoppel kan word, omdat dit ʼn groot probleem in Manenberg is. “Of dit kan eenvoudig net ʼn sadis wees wat van nature boos van aard is.”

Perrins sê hulle het aanvanklik gedink slegs rondloperkatte word geteiken. Later het al meer kat-eienaars egter na vore gekom en gesê dat hul katte vermis word. Eienaars het ook later hul katte se oorskot uitgeken.

Die gemeenskap het intussen ʼn buurtwag gestig wat aandpatrollies ry (Foto: Verskaf)

Volgens Perrins leef die gemeenskap daagliks in vrees en kateienaars hou hul katte veilig agter slot en grendel.

“Daar is ʼn gevoel van paranoia in die lug. Die gemeenskap is desperaat vir ʼn deurbraak in die saak. Hulle is bang dat die persoon of persone verantwoordelik die vermoë het om iets aan inwoners óók te doen.”

Die gemeenskap het intussen ʼn buurtwag gestig wat aandpatrollies ry. Die buurtwag het ook ʼn persoon gehuur om ʼn hommeltuig in die lug op te stuur om hulle met aandpatrollies by te staan.

“Ons kry goeie samewerking van die gemeenskap af. Dit is duidelik dat hulle graag die skuldige(s) wil vang.”

Probleem strek wyer

Minstens 32 katte is sedert Julie dood gevind (Foto: Verskaf)

Katslagtings van dieselfde aard is die afgelope week ook in die Surrey-landgoed, wat reg langs Manenberg geleë is, aangemeld. Vyf onthoofde katte is verlede week in Faure ontdek, asook katte wat lewendig gebrand is in Parow. Dié verbrande katte is in swart sakke op mense se erwe gegooi.

In Mitchells Plain het die Dierewelsynsvereniging ook twee gevalle gehad van ʼn kat wat gehang is en ’n kat wie se vier pote afgesny is.

Perring sê egter hulle kan nie in hierdie stadium die slagtings in Manenberg met bogenoemde gevalle verbind nie.

Die Dierewelsynsorganisasie het ʼn beloning van R5 000 uitgeloof vir enigiemand met meer inligting wat tot die inhegtenisneming van die vermeende katslagter in Manenberg kan lei. Enigiemand met meer inligting kan die vereniging by 021 692 2626 skakel.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het bevestig ʼn saak van dieremishandeling is verlede Vrydag by die Manenberg-polisiestasie aanhangig gemaak. Sedertdien het verskeie kateienaars hul verklarings by die polisie gaan aflê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Janine ·

Dis wreed. Maar eienaars moet hul diere in hul erwe hou! En moenie eens voorgee katte kan nie geleer word om in hul erwe te bly nie. Hulle kan!

Belinda ·

jy kan nie n kat in jou erf hou nie. Nie as dit buite-katte is nie. Dis anyways wreed om diere binnehuis te hou. Hoe sal jy like om heeldag tussen 4 mure te sit?

Jean ·

Ek sal seker meer veilig voel tussen die mure as wat iemand my buite doodmaak

KhoiKhoi ·

Leer hulle om hulle “binne-katte” te word.
Hoe sal jy daarvan hou om te wonder of jou groente kat urine op het?

Jana ·

Regtig? Hoe leer ‘n mens ‘n kat om binne in die erf te bly?

KhoiKhoi ·

Maklik!
Daar is toestelle wat vrekduur is wat hulle sal leer om in hul erf te bly!
Waarom moet jou buurmense dié toestelle aankoop om jou katte uit te hou?

Toy ·

Dit is regtig siek en wreed, hoop hulle vang die een wat dit doen bitter gou.

Anoniem ·

Vieslik! Daardie persoon/persone is beslis nie geestelik gesond nie.

Pierre ·

Sal sekerlik R500 boete kry, die howe ag nie diere mishandeling ernstig nie.

Vonnie ·

nou is my vraag, met verwysing na die volgende: “ingewande is netjies langs die oorskot geplaas.” en “Eienaars het ook later hul katte se oorskot uitgeken.” Maar as ‘n mens doodgaan, word daar neerhalend na die “lyk” verwys. genade, dis ‘n liggaam!!! selfs in engels word verwys na ‘n “body” en nie ‘n “corpse” nie. dus kry diere meer respek as mense hier. is maar net iets wat al lank al pla oor beriggewing

Belinda ·

Gaan doen julself die guns en gaan kyk die program “dont f** with cats”. Daai persoon was net so siek in die kop. – Hy het toe begin moord op mense pleeg! Dis n serial killer in the making!
Daar was n groep mense wat hierdie man opgesoek en eintlik gevind het, miskien is daar iemand soos dit wat daai persoon kan vastrap.
Ek besit 4 van my eie, en hulle is my alles. Ek sal so persoon baie leed aandoen, want dis onskuldige oulike diertjies wat so vermoor vir sy entertainment. Dis plainweg net siek!

Lorna ·

Nee die mensdom is mal
Omw die wreedarts gaan en kan onskuldige mense dan mos ook seer maak
SIEK SIEK VERBY

Tipper ·

Ag wat eendag sal hulle seker die ou vang en wat gaan hulle met hom maak,sy graad is klaar so laag.

SjN ·

hy is onder n wanindruk om op die manier onder katte te kattermaai!!!

ES ·

Dis darem maar siek… iewers loop ‘n ernstige geestesversteurde persoon rond wat nie in die samelewing hoort nie!

Jan ·

Persone wat diere aanhou versuim te dikwels om verantwoordelikheid vir die welsyn van die diere te neem. Dit is die eienaar se skuld as ‘n hond of kat in die straat doodgery word of op enige ander wyse leed aangedoen word – die diere hoort onder beheer van hul eienaars te wees.

Frank John ·

Katte kan ‘n pes wees as hulle net gelos word. Baie ander klein diere word uitgewis deur katte wat jag maak daarop. En dis huiskatte wat snags uitgaan en jag. Maar die metode is wreed en dit klink amper of die ou studeer om veearts te word en nou oefen op ander se troetel diere. Of dalk duiwel aanbidery feit dat die bloed weg is.
As katte ‘n pes is moet hul liewer na die dieresorg geneem te word. Hulle sal die regte oplossings hê.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.