Katslagting: Man vrygelaat weens ‘gebrek aan bewyse’

Een van die katte wat deur die vermeende katslagter doodgemaak is. (Foto: Verskaf)

ʼn Man wat die naweek ondervra is in verband met ʼn ondersoek na die gewelddadige slagting van minstens 42 katte in die Manenberg-omgewing is vrygelaat.

Maroela Media het vroeër berig al die dooie katte wat tot dusver gevind is, se mae is oopgesny en die ingewande is langs die oorskot geplaas.

AO Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, sê die 40-jarige man is Vrydag ondervra en laat dieselfde aand vrygelaat weens ʼn gebrek aan bewyse om hom met die misdade te verbind.

Allan Perrins, woordvoerder van die organisasie se Philippi-tak in Kaapstad, sê hoewel hulle teleurgesteld is deur die jongste wending, is hulle “nie verslaan nie”. Geen nuwe slagtings op die grusame manier wat die afgelope ruk gesien is, is sedert verlede Maandag aangemeld nie.

Hoewel ander voorvalle van katte wat doodgemaak is wel aangemeld is, word dit tans nie met die spesifieke ondersoek verbind nie.

“Die feit dat die doodmaak van katte op hierdie manier gestaak is, is reeds ʼn oorwinning,” sê Perrins.

Twee honde wat aan die man behoort en wat moontlik gebruik is om die katte dood te maak, ʼn Amerikaanse veghond-kruising en ʼn korthaarterriër-kruising, is verlede week reeds deur die Dierewelsynsvereniging gevang. Albei honde ontvang steeds behandeling vir verskeie kwale.

“Die man [wat ondervra is] is ontneem van sy honde en die diere is in ons sorg geplaas. Dit is ook ʼn oorwinning vir dierewelsyn.”

Perrins sê die saak was uit die staanspoor uniek. Hulle het dus glad nie verwag dat dit maklik sou wees om die skuldige aan te keer nie.

“Die inwoners en katte van Manenberg kan ten minste snags nou effens rustiger slaap omdat een manier om die katte dood te maak, uit die weg geruim is.

“Ons is uiters hoopvol dat ons diegene wat hierdie gruweldade pleeg, sal laat boet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Janine ·

As daar nie bewyse is nie, is daar nie bewyse nie. Moet die man nou in die tronk sit? Tsk.

Phillip ·

En sy honde moet aan hom terug gee word is mos nou verloopig onskuldig

Elinette ·

Nie noodwendig nie. Hy het die honde van basiese regte soos voeding, skuiling en mediese sorg ontneem. Daar kan nog steeds diere-mishandelingsklagtes teen hom gelê word en hy kan gedwing word om die diere aan die DBV af te teken.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.