Keer geweld in kinderjare, sê ISS

Argieffoto

Argieffoto

Die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) het Woensdag gesê geweld kan verminder word as daar gefokus word op vroeë kinderontwikkeling.

“Vroeë kinderontwikkeling is die volhoubare manier om geweld te verminder,” het Gareth Newham, hoof van die ISS se program vir misdaad en geregtigheid, tydens ʼn perskonferensie in Pretoria gesê.

Die ISS het die perskonferensie aangebied voor die land se misdaadstatistiek vir 2013/2014 Vrydag amptelik vrygestel gaan word.

Newham het na die statistiek van 2012/2013 verwys en gesê daar was ʼn styging in gewelddadige misdade. Verlede jaar was dit die derde keer dat die moordsyfer die afgelope 20 jaar in Suid-Afrika gestyg het. Die moordsyfer het toe tot 4.2% gestyg. Die stygende moordsyfer oorheers die feit dat aanranding aansienlik afgeneem het.

Die Oos-Kaap het die hoogste moordsyfer gehad, gevolg deur die Wes-Kaap, Vrystaat en Noord-Kaap. Limpopo het die laagste moordsyfer gehad.

Newham het gesê landelike gebiede is meer gevaarlik. Hy het bygevoeg dat die slagoffers in 80% van die gevalle die oortreders geken het.

Roof met verswarende omstandighede het gestyg, sowel as besigheid-, huis-, en motorrooftogte.

Newham het gesê die polisie “werk beslis harder”. “Ons het egter ʼn tekort aan maatskaplike werkers. Die polisie kan nie kwessies hanteer wat tot geweld lei nie. Die polisie kan nie polisiëring op sy eie regmaak nie.”

Nkosinathi Nhleko, die nuwe polisieminister, Maggie Sotyu, die adjunkminister en Riah Phiyega, die nasionale polisiekommissaris sou die land se misdaadstatistiek vir 2013/2014 Donderdag vrygestel het, maar het intussen bevestig dit sal eers Vrydag beskikbaar wees. Hulle het nie ʼn rede vir die uitstel verskaf nie.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Drieks ·

Dit baie waar, as jou ouerhuis en skool swak is, beéinvloed ons die wéreld om ons. Ek verstaan net nie die Regring wat die TV tot hul beskikking het en nie help met OUER opvoeding nie. Ons land het OUER opvoeding ” dringend!!!! ” nodig….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.