Keer só dat jou gesin ʼn slagoffer van ontvoering word

Eden Laird (Foto: Pink Ladies)

Die misdaad van ontvoerings met ʼn losprys is nou opnuut onder die loep geplaas ná die ontvoering van die 13 maande oue Eden Laird.

Laird se ontvoering het ʼn gelukkige einde gehad: Hy is net ná middernag op 5 Mei sowat 63 uur ná sy ontvoering weer ongedeerd en veilig terug in die arms van sy ouers. Sy ontvoerders het ʼn losprys van R6 miljoen vir sy vrylating geëis.

Vyf verdagtes, onder wie ʼn huishulp wat twee jaar vir die Lairds van Brackendowns in Alberton aan die Oos-Rand gewerk het, is in verband met die voorval in hegtenis geneem. Die kontant wat as deel van die R6 miljoen-losprys betaal is, is ook teruggekry.

Dit blyk dat dié soort ontvoerings waar ʼn losprys geëis word en wat voorheen nie ʼn algemene misdaad in Suid-Afrika was nie, beslis plaaslik aan die toeneem is.

Yusuf Abramjee, ʼn teenmisdaad-aktivis en hoof van die #MakeSASafe-inisiatief, het in Januarie gesê hy het in die afgelope 24 maande in daardie stadium met ongeveer 15 gevalle van hierdie soort ontvoerings te doen gehad.

Abramjee het tydens ʼn mediakonferensie van die Nasionale Persklub in Pretoria oor dié misdaad gewaarsku dat veral Indiër-sakemanne teikens van die plaaslike ontvoeringsindikate is. Tog is daar ook voorvalle aangemeld waar sakemanne van Pakistan, Bangladesj, China en selfs Zimbabwiese afkoms in Suid-Afrika geteiken is. In drie van die ontvoerings het die ontvoerders altesaam R15 miljoen buit gemaak.

ʼn Mens hoor ook gereeld van kinders wat deur ontvoerders geteiken word. Sizakele Nkosi-Malobane, die LUR vir gemeenskapsveiligheid in Gauteng, het in Maart die voorvalle van ontvoering van kinders in die provinsie ten sterkste veroordeel. Haar kommentaar het gevolg ná twee ontvoerings in Eldoradopark.

ontvoering-npc-op-twitter-2018-01-18

‘n Paneel van misdaadkenners het in Januarie die media toegespreek oor die toename van ontvoerings. Foto: Nasionale Persklub/Twitter.

Twee mans is op 16 Maart aangerand ná ʼn poging tot ontvoering van ʼn jong meisie in Eldoradopark.

Op dieselfde dag, in ʼn onverwante voorval, is die driejarige Liyaqat “Lee” Mentoor ontvoer. Hy word 58 dae later steeds vermis en die polisie het Sondag aan IOL gesê hulle glo nou die seuntjie is vermoor en sal dit kan bewys.

Dit lyk of enigiemand ʼn teiken kan wees en dit laat families en gesinne wonder hoe hulle hul geliefdes teen ʼn ontvoering kan beskerm.

Volgens Dudley Booysen, besturende direkteur van Achilles Risk Solutions, is die beste manier om ʼn ontvoering te hanteer, die voorkoming daarvan. “Die trauma wat gepaardgaan met so ʼn ontvoering is byna onomkeerbaar vir die familie en persoon wat ontvoer is. Ons werk elke dag met mense wie se lewe bedreig word en dit is vir ons ʼn passie om dit eerder te voorkom en ʼn stap voor die misdadigers te wees.”

Booysen sê meer as 70% van ontvoerings word nooit aangemeld nie en dit is iets wat Abramjee ook beaam het.

“Die eenvoudige rede is dat families vrees vir hulle geliefde se veiligheid omdat hulle gedreig word om nie die polisie te nader nie. Ek kan wel met sekerheid sê dat ontvoerings deur sogenaamde copycat-sindikate op ʼn weeklikse grondslag oor Suid-Afrika plaasvind,” voeg Booysen by.

Volgens Booysen en Abramjee is daar georganiseerde misdaadsindikate by van die ontvoerings betrokke en het van dié ontvoerders selfs internasionale misdaadbande. Daar is ook egter onervare ontvoerders wat die georganiseerde misdaadsindikate se modus operandi naboots.

“Die professionele sindikate het ʼn beter netwerk en fondament waarvan hulle werk as die copycats. Die copycats het nie die infrastruktuur om iemand wat ontvoer is vir lang tydperke aan te hou nie. Hulle wil so vinnig moontlik die geld kry en is daarom onvoorspelbaar en gevaarlik,” sê Booysen.

Argieffoto.

Raad vir Suid-Afrikaners om veilig te bly

Booysen gee die volgend raad vir lesers om hulle geliefdes veilig te hou:

  • Eerstens, wees altyd bewus van wat rondom jou aangaan.
  • Moenie te voorspelbaar optree nie, verander jou familie se roetine en roetes gereeld.
  • Maak seker dat iemand altyd weet waar jy is. Gebruik die tegnologie wat tot jou beskikking is. Daar is apps wat jou mense dadelik kan laat weet indien jy onveilig voel of jou in ʼn gevaarlike situasie bevind.
  • Wees versigtig wat jy van jouself en jou geliefdes op sosiale media deel en waar jy jou aanmeld (in-check). Sosiale media is ʼn groot bron van inligting vir sindikate wat ʼn ontvoering beplan.
  • Meld enige verdagte mense of voertuie in jou woonbuurt of by die werk aan.
  • Let op en vertrou jou intuïsie as jy voel jy word agtervolg. Indien dit gebeur, nader iemand professioneel wat ʼn ondersoek kan doen en aanbevelings maak om jou en jou familie te beskerm. “Wees eerder veilig en voorkom die trauma as wat jy en jou familie vir jare nog daardeur moet werk.”

Terwyl Booysen voorkoming in die geval van ʼn ontvoering benadruk, het hy ook raad vir mense sou ʼn geliefde van hulle ontvoer word:

  • ʼn Ontvoering veroorsaak geweldige stres en angs in ʼn familie, maar dit is belangrik om so kalm moontlik te bly indien dit gebeur.
  • Luister na die ontvoerders se eise, maak aantekeninge van alles en moenie met hulle argumenteer nie.
  • Nader professionele mense wat kan help met die onderhandelings, veral omdat ontvoerders so onvoorspelbaar kan wees. “Om kanse te waag is nie die moeite werd nie.”

Abramjee het ook die volgende raad vir wat om te doen indien ʼn familielid ontvoer word:

  • Moenie huiwer om die ontvoering dadelik by jou plaaslike polisiestasie aan te meld nie. Indien die polisiestasie jou nie wil help nie, meld dit by ʼn ander polisiestasie aan of gaan na ʼn hoër vlak van die polisie, of skakel een van die polisie se nasionale noodnommers om dit aan te meld.
  • Neem alle oproepe met die ontvoerders op.
  • Moenie inligting oor die ontvoering op sosiale media plaas, of direk met die media oor die ontvoering gesels nie. “Die ontvoerders waardeer gewoonlik geen vorm van publisiteit nie en sal nie skroom om hulle slagoffer seer te maak of selfs te vermoor as hulle paniekerig raak nie.”
  • Stel ʼn verslag vir ʼn vermiste persoon saam. Dit kan versprei word, maar moenie sê die persoon is ontvoer of die besonderhede van die losprys verskaf in die verslag nie.
  • Ontvoerings kan ook by privaat organisasies of nieregeringsorganisasies aangemeld word indien jy dalk nie die polisie vertrou nie, maar kry hulp. “Kry ʼn kenner betrokke, moenie die situasie self probeer hanteer nie, selfs al word jy gedreig.”

Booysen sê ontvoerders, selfs die amateur-nabootsers, moenie onderskat word nie. “Hulle sal die ontvoering vooruit beplan en ken die gedrag en roetine van hulle teiken goed voordat hulle toeslaan.

“Die ontvoering word uitgevoer op plekke waar die slagoffer gereeld reis soos tussen sy huis en kantoor of tydens sy daaglikse roetine.

“In die geval van ʼn ontvoering is dit belangrik om kalm te bly, rasioneel te dink en samewerking te gee. Gebruik al jou sintuie en let op alles wat jy kan. Neem soveel inligting in oor jou ontvoerders, die roete, skuilings en omgewing. Hierdie inligting kan die owerhede bystaan in hulle ondersoek.”

Booysen sê minder as 10% van slagoffers van ontvoerings word doodgemaak of sterf terwyl hulle aangehou word, maar die trauma van ʼn ontvoering bly nog lank by almal wat daarby betrokke was. “Mense moet hulself mooi oppas.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Waardes ·

Liberale waardes en vergers vir misdadigerregte maak dat hierdie sindikate floreer. Konserwatiewe samelewings sou vinnig met hierdie sindikate gereken het maar superryk geldwolwe beheer nou die wereld in die naam van liberalisme.

Michelle ·

Ek het die raad gelees en dis so hartseer om te dink wat families moet deurgaan as so iets met jou gebeur. Ek sal dit nie kan oorleef as my kind ontvoer moet word en nie gevind kan word nie. Oorsee (bv VSA, Europa ens) hou families en ouers van kinders ‘n kidnap kit van hul geliefdes wat elke 6 maande opdateer word. Nuutse foto, DNA (hare met wortels aan, tande wat die tandemuis kom haal het, kledingstuk wat nie meer gedra word nie maar ook nie gewas is nie ens.) word elk in individuele sakkies en dan in groter sak geplaas in yskas. Ongelukkig is ons so ver agter “met tegnologie en strukture dat sulke measures nie vir SA mense gaan help nie :-(

Reguit ·

Ag, wat, …… party mense keer sommer alles op een slag op een manier en hulle emigreer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.