‘Keerpunt’ vir Pippie se herstel

Anice Barnard Kruger en Pippie tydens Pippie se 8ste verjaarsdagpartytjie. Foto: Facebook

Toe Maroela Media in Januarie vanjaar berig het oor hoe dit met Pippie Kruger (8) gaan nadat sy vyf jaar gelede erge brandwonde opgedoen het, het haar ma glad nie geweet dié berig sou tot ʼn keerpunt in Pippie se lang herstelpad lei.

Pippie, toe twee jaar oud, het op Oujaarsaand in 2011 derdegraadse brandwonde oor 80% van haar lyfie opgedoen nadat ʼn bottel vuuraansteekjel tydens ʼn familiebraai ontplof het. Pippie het wonderbaarlik haar kritieke beserings oorleef en Suid-Afrikaners hou sedertdien saam die moedige Pippie se herstel dop.

Pippie moes sedert die ongeluk intensiewe rehabilitasie ondergaan vanweë breinskade as gevolg van vyf hartstilstande en beroertes. In Junie 2012 het Pippie baanbrekerchirurgie in ʼn Johannesburgse hospitaal ondergaan waartydens haar eie gekloonde vel, wat in ʼn laboratorium in Boston gekweek is, op haar wonde oorgeplant is.

Anice Barnard Kruger, Pippie se ma, het in Januarie vanjaar vertel Pippie is steeds afhanklik van ʼn loopraam as sy wil loop, kan nie volsinne praat nie en raak baie vinnig moeg. Dit kan moontlik binnekort, met die regte behandeling, iets van die verlede wees.

“Nadat Maroela Media die berig oor Pippie geplaas het, het ʼn vrou wat dit gelees het my gebel. Sy het my vertel van die Family Hope Centre (FHC) in Amerika en verduidelik haar kleinkind en sy ouers het ʼn program daar gevolg en dit het sy lewe ingrypend verander,” vertel Anice. “Die FHC was juis op pad na Suid-Afrika om hier ʼn kursus te kom aanbied en ek het dit bygewoon.”

Volgens Anice help die sentrum allerlei kinders met verskillende soorte probleme. Deur ʼn wetenskaplike benadering bemagtig die sentrum ouers van kinders met spesiale behoeftes om hul kinders se ontwikkeling te verbeter. Die sentrum lei ouers op om die regte metodes te gebruik om hul kinders se fisiologiese gesondheid, fisieke vermoëns, sensories-motoriese vermoëns, gedrag, begrip en kommunikasie te verbeter.

Pippie Kruger. Foto: Facebook

“Op grond van die kursus wat ek bygewoon het, kon ek reeds begin om van die metodes op Pippie toe te pas. Een daarvan is dat sy nou ʼn ketogene dieet volg en die verbetering is net ongelooflik,” sê Anice. ʼn Ketogene dieet fokus op beperkte koolhidraat- en suikerinname, met verhoogde vetinname.

“Die dieet is vir my nog die grootste wonderwerk van die program tot dusver, omdat dit so ʼn dramatiese verskil maak,” sê Anice. “Pippie het Saterdag toe sy agt jaar oud geword het ʼn klein stukkie koek by haar partytjie geëet en jy kon onmiddellik die verskil sien. Haar ogies het so ʼn bietjie skeef getrek en haar lyfie se spasmas was erger. Toe sy Sondag weer terug is op haar dieet, was sy dadelik weer beter.”

Ná Anice die drie dag lange kursus bygewoon het, kon sy reeds met ʼn algemene program begin, maar Pippie moet ʼn twee dag lange evaluasie by die sentrum ondergaan voordat daar ʼn program saamgestel kan word wat spesifiek op haar behoeftes gegrond is. Omdat dit nie moontlik was om die evaluasie te doen tydens die sentrumbesoek aan Suid-Afrika nie, vlieg Pippie en Anice Donderdag na Philadelphia in die Amerikaanse staat Pennsilvanië waar die evaluasie gedoen sal word.

Volgens Anice sal hulle dan terugkeer, toegerus met ʼn spesifieke program om Pippie se ontwikkeling en vermoëns te verbeter. “Hierdie program leer basies die ouer om self sy kind se fisioterapeut, arbeidsterapeut en spraakterapeut te wees. Hulle plaas nie ʼn etiket om enige kind se nek nie en werk volgens elke kind se individuele vermoëns en uitdagings. Die program behels omtrent vyf uur oefening per dag met Pippie soos motoriese oefeninge, asemhalingsoefeninge en ander maniere om haar brein te stimuleer. Ek glo dit gaan ʼn keerpunt vir Pippie wees en dat sy ongelooflik baie deur hierdie program gaan verbeter. Ek is so opgewonde, dit gaan baie moeilik wees om hierdie laaste paar daggies te wag totdat ons op die vliegtuig kan klim!”

Lees die vorige berigte oor Pippie op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Foto ·

Wat ‘n pragtige foto van haar. ‘n Glimlag diep uit haar wese. Sterkte vorentoe.

MCS ·

So paar weke terug het ons Anice en Pippie by die Amerikaanse Ambesade gesien . Pippie het wonderbaarlik herstel. Anice het langs my kom sit en ek wou so graag met haar praat, maar ek was so na aan trane toe ek Pippie sien. Die oomblik was net tegroot vir my en ek het geweet ek gaan my naam met n plank slaan en in trane uitbars. Ongelukkig moes ons toe daar weg vir nog fotos, maar ek het met hul gekontak en hul voorspoed toegewens met n reis en Pippie se behandeling.

apie ·

Wel gedaan aan die gesin, hoop dit gaan net al die pad beter. Die Ketogene dieet klink voorwaar interessant. ek dink mens kan gerus meer daaroor lees

Elzabe Meintjes ·

Dieselfde soos ‘Banting’. No/low carb and no sugar.

Jaco ·

Baie, baie sterkte aan Pippie en ma Anice. Wat ‘n wonderlike voorbeeld van ‘n ma se liefde en deursettingsvermoë. Mag daar vrede en sin in hulle lewens wees.

Pieter ·

@Jaco ek het die voorreg gehad om Anice te kon ontmoet en glo my dis ware woorde wat jy se ek was skoon verstom deur daardie Ma se liefde en deursettingsvermoe met Pippie ek haal regtig my hoed vir haar af!!!!

Mariette Hammann ·

Baie sterkte en voorspoed aan Pippie en haar ma.

Susan ·

So so so bly om te hoor. Alle voorspoed vir julle. Mag al jul gebede beantwoord word. ???

Catryn ·

Wat ‘n pragtige gesiggie, sjoe mens kan dit amper nie glo hoe sy herstel het nie; dis wonderlik – sterkte aan haar en familie en mag sy 100% volkome genees en binnekort die wêreld vol hardloop.

Sandra Fullerton ·

Hoe wonderlik dat Pippie se gesin so hard gewerk het om haar te kry om so na aan ‘n normale lewe te laat leef. Sy is pragtig! Wens hulle al die beste op die pad voorentoe. So bly om te sien die ketogene (Banting) dieet wat Prof Tim Noakes voorstaan so vir haar help.

Mrs.B ·

Wat ‘n pragtige klein pop. Sterkte en julle bly in ons gebede.

Daleen ·

Sterkte julle. Hoop, Glo en Vertrou.. ons dien n Almagtige Vader.. en Pippie is absolute voorbeeld van Sy oneindige Liefde en Genade vir Sy kinders.. Maroela , hou ons asb op hoogte x

Ricky Baling ·

Wat n wonderlike mamma staan sterk vrou. Hoop alles gaan goed met julle. Sy is n pragtige pop

Elisabeth Teir ·

Wonderlik. Anice is jou gesin nie gelukkig om jou in hul midde te hê nie. Van dag een het julle beheer geneem en begin werk met oplossings.

Alida ·

Baie dankie vir hierdie berig, Maroela. Hou ons asseblief op hoogte van klein Pippie se vordering. Vriende van ons wie se seuntjie epileptiese aanvalle gekry het wat nie met medikasie onder beheer gebring kon word nie, het ook so ‘n sentrum in die VSA besoek (dalk dieselfde een?) en sy epilepsie is onder beheer vandat hy op die ketogene dieet is.

broos ·

hierdie kleine mensie is sekerlik een van ons grootste inspirasies! kan net in verwondering staan met dit wat sy alreeds vermag het, en daai mamma (en pappa) moet ‘n massiewe groot medalje ontvang want dit kan baie beslis nie ‘n maklike pad gewees het nie. mag al julle drome waar word!

Rika ·

Dis wonderlikke nuus daar is hoop vir ons engel dogtertjie ook! Sy is nou 5 loop en praat nog nie! Sal haar ook so bitter graag vir dit wil vat om haar lewe bietjie maklikker te kan maak.

My Opinie ·

Liewe Pippie, ek ken jou nie, maar ek sal jou storie altyd onthou en jou vordering altyd volg. My dogtertjie was 4 maande oud en het ook brandwonde in n ongeluk op gedoen n paar maande voor jou. Sterkte my liefie, daar is baie mense in wie se hartjie jy in gekruip het en wie vir jou bid xxx

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.