Kei spog met nuwe kakebeen

Kei ná haar operasies. (Foto: Verskaf)

Kei, die tweejarige Malinois-kruising wat haar eienaars se lewe gered het toe gewapende rowers by hul huis in Benoni ingebreek het, se operasie aan haar kakebeen was suksesvol.

Kei moes die afgelope twee maande drie operasies ondergaan nadat ʼn koeël haar op haar snoet getref het toe sy op 3 Oktober rowers in haar eienaars se huis bestorm het. Kei se kakebeen het weens dié skoot verbrokkel en sy moes rekonstruktiewe chirurgie ondergaan.

Die dapper brak is intussen ’n tweede kans op die lewe gegee nadat sy met ’n titaniumplaat toegerus is. Dit is maar die tweede operasie van sy soort in Suid-Afrika. Sy sterk tans tuis aan.

“Toe ons Kei vir die eerste keer ontmoet het, het sy ’n groot defek in haar tong en linkerkant van haar onderkaak gehad waar die koeël deurgegaan het,” vertel die troeteldierversekeraar, dotsure.co.za. wat Kei se mediese onkoste dek.

Dié defek was ongeveer 2 cm en haar groot kiestand is weens die skoot vernietig. Kei se kakebeen was gevolglik onstabiel en het na links afgewyk.

Prof. Gerhard Steenkamp by die Onderstepoort Veterinêre Akademiese Hospitaal het tydens ’n eerste operasie Kei se tong geheg en fragmente van die oorblywende kakebeen verwyder.

’n Klein gedeelte van Kei se kakebeen het egter uitgehaak weens die beweging in die deel van haar kakebeen wat nie ondersteunde was nie en Steenkamp moes weer op Kei opereer om dit reg te stel.

Kei ná haar operasies. (Foto: Verskaf)

’n CT-skandering is eindelik sewe weke later gedoen sodat ’n nuwe plaat vir Kei ontwikkel kon word. Dié titaniumplaat is met ʼn 3D-drukker by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (CUT) in Bloemfontein gedruk voordat ’n derde operasie op Kei uitgevoer en sy daarmee toegerus is.

’n Verligte Sarah Lamont sê dit gaan intussen goed met haar troeteldier.

“Kei is opgeruimd en aan die herstel. Woorde kan nie beskryf hoe ongelooflik genesend dit vir ons gesin was nie en ons is uiteindelik in staat om vorentoe te beweeg en hierdie verskriklike beproewing te oorkom,” sê Sarah.

Maroela Media het vroeër berig Sarah, haar man Warren en hul gesin was vas aan die slaap toe die rowers begin Oktober by hul huis in Lakefield ingebreek het.

Die rowers het op die vlug geslaan, maar nie voordat hulle ’n paar skote op Kei en die gesin se yorkshireterriër, Holly, afgevuur het nie. Holly het nie die twee rowerkoeëls wat haar getref het, oorleef nie.

Die rekonstruktiewe chirurgie aan Kei se kakebeen is maar die tweede van sy soort om op ’n troeteldier uitgevoer te word.

Die eerste operasie was om nog ’n hond, Harold, se lewe te red. Harold het jare lank mishandeling en verwaarlosing deur sy eienaar verduur en kon weens ’n gebreekte kakebeen glad nie eet nie.

Die spesialis prostodontis prof. Cules van den Heever van die UP het saam met CUT in Bloemfontein ’n titaniumplaat vir Harold ontwikkel en gedruk. Harold sterk intussen ook goed aan, sê dotsure.co.za se bedryfshoof, David Roache.

“Ons is verheug om deel te wees van die uitrol van innovasie op hierdie vlak en bly daartoe verbind om die weg te baan vir diere in nood soos Kei,” sê Roache.

  • Kei se eienaars het hul opregte dank aan die versekeraar uitgespreek wat Kei se mediese onkoste, haar rekonstruktiewe chirurgie en ook enige bykomende behandelingskoste ten volle sal betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Swerwer ·

Dit is wonderlike nuus! So bly en dankbaar vir Kei se onthalwe.

Sandra ·

Dotsure do so voort. So bly om te hoor dat dit goed gaan met Kei en dat haar mense nou op die herstelpad kan wees.

Sê maar net ·

Pragtige dier. So bly hy kon gehelp word. Dankie aan hierdie wonderlike veeartse. Nou bid ons vir volkome genesing van emosionele letsels vir die familie ook.

Ny ·

Mag Kei se lewe die beste wees en al die liefde ontvang wat sy hart begeer omdat hy sy eienaars beskerm het!

Di ·

So bly hulle kon iets vir Kei doen, hoop sy word sommer gou gesond!

Feite ·

Al my troeteldiere is deur Dotsure mediese fonds gedek. Briljante maatskappy met vriendelike en “on the ball” personeel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.