Kelly Bain-moord: Lewenslank vir reeksoortreder wat jong ma vermoor

Kelly Bain is in 2018 vermoor terwyl sy tuis met kraamverlof was. (Foto: Facebook)

Die man wat Kelly Bain, ʼn jong ma van Port Elizabeth, sowat twee jaar gelede in haar huis doodgesteek het, is Donderdag lewenslange tronkstraf vir die moord opgelê.

Sizwe Jika (28) het die huis wat Bain met haar verloofde, Christopher Bonus, gedeel het, op 25 Julie 2018 binnegekom. Bain was in daardie stadium met kraamverlof en tuis saam met haar een maand oue baba.

Jika het Bain oorrompel en verskeie kere gesteek voordat hy haar verloofring van haar vinger afgehaal en verder deur die huis na items gesoek het. Terwyl hy hiermee besig was, het Bonus vir middagete tuisgekom en Jika daar verras.

ʼn Struweling het tussen die twee ontstaan en Jika het gevlug, het kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, gesê. Bain het in die huis gesterf.

Haar moordenaar dien reeds tronkstraf uit vir verskeie ander voorvalle, waaronder nóg ʼn moord.

“Jika dien tans ʼn vonnis van 20 jaar uit vir die moord op Anne Smit (86) in haar huis in Kammapark in Mei 2018. Hy dien ook 16 jaar tronkstraf uit vir ses huisbraakvoorvalle wat tussen Januarie 2011 en Julie 2018 in die metrogebied gepleeg is. Hy is in Junie vir Smit se moord en die huisbrake gevonnis,” het Naidu gesê.

Volgens Naidu is Jika onder meer ook tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir gewapende roof, vyf jaar tronkstraf vir diefstal en een jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ammunisie.

Sy vonnisse word gelyklopend saam met die lewenslange vonnis uitgedien.

Kelly Bain en Christopher Bonus kort na hul verlowing. (Foto: Facebook)

Volgens Naidu moet Jika nog in die hof verskyn in verband met die moord op die 83-jarige Anne Ferreira, wat in Mei 2018 in haar huis in Summerstrand vermoor is. Ferreira is verwurg.

Die polisie het AO Rudolf Baxter, verbonde aan die speur-triotaakspan, vir sy ondersoekwerk in die sake geloof. Lt.genl. Liziwe Ntshinga, polisiehoof in die Oos-Kaap, het ook die vonnisse verwelkom en Baxter asook die Nasionale Vervolgingsgesag daarmee gelukgewens.

“Dit is duidelik dat die beskuldigde geen respek vir menselewens het nie, om nie eens te praat van aanvalle op weerlose vroue nie. Om sulke gruwelmisdade binne ʼn kwessie van drie maande te pleeg dui op ʼn gebrek aan gevoel en wys hy is ʼn hartelose en gewetenlose misdadiger,” het Ntshinga gesê.

“Die skuldigbevindings is te danke aan verskeie departemente wat saamwerk om behoorlike vervolging te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

lollapot ·

Ek wonder net . . . hoekom was hy so lank vry? dat hy nog moorde kon pleeg? dalk ook van die wat vrygelaat was omdat die tronke vol is. LUIS!

Andre ·

Met ons strooi stelsel is hy seker op parool binne die volgende 7 jaar.

Adam Adriaan ·

So het die moordenaar gekry wat hy gesoek het. Gratis verblyf, gratis medies, gratis kos, gratis alles. Hy hoef nou nie meer te roof en te moor nie, totdat hy op parool uitgelaat word om weer die proses te herhaal.

ES ·

So ‘n boosagtige verskoning vir ‘n mens moet permanent uit die samelewing verwyder word.

Inkpot ·

NOU HOEKOM WAS HY NIE IN DIE TRONK VIR AL SY MISDADE TOE HY HAAR VERMOOR HET NIE????

Yvonne ·

Leseres….wil ek ook weet…..eis teen die regering etc…..

Adri ·

Die enkele woordjie “gelyklopend” kanseller al die gelukwensings en bedankings. Hy is sommer een van die dae weer vry!

Kerneels ·

Ek is seker dom, maar ek kon nog nooit die logika agter die “gelyklopend” verstaan nie.

Cornelius ·

Hoekom neem dit die polisie so lank om n reek moordenaar op te spoor en te arresteer?

Niklaas ·

Is daar ‘n rede waarom hierdie moordenaar se foto nie gepubliseer word nie asof hy beskerm moet word? Arme Christopher moet nou alleen ouer wees. Voel so jammer vir hom

Flip ·

Ek stem saam Niklaas. Moordenaar se identiteit word beskerm, maar gebruik die k woord en jou foto word oral gepubliseer

Sarel ·

1. Die man het soveel vonisse teen hom en tog was hy op strast..HOEKOM?
2. Sy vonnis sal asneenlopend uitgedien word. Wat beteken dit… hoeverl jare effektief voor hy weer op straat is.
Lewenslank behoort nie 20 – 25 jr met parool na 15 te wees nie. So persoon moet effektief LEWENSLANK vonniscuitdien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.