Kempton-inwoners omgekrap oor kragonderbreking

(Argieffoto: Mazhar Zandsalimi/Unsplash)

Inwoners van Kempton Park, Gauteng, is raadop ná hulle sedert Vrydag sonder krag sit weens ʼn fout aan die kragnetwerk. Dit is die tweede keer vandeesmaand dat die krag vir dae aaneen af is.

Volgens Jean Kriek, VF Plus-raadslid in die Ekurhuleni-metroraad, kan die kragonderbreking toegeskryf word aan die fout aan die 66KV-netwerk tussen Spartan en Van Riebeeckpark.

Woonbuurte wat geraak word, is Norkempark, Birchleigh, Glen Marais, Allen Grove, Aston Manor, Kempton Park x4, dele van Pomona, Nimrodpark, Bonaeropark, Kempton Park-Wes, Birch Acres, Van Riebeeckpark, Edleen en Terenure.

“Die metroraad werk onverpoos om die netwerk te herstel en ʼn kabelverbinding word vanaf Kaapstad ingevlieg om die probleem op te los,” sê Kriek.

“Die inwoners is omgekrap omdat hulle kos moes weggooi en inderhaas kragopwekkers moes leen of aankoop om noodsaaklike krag te voorsien.”

Maroela Media het vroeër berig die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Kempton Park het sowat twee weke gelede ʼn groot terugslag beleef toe hy medisyne en entstof ter waarde van duisende rande moes weggooi weens ʼn vier dae lange kragonderbreking.

Die onderbreking volg ná een van die drie transformators van die Ekurhuleni-metro se hoofkragtoevoerlyne die gees gegee het. Dit volg nadat een reeds begin Desember onklaar geraak het en die kragverbinding ʼn maand lank op slegs twee werkende transformators moes funksioneer.

“Die nalatenskap van die ANC-regering in die metro skep wesenlike probleme vir die nuwe koalisieregering wat feitlik permanent met infrastruktuurprobleme worstel en inwoners gefrustreerd laat.

“Die Ekurhuleni-metroraad is ondanks die reuse-uitdagings om dringende herstelwerk aan die kragnetwerk te doen wel in die proses om die verouderde netwerk op te knap wat die voormalige ANC-regering in die metro nooit behoorlik onderhou het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Frikkels ·

Ongelukkig is dit so dat die anc geen onderhoud aan infrastruktuur gedoen het nie, maar daar is darem ñ klein liggie aan die einde van die tonnel. Met die koalisie regering wat tans daar regeer, glo ek dat dit net ñ kwessie van tyd is voordat dinge na normaal terug sal keer. Inwoners moet maar probeer geduldig wees al is dit hoe moeilik. Rome is immers nie in een dag gebou nie en die aftakeling wat daar plaasgevind het was die gevolg van jare se wanbestuur en korrupsie.

Keelvol ·

Ek bly in Kempton Park. Kan nou al vir sê dat die DA raadslede ook netso n groot aandeel in die agteruit gang hier het as die anc. Die da raaadslede het nie n vinger gelig om ons by te staan nie. So was dit ook in 2019 met die krag onderbreking gewees.

Hannes ·

Hibberdene in KZN is al 17 uur sonder krag en nog langer sonder water ALWEER!!!!! Die goed is pateties!!!!!

AmY ·

Ek woon in Kemptonpark, en ons deel het darem krag.
Woensdag en Saterdag was ons vir paar ure sonder krag gewees.
Verlede week het ons vir drie dae nie ‘n druppel water in ons krane gehad nie.
Woensdag was ons sonder krag én water gewees.

Christine ·

Sabotasie is aan die orde van die dag sedert die verkiesing. Die ANC het gewaarsku as die verkiesing voortgaan en nie uitgestel word nie, gaan hulle met sabotasie van krag en water toevoer begin. Dis nie net in Kempton Park nie, maar vele areas rondom Johannesburg en Pretoria. Johannesburg Water en Eskom kan nie voorbly met talle daaglikse sabotasie van kragkabels en waterpype nie. Hulle weet doodeenvoudig nie waar die terroriste volgende gaan toeslaan nie. Ons het ‘n yslike probleem op hande.

Nico ·

ESKOM het ontslae geraak van al die geskoolde arbeid en ingeniuers en die ongeskoolde mense aan gestel, nou moet ons sit met die gemors.

Ontnugterde senior ·

Dit is die munisipaliteit wat nie die nodige kundigheid het nie. Munisipale kragvoorsiening het niks met Eskom te doen nie. Ek weet. Ek het 33 jaar vir Eskom gewerk by verskillende kragstasies.

Keelvol ·

Ek woon in Kempton Park. Die da raadslede hier is net so skuldig vir die agteruit gang van Kempton Park is die anc burgermeester. In 2019 was ons vir 5 dae sonder krag. Die da raadslede het ons toe ook nie by gestaan nie. En met hierdie onderbreking is dit duidelik dat gaan noodplan intussen opgestel was nie. Die da raadslede is regtig min gepla hier. Kom jy in Edenvale is dit n heel ander storie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.