Die polisie het die naam bekendgemaak van die 29-jarige vrou van Kempton Park wie se liggaam Maandag met verskeie steekwonde in haar huis aangetref is.
Kapt. Jethro Mtshali, woordvoerder van die polisie, het die vrou as Priska Schalk geïdentifiseer.
Maroela Media het vroeër berig die polisie is Maandag omstreeks 22:10 na die huis in Commissionerstraat ontbied, waar hulle Schalk se liggaam in haar slaapkamer aangetref het. Sy het veelvuldige steekwonde aan haar bolyf gehad en haar hande was geboei. Van die skerp voorwerpe waarmee sy gesteek is, was glo steeds in haar liggaam.
Mtshali het gesê Schalk is vermoedelik deur haar 28-jarige kêrel, wat as ʼn veiligheidswag werk, vermoor. “Ons kan nie in dié stadium sy naam bekendmaak nie, aangesien ons steeds na hom op soek is,” het hy gesê.
Schalk se kêrel het glo by ʼn skool in die omgewing gewerk.