Ken jy die Afrikaanse Taalmonument?

(Foto: Verskaf)

Die Afrikaanse Taalmonument se naam is vandag onder skoot omdat die taal wat dit verteenwoordig in die huidige politieke klimaat vir sekere mense of groepe aanstoot gee. Tog vertel die agtergrond en simboliek van dié monument juis ʼn verhaal van diversiteit, inklusiwiteit en samehorigheid.

Hoekom ʼn monument vir ʼn taal?

Afrikaans is een van die jongste volwaardige tale in die wêreld en het hier, in Suid-Afrika, ontwikkel. Dít is wat dit uniek maak en wat ʼn monument ter viering en bevordering daarvan regverdig. Die Afrikaanse Taalmonument en -museum herdenk die vestiging van ʼn nuwe taal uit ʼn verskeidenheid van ander tale.

Die oprigting van die Afrikaanse Taalmonument teen die hange van Paarlberg was die resultaat van ʼn grootse poging wat oor baie jare gestrek het.

Die gedagte om ʼn monument vir die Afrikaanse taal in die Paarl op te rig, is reeds op 14 Augustus 1942 geopper ten tye van ʼn seremonie by die Daljosafat-kerkhof buite die Paarl. Die geleentheid was die onthulling van ʼn gedenkplaat ter ere van SJ du Toit, DF du Toit en PJ Malherbe, drie lede van die Genootskap vir Regte Afrikaners, wat daar begrawe lê. Dit het gelei tot ʼn openbare vergadering in die Paarlse stadsaal op 26 September 1942, waar die Afrikaanse Taalmonumentkomitee (ATMK) onder groot belangstelling in die lewe geroep is.

Die doel van die komitee was om geld in te samel vir die oprigting van ʼn “waardige taalmonument in die Paarl” en vir beurse aan verdienstelike gevorderde studente wat hulle spesiaal op ʼn intensiewe studie van die Afrikaanse taal wil toelê. Daar is entoesiasties weggespring, en ʼn sogenaamde Oproep is opgestel om die saak onder die aandag van die hele Suid-Afrika te bring. Hierdie Oproep het wye mediadekking geniet. Die geldinsamelings was egter aanvanklik nie so suksesvol soos gehoop is nie, en meer as drie dekades sou verloop voordat die monument uiteindelik ʼn werklikheid geword het.

Die Afrikaanse Taal- en Kultuurbond (ATKB) – sedert 1991 opgeneem in die ATKV – was vanaf 1963 intensief by die werksaamhede betrokke en het mettertyd op eie koste al die administratiewe en sekretariële pligte oorgeneem. Die organisasie het ʼn groot rol by geldinsameling gespeel en self ook ʼn bedrag geskenk.

Hoewel die geld teen ʼn trae tempo bekom is, is die komitee nie daardeur ontmoedig nie. Daar is uiteindelik in 1964 ʼn kompetisie vir die ontwerp van die monument uitgeskryf en 12 argitekte is genooi om daaraan deel te neem. Volgens die opdrag moes die monument van ver af sigbaar wees en onder meer die kulturele en staatkundige opbloei van Afrikaans uitbeeld.

Die ontwerp van die argitek Jan van Wijk is meer as ʼn jaar later, ná vele oponthoude en probleme, as wenner aangewys.

Hoe beeld mens ʼn taal uit?

(Foto: Afrikaanse Taalmonument en -museum/Facebook)

Een van Van Wijk se belangrikste ontwerpbeginsels was dat die monument by die natuurlike terrein moes inskakel en dit moes aanvul. Die volgende stap was om ʼn beeld van Afrikaans te soek. In die proses om ʼn konkrete vorm vir die taal te vind, het hy gevra: “Hoe lyk ʼn taal? […] Jy kan baie werkwoorde aan ʼn taal verbind – jy kan hom lees, skryf, praat, sing, leer, doseer, in hom dink, in hom bid, hom selfs liefhê of haat – maar jy kan hom nie sien nie. […] Ek soek ʼn beeld. Waar gaan ek een haal? […]: uit woorde.”

Van Wijk het aanklank gevind by die woorde van twee groot Afrikaanse skrywers, wat uiteindelik die uiterlike vorm van dié monument geïnspireer het. Die bekende skrywer CJ Langenhoven het Afrikaans as ʼn snelstygende boog beskryf, en Van Wijk het ʼn wiskundige hiperbool in daardie beeld herken. So is die idee van die groot suil van die monument gebore.

Van Wijk het egter besef dat die beeld nie slegs ʼn uiterlike vorm kon wees nie, maar dat daar ook definisie aan die vorm moes wees. Om hierdie definisie visueel uit te druk, het Van Wijk die woorde van die skrywer NP van Wyk Louw gebruik, wat Afrikaans beskryf het as die taal wat Wes-Europa en Afrika soos ʼn brug verbind. Louw het Afrikaans ook beskryf as ʼn “glansende werktuig” en ʼn “tweesnydende swaard”. Al hierdie gedagtes het die monument in Van Wijk se geestesoog laat vorm aanneem en uiteindelik in die ontwerp neerslag gevind.

ʼn Monument verrys

(Foto: Verskaf)

ʼn Stuk grond van 100 morg (ongeveer 85 ha) op Paarlberg is in 1964 kosteloos deur die Paarlse Stadsraad aan die staat oorgedra vir die uitsluitlike gebruik van die Monumentkomitee.

Die monument is met ʼn betonmengsel gebou, wat in ʼn voorafvervaardigde bekistingstruktuur gegiet is. Die bekisting het uit vertikale metaalstutte met horisontale, geboë pype bestaan, wat met skeepslaaghout uitgevoer is. Elke horisontale pyp is op die terrein volgens sy spesifieke boog gebuig. Waar die kurwes aan die bokante van die suile te klein geword het vir die pype, is bekistingvorms uit hout vanaf skaalmodelle gemaak. ʼn Model van die hoofsuil is op Stellenbosch deur die WNNR in ʼn windtonnel getoets, waar bevind is dat dit ʼn windsterkte van tot 160 km per uur sou kon weerstaan.

Die betonmengsel waarmee die monument gebou is, het bestaan uit sement, wit sand en Paarl-graniet. Aangesien die argitek die kleur van die rotse op die terrein wou naboots, het hy aangedring op die gebruik van die buitenste grysbruin lae van die graniet sáám met die binneste blouerige gedeelte. Die tekstuur van die rotse op die terrein is nageboots deur die gladde sementoppervlak met spesiale lugdrukbore te verwyder om die granietklippies in die mengsel bloot te lê.

Die algehele oprigtingskoste van die monument en amfiteater het uiteindelik R1 061 411,45 beloop. Vandag sou dit sowat R100 tot R120 miljoen gekos het, skat bouers. Dit is gefinansier uit die bydraes wat deur die jare uit die gemeenskap ingesamel is, aangevul deur ʼn ruim bydrae van die destydse regering.

Diverse invloede vind simbolies gestalte

(Foto: Verskaf)

Staan jy voor die Afrikaanse Taalmonument, is daar talle ontwerpelemente wat tot Afrikaans se storie bydra. Links van die aantrede tot die monument staan drie suile wat die Wes-Europese tale en kulture verteenwoordig wat in Afrikaans neerslag gevind het – Nederlands, Frans, Duits, Portugees en ander. Nie een van die suile verteenwoordig ʼn spesifieke taal nie; die getal drie is gebruik omdat dit ondeelbaar is. Die suile begin as aparte strukture wat dan in ʼn stygende kurwe saamsmelt om deel van die hooflyn van die monument te vorm. Die hoogste een van die drie is ongeveer 13,5 m.

Regs van die aantrede is ʼn podium wat die suidpunt van Afrika verteenwoordig. Op die podium is daar drie koepels, wat die invloed van die inheemse Afrikatale op Afrikaans simboliseer. Hierdie strukture is ook só geplaas dat hulle ʼn kurwe vorm wat by die hooflyn aansluit en weer eens is die ondeelbare getal drie gebruik. Waar die twee kurwes van Wes-Europa en Afrika bymekaarkom, word ʼn brug gevorm, wat die versmelting van die twee kontinente se tale versinnebeeld.

Die invloed van die Maleise taal en kultuur word deur ʼn muur op die trapaantrede van die monument voorgestel. Die muur is só tussen die kurwes van Wes-Europa en Afrika geplaas dat dit apart staan, maar tog ʼn eenheid vorm met hierdie twee kragte, wat saamsmelt om die brug te vorm wat dan simbolies die basis van Afrikaans uitbeeld.

Die hoofsuil van die monument stel die snelstygende boog van Afrikaans en sy versnellende groei (Langenhoven se hiperbool) voor. Die suil staan in ʼn poel water wat die gedagte verder versterk van Afrikaans as ʼn lewende, groeiende entiteit, wat lewensonderhoud nodig het vir sy voortbestaan. Die skerp lyne van die suil verbeeld die tweesnydende swaard soos deur Van Wyk Louw beskryf. Die suil is ongeveer 57 m hoog en dit eindig oop en stomp om aan te dui dat die groeiproses nog steeds voortgaan.

Die ligspel wat binne die brug plaasvind as gevolg van die waterpoel, saam met die perforasies in die hoofsuil, versinnebeeld die taal as glansende werktuig. Saam met die hoofsuil staan daar nog ʼn suil in die poel. Dit is die republieksuil wat Suid-Afrika, die land waarin die taal gevorm is, uitbeeld. Die pilaar staan los van Afrikaans en het op sigself niks met Afrikaans te make nie, maar met die geheel. Die pilaar is oop na Afrika om aan te dui dat interaksie tussen Suid-Afrika, Afrika en Afrikaans voortdurend plaasvind.

Wat hou die toekoms in?

(Foto: Verskaf)

Kenners meen dat monumente die visuele konkretisering van sekere idees, ideale, waardes en ideologiese geloofsisteme is. As sodanig is dit altyd onderhewig aan subjektiewe kritiek.

In die aanloop tot ʼn monument se oprigting asook daarna heers daar nie slegs wrywing oor die boodskap wat die monument moet oordra nie, maar ook oor die wyse waarop die boodskap oorgedra moet word. Die Afrikaanse Taalmonument was – en is – geen uitsondering nie.

Te midde van vrae oor en openlike aanvalle teen sy naam en bestaan, werk die Afrikaanse Taalmonument doelgerig daaraan om hom te herposisioneer as ʼn kulturele eerder as politieke ikoon. Dit word veral gedoen deur die aanbied van ʼn wye verskeidenheid van geleenthede wat diverse besoekers lok, soos musiekkonserte, skryfkursusse, poësie-uitstallings, piekniekgeleenthede, boekbekendstellings en wedlope. Die uitstallings in die museum is ook al langer as ʼn dekade gelede vernuwe met die oog op ʼn meer inklusiewe hervertelling van die taal in al sy fasette.

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument slaag daarin om binne die een entiteit die taal simbolies te vier, maar ook prakties te ondersteun en bevorder. Dit is ʼn monument vir almal – gister, vandag en hopelik ook môre.

Die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hettie ·

Vergewe asseblief my onkunde. Verstaan ek dit reg dat die monument met skenkings van die publiek opgerig is. Het die destydse regering enige finansiele bydrae gemaak? Hoe is die grond bekom waar dit opgerig is? Ek probeer verstaan wie eienaarskap van die monument kan opeis.

B-Man ·

Wat van die rotse wat uit die berg verwyder is tydens die konstruksie en na die RAU gestuur is, waar dit (hopelik) nog op die grasperk staan voor die studentesentrum?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.