Kenner oor verwagtinge vir Zim-verkiesing

zimbabwe

Argieffoto.

Die wêreld se aandag sal Maandag weer eens gevestig wees op hoe sake vandag noord van die Beitbrug-grenspos verloop.

Zimbabwiërs stem tans in die eerste verkiesing nadat Robert Mugabe verlede jaar as president uit die kussings gelig is tydens ʼn nie-amptelike staatsgreep. Die verkiesing vind ook plaas te midde van ʼn wolk oor beweerde bedrog met stembriewe en daar is ʼn moontlikheid dat die uitslag van die verkiesing in die nabye toekoms betwis kan word.

Plaaslik word daar ook Maandag ʼn uitspraak verwag in die Suid-Gautengse hooggeregshof in Johannesburg rakende die verlening van diplomatieke immuniteit aan Grace Mugabe, voormalige presidentsvrou van Zimbabwe.

Indien die verlening van diplomatieke immuniteit tersyde gestel word, sal dit die weg baan vir die instel van strafregtelike vervolgingstappe teen Grace nadat sy glo verlede jaar vir Gabrielle Engels, ʼn Johannesburgse model, met ʼn elektriese verlengingskoord aangeval het.

emmerson mnangagwa 02

Emmerson Mnangagwa (Foto: ANA)

Die gunstelinge in die verkiesing

Die voorlopers in die verkiesing is pres. Emmerson Mnangagwa, ʼn voormalige bondgenoot van Mugabe in die regerende Zanu-PF, en die opposisieleier Nelson Chamisa, wat die leisels van die Movement for Democratic Change (MDC) oorgeneem het nadat Morgan Tsvangirai op 14 Februarie aan kanker dood is.

Chamisa (40), wat goed vertoon het vooraf met die steunwerwingsveldtogte, hoop om ʼn jong bevolking in te span om vir verandering te stem.

Mnangagwa (75) het ʼn nuwe begin vir die land belowe en tot dusver alles in sy vermoë gedoen om te toon dat hy wegbeweeg het van die foute wat oudpres. Mugabe gemaak het ten spyte van sy bande met die Zanu-PF-elite. Hy is tans die voorloper met die voordeel van militêre steun, ʼn lojale staatsmedia en ʼn regerende party wat staatshulpbronne beheer.

Zimbabwe se eerste demokratiese verkiesing is in 1980 deur die Zanu-PF met Mugabe ingestel nadat die land onafhanklik geword het van Britse koloniale heerskappy.

Verkiesings onder Mugabe is later gekenmerk deur bedrog en dodelike geweld. Tydens hierdie jaar se verkiesingsveldtog wou gerugte ook maar net nie gaan lê dat daar met die uitslag geknoei sal word nie, al was die stemwerwing relatief vreedsaam tot dusver.

Mugabe (94), wat in November deur die weermag verdryf is, het in ʼn verrassende ingryping op die vooraand van die verkiesing gevra dat kiesers eerder nie vir die Zanu-PF-party moet stem nie.

Zimbabwe sal egter teen die einde van hierdie week eers weet of dit enige impak gehad het en wie die leisels as die leier van die land amptelik sal oorneem.

ʼn Onlangse Afrobarometer-meningspeiling wat met sowat 2 400 mense gedoen is, het getoon Mnangagwa was op 40% die gunsteling om die verkiesing te wen, terwyl Chamisa 37% ontvang het en 20% onbeslis was.

640px-Zimbabwe

Zimbabwiese vlag Foto: Neelix, Wikimedia Commons.

Kenner sê oor Zim-verkiesing

Prof. Theo Neethling, ʼn politieke ontleder aan die Universiteit van die Vrystaat, meen hierdie is ʼn uiters belangrike verkiesing vir Suid-Afrika se buurland en daar is baie op die spel.

“Die twee grootste partye het albei nuwe leiers wat ʼn nuwe politieke klimaat skep ná die verwydering van Mugabe as president. Die leiers van Zanu-PF en die MDC-alliansie as die twee grootste partye, onderskeidelik pres. Mnangagwa en die jeugdige Nelson Chamisa, sal dit ook uitspook in die presidensiële verkiesing en sake beweeg dus weg van die verlede waar Mugabe die politieke toneel in die land oorheers en sake telkens in sy guns geswaai en beklink het. Optimisme is dus geregverdig.”

Neethling glo ook daar bestaan ʼn moontlikheid dat dit die eerste verkiesing in dié land kan wees waar nie een party ʼn volstrekte meerderheid kan behaal nie.

“Met Mugabe uit die weg, was daar in die afgelope tyd duidelike spanning in die Zanu-PF tussen veral die Generasie40-groep, wat Grace Mugabe tot onlangs ondersteun het, aan die een kant en die Lacoste-groepering, wat Mnangagwa ondersteun het. Terselfdertyd was die MDC-alliansie ook nie sonder interne spanning en verdelings nie.

“Volgens meningspeilings wat deur Afrobarometer uitgevoer is, is Zanu-PF net ʼn kortkop voor die MDC-alliansie en het laasgenoemde in die jongste verlede ingehaal op Zanu-PF. Die peilings dui daarop dat die MDC-alliansie in die stedelike areas die botoon gaan voer – soos in die verlede – met Zanu-PF wat in die platteland sterk steun geniet.

“Wat ook in gedagte gehou moet word, is dat daar baie ander partye aan die verkiesing gaan deelneem en daar is ʼn sterk moontlikheid dat nie een van die twee groot partye ʼn volstrekte meerderheid gaan behaal nie. Dit kan die deur oopmaak vir koalisievorming.”

Neethling sê wat verder interessant is, is dat die internet en sosiale media vir die eerste keer ʼn betekenisvolle rol in die verkiesing sal speel teen die agtergrond dat ongeveer die helfte van die Zimbabwiese bevolking nou toegang tot die internet het. Hy glo dit kan die MDC-alliansie se kanse op sukses in die verkiesing bevorder.

ʼn Kans op ekonomiese ommeswaai

“Die eerste uitdaging is dat buitelandse waarnemers en regerings die verkiesing as grootliks vry en regverdig sal moet bestempel. Dit sal die vertrekpunt moet wees vir ʼn beter toekoms,” sê Neethling.

Hy waarsku egter dat sommige waarnemers reeds skepties is dat dit nie die geval sal wees nie.

“Wat Mnangagwa betref, het hy dit duidelik gestel dat Zimbabwe nou ‘oop vir besigheid’ is en beleggings terug na die land wil lok. Dit kan ʼn verbetering in die ekonomie van Zimbabwe teweegbring maar die ekonomie is oor soveel jare afgerem dat dit lank sal neem om die land weer op die paadjie van ekonomiese voorspoed te plaas.”

Neethling sê indien Mnangagwa ernstig is oor ʼn nuwe toekoms vir Zimbabwe en beleggers uit die buiteland wil trek, veral uit die Westerse wêreld, sal hy sy beloftes moet hou.

“Dit is, sou hy die presidensiële verkiesing wen. Op die oog af lyk en klink hy ernstig, maar ʼn mens sal moet sien hoe sake gaan uitspeel. Indien die MDC-alliansie goed vaar, kan dit ook ʼn invloed op toekomstige besluitneming hê.

“Die moontlikheid van alliansievorming kan ʼn ander faktor wees wat ʼn rol kan speel in hoe sake verloop.”

Zimbabwe bly optimisties oor dié verkiesing

Intussen bly Zimbabwiërs hoopvol dat dié verkiesing wat Maandagoggend afgeskop het, die verandering kan bring waarna die land reeds vir solank smag.

Selfs iemand soos Rusty Labuschagne, wat 10 jaar in een van die land se berugste tronke spandeer het vir ʼn moord wat hy nie gepleeg het nie, het verlede week aan Maroela Media gesê hy is optimisties oor die verkiesing.

Labuschagne, is deesdae ʼn motiveringspreker wat sy aangrypende verhaal van vergifnis met gehore oor die hele Suid-Afrika deel. Hy het ook ʼn boek Breaking Chains, oor sy ervaringe geskryf.

Hy glo Mnangagwa is eintlik maar die enigste persoon wat Zimbabwe nou kan lei.

“Hy geniet die ondersteuning van die weermag en ek dink nie die weermag sal ʼn oorwinning van die opposisie aanvaar nie. Boonop het Mnangagwa baie gedoen om homself van Mugabe te onderskei en het uitgereik na al die groepe in die land.

“Ek dink hy wil bewys hy is anders en gereed om die regering se foute agter hulle te plaas. Net die feit dat hy so openlik oor sy planne vir Zimbabwe se toekoms praat, is reeds is stap in die regte rigting.

“Ek dink elke Zimbabwiër is moeg vir die onrus en wil eintlik maar net hê Zimbabwe moet nou ʼn suksesvolle land wees,” sê Labuschagne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hanna Hoekom ·

Hoop die miljoene ongenooides gaan nou huis toe. Vir goed. Seker maar net wensdenkery…

Marius ·

Daar is baie geleerdes wat hier werk van Zim wie gaan nou die werk doen as die wit persoon nie dit mag doen oor ons vel kleur.

@ Marius ·

Hoekom moet julle mense altyd die MINDERHEID gaan uitsoek en daarop ‘n argument baseer? Hoeveel GELEERDE Zimbabwiers is in SA en hoeveel sit hier SONDER WERK?? Komaan, kom ons werk op syfers, nie op aannames nie.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Oud Rhodie

Baie dankie dat jy die fout aan ons uitgewys het. Die berig is gewysig en die regte datum vertoon nou.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.