Kenner sê oor kleuterskole as skole dalk weer sluit

(Foto: Gautam Arora/pixabay)

Terwyl ouers, onderwysers, vakbonde, kenners en die regering stoei oor of skole te midde van die Covid-19-pandemie en die stygende infeksie- en sterftekoers weer gesluit moet word, is daar nou ook al hoe meer vrae oor hoe kleuterskole in só ʼn geval geraak gaan word.

Solidariteit se beroepsgilde vir maatskaplike werkers en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het die hof vroeër genader vir ʼn bevel oor die heropening van kleuterskole nadat die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, geen datum daaroor bekend gemaak het nie.

Regter Hans Fabricius het in sy uitspraak beslis kleuterskole en dagsorgsentrums kan dadelik oopmaak mits hulle die nodige veiligheidsmaatreëls getref het.

Kleuterskole en dagsorgsentrums wat by die departement van onderwys geregistreer is, is toegelaat om vroeër saam met laer- en hoërskole ingevolge die departement se terugkeerskedule te heropen.

Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit, het gesê die regter se uitspraak oor die heropening van kleuterskole was egter “duidelik en ondubbelsinnig”.

“Indien daar dus ʼn regulasie of direktief is dat skole weer moet toemaak, gaan dit nie ʼn uitwerking hê op die kleuterskole wat onder die departement van maatskaplike ontwikkeling val nie. ʼn Minister het nie die magte of bevoegdheid om ʼn hofbevel eensydig tersyde te stel en haar eie besluit daaroor te neem nie,” het Van der Bijl gesê.

Hy sê indien die departement van maatskaplike ontwikkeling besluit dat kleuterskole weer moet sluit, sal hy eers die hof daaroor moet nader en die bevel sal omgekeer moet word.

“Die praktiese uitwerking is dat kleuterskole so ver moontlik moet voldoen aan beleid en dit so veilig as moontlik vir kinders, onderwysers en personeel moet maak en die kleuterskool dan kan oopmaak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Mariana

Ek sou dink dat dieselfde vir skole ook moet geld, maar skole wat by regulasies hou hoef nie te sluit, tensy daar wel toename van covid is. Konsentreer op skole waar die regulasies nie toegepas is of word nie. Laat die res aangaan en kyk hoe hulle hul leerders kan onderrig. Ons kinders moet vorentoe beweeg en intussen kan die regering ook nou besluit om maar die afsonderings en uitsonderings te lig. Tyd vir lewe om aan te beweeg.

babbelblapsie

Ek moet voltyds werk. Wat word van my kind? Moet ek dan ook nou by die huis gaan sit en geldjies trek by UIF (want SASSA mag ek mos nie) en dan maar na my eie kind kyk?

Magda

Nee wat geen salf hier te smeer nie

marius

In ‘n geordende samelewing wat beheer word deur ‘n geordende regering sal daar gehoor gegee word aan geordende hofbevele . Jammer om teleur te stel ……