Kenner waarsku malaria maak terugkeer in SA

Malaria word deur muskiete oorgedra. Argieffoto

Malaria het nog lank nie sy laaste asem in Suid-Afrika uitgeblaas nie.

Só waarsku Netcare-reisklinieke en Medicross op die vooraand van die somerreënseisoen in die noorde van die land, waar besoekers voorsorg moet tref om hulle te skerm teen dié gevaarlike siekte wat deur muskiete oorgedra word.

“Ongelukkig het ons nog lank nie die einde van malaria in Suid-Afrika gesien nie; trouens, dit maak ʼn terugkeer,” sê dr. Peter Vincent van Netcare-reisklinieke en Medicross Tokai. “In die afgelope jaar is ʼn aantal gevalle aangemeld in gebiede waar ons gemeen het dis uitgewis, soos die distrik Waterberg in die noordooste van die Limpopo-provinsie.”

Hy sê die somerreënseisoen in die noordelike dele van Suid-Afrika word vereenselwig met ʼn toename in die aantal malariadraende muskiete en ʼn aansienlik groter risiko om die siekte in die endemiese gebiede van Suider-Afrika op te doen. “Die grootste risiko is van September tot Mei, wat as Suid-Afrika se ‘malariaseisoen’ beskou word.”

Vincent waarsku mense wat malaria opdoen, kan ernstige komplikasies kry, veral as dit nie vroeg reeds geïdentifiseer en behandel word nie. Daarom raai Netcare se reisklinieke besoekers aan om hul huiswerk te doen voor hulle gebiede besoek waar malaria kan voorkom.

Dis veral belangrik, sê hy, omdat die Nasionale Instituut van Oordraagbare Siektes onlangs voorgestel het dat die malariarisikogebiede in Suid-Afrika uitgebrei word – die eerste keer die afgelope vyf jaar.

“Maak seker jy weet waar dié gebiede is en verstaan watter voorsorgmaatreëls jy voor jou besoek moet tref,” sê Vincent. “Malaria hou ʼn gevaar in in die noordelike dele van Limpopo, die oostelike dele van Mpumalanga en die noorde van KwaZulu-Natal, asook sekere dele van buurlande soos Mosambiek, Botswana en Namibië.”

Hy sê as enige besoekers aan ʼn malariagebied binne ses maande ná die besoek griepsimptome ervaar, moet hy of sy dadelik ʼn bloedtoets laat doen. “Dit is uiters belangrik aangesien malaria dikwels verkeerdelik as griep gediagnoseer word en dit ernstige, soms dodelike, gevolge kan inhou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

nastassia ·

as ek mag waarmee mag ons die muskiet aankeer soos smeer room of spuit muskiet weg.

Ivan Atterbury ·

Op skool het ek geleer dat die wyfie Anopheles muskiet altyd 45 grade skuins sit. Julle foto toon 180??

Ellisras ·

In die Staat hospitaal in Ellisras is daar altyd malaria pasiënte. En volgens die kaarte is ons buite die malaria gebied. Gelukkig weet die Dr’s dat die n malaria gebied is.

Wilmarie ·

Jy is reg. Hier was al n hele paar malaria-gevalle! Maak mens bang.

humor ·

Onbeheerde instroming vanaf ander Afrika lande. is ook n faktor. Selfs in Noorwee het malaria sy kop uitgesteek. vermoedelik deur n passasier in vliegtuig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.