Kenner waarsku oor nuwe SAID-bepaling

Argieffoto

Herman Viviers, medeprofessor van rekenkundige wetenskappe in Noordwes, het belastingbetalers gemaan om, in die lig van ʼn aankondiging deur die SAID, versigtig te wees en nie te versuim om hul gewone belastingopgawes in te dien nie.

Maroela Media het vroeër berig Edward Kieswetter, die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het gesê Suid-Afrikaners wat minder as R500 000 per jaar verdien hoef nie ʼn persoonlik belastingopgawe (ITR12) in te vul nie, mits hulle geen ander inkomste het nie.

“Dit is ʼn groot verhoging [van die nuwe belastingdrumpel],” het Viviers gesê. “Mense moet versigtig wees en nie net versuim om hul gewone belastingopgawes in te dien nie, omdat daar altyd ʼn moontlikheid is dat jy ʼn terugbetaling kan ontvang weens bykomende belastingaftrekkings en/of belastingkrediete wat slegs beskikbaar is deur assessering.”

Volgens hom is die grootste rede dat SAID die belastingdrumpel verhoog het, is dat dit die administratiewe las van die SAID verlig om belastingopgawes te verwerk vir die laer inkomste-groep. “Hoe minder opgawes, hoe minder administratiewe werk vir hulle,” het hy verduidelik.

Die SAID het ook gesê belastingbetalers, wat nie vereis word om vanjaar hul belastingopgawes in te dien nie, sluit diegene in wat inkomste slegs van een werknemer ontvang, diegene wat nie ʼn ander inkomste ontvang nie (soos ʼn motortoelaag, besigheidsinkomste, belasbare inkomste en huurinkomste), en diegene wat nie ander bykomende aftrekkings het soos mediese uitgawes, uittredingannuïteitsbydraes en reisuitgawes nie.

Persone ouer as 65 met groot mediese uitgawes wat nie van hul mediese skemas teruggeëis kan word nie, moet dit ook op hul belastingopgawes verklaar om in aanmerking te kom vir die bykomende medieseuitgawesbelastingkrediet wat geëis mag word.

Viviers het gesê alhoewel individue dalk minder as R500 000 per jaar verdien, moet hulle uittredingsannuïteitsbydraes en toelaes in berekening bring, omdat dit gewoonlik tot bykomende aftrekkings kan lei wat geëis mag word en moontlik ʼn terugbetaling beteken.

“Dit hou ook dieselfde administratiewe voordele in vir die belastingbetaler. Maar, soos ek gesê het, mense moet versigtig wees. Evalueer jou belastingposisie en alhoewel dit dalk aanloklik klink om nie jou opgawe in te dien nie, moet jy bepaal of jy in aanmerking kom vir aftrekkings en belastingkrediete,” het hy bygevoeg.

Viviers het gesê indien ʼn individu onseker is, kan jy by ʼn geregistreerde belastingpraktisyn aanklop, omdat ʼn versuim om jou belastingopgawe indien, tot boetes kan lei.

Kieswetter het Dinsdag aangekondig dat elektroniese indiening van belastingopgawes van 1 Julie af kan plaasvind, en indiening van opgawes by SAID-kantore van 1 Augustus af. Die spertyd vir elektroniese indiening is 4 Desember en die indiening van opgawes by SAID-kantore kan tot 31 Oktober plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Wielspore ·

My vrou se salaris val onder die bedrag vir belasting opgawe se indiening, by dit kry sy ‘n klein bedrag per maand van ‘n opbetaalde persioen. Twee jaar terug kry sy ‘n boete omdat sy nie die klein inkomste verklaar het nie. Die boete was R16000 wat sy in 3 maande moes betaal, haar salaris van drie maande is so min dat sy dit nie kon betaal. Geld gaan leen en SARS betaal. Nou word die R150 pm pensioen geld by haar inkomste gereken, ons het ‘n raadgewer gaan sien en ‘n pensioen plan uitgeneem. Nou kry my vrou korting vir pensioen bydra, in totaal betaal sy nou belasting per maand. Sien gerus ‘n goeie raadgewer oor jou finansies.

Andreas ·

Hoekom verbind ek die drempel ook met mense wie se kinders vir vry universeiteitsopleiding kwalifiseer?

Hansie Slim ·

Meer as een inkomste..al is dit ‘n bietjie rente…vul ‘n opgawe in. Op eFiling kry jy baie vinnig terugvoer!!

Dries du Toit ·

Sars het n uitbetaling van my aniuteit gevat 3.5 jaar gelede omdat ek hulle n bedrag geskuld het van 10% van die bedrag wat sanlam my uitbetaal het. Hulle het belowe hulle betaal die oorblywende 90% terug binne 10 dae. Dit is nou 3,5 jaar gelede. Ek wil graag uitvind of ek hulle kan rente vra op die blatante diefstal

@Bollabek ·

Die wet bepaal nou dat ALLE polisse of aniuteite/pensioene eers by SARS ‘n draai moet maak. So vat SARS nou enige gelde wat volgens hulle rekords deur jou aan hulle geskuld word. Gaan na jou naaste SARS branch (ek het) en toe kon ek ‘n dispuut aanteken. Dit is ‘n moeilike prosedure en ek wag nou nog vir die uitslag.

TLC ·

Sien nes ek julle gesê het
Dien jou opgawe in
Daar is hopeloos te veel werknemers wat nikswerd mrt grootsyfer salarisse kry vir niks doen nie

Gert van Wierdapark ·

Anders gestel: Hoeveel verdien jy, hoeveel het jy oor? STUUR DIT vir ons by SARS! Dis nog steeds die wet van Transvaal!

Mog-het-troffe ·

Wil net weet of die R500 000 perk jou bruto inkomste voor aftrekkings soos pensioenfondsbydraes is en of dit jou belasbare inkomste na aftrekkings is.

Belastingpraktisyn ·

Besoldiging. Dus bruto verdienste van werkgewer voor aftrekkings.

Martha de Waal ·

Moet jy nog steeds Rente verdien verklaar. Pensionaris dien elke jaar opgawe in, net oor Rente verdien?

Belastingpraktisyn ·

As jou rente verdien meer is as R34 500 vir persone van 65 en ouer, moet jy ‘n opgawe indien.

Ouma ·

Ek betaal n hospitaalplan vir my 82jr moeder wat net net SASSA kry. Ek betaal ook medikasie van R500.00 pm van haar wat die staat nie voorsien nie. Kan ek dit ook iewers op my opgawe eis?
Ek het al SARS amptenare gevra maar se voltooi die aanslag ons sal terugkom na jou as dit verkeerd is.

Richard ·

Jy kan beslis. Ek eis al jare mediese uitgawes aangaande my ma. Sy is ook op ‘n SASSA toelaag. Ek betaal haar medies vol, betaal ook alle bybetalings. Sorg net dat jy alle bewyse het van jou betalings, want SARS (soos met my) sal jou meer dikwels oudit.
As jy e-filing doen, en jou dokument laai, sal jy sien daar is ‘n opsie (by die vraelys aan die begin) vir “mediese uitgawes vir ‘n ander persoon wat afhanklik van jou is” Wanneer jy op dit “ja” klik, sal jou opgawe dit as ‘n ekstra bladsy voeg, waar jy al die detail kan invul.

Annette ·

Plaas hulle die rente wat mens mag verdien opstoot, daar word altyd gesê jy moet spaar maar wat help dit as jy jou spaargeld se rente vir sars moet gee as oor n seker bedrag. Stoot bedrag om rente nie te verklaar op na R500 000 dit is beter. Ek verloor liewer rente as om dit vir die regering te gee om in hulle sakke te druk.

Belastingptaktisyn ·

Nasionale Tesourie het reeds aangedui dat die rentevrystelling nooit weer opgestoot gaan word nie. Dit word vervang met die belastingvrye spaarrekeninge.

Sê maar net ·

En aan die einde van die “belasting seisoen” moet ons hoor hoe die SAID WEER kort geval het van hulle teiken bedrag. Die verskil tussen R350 000 en R500 000 is astronomies.

Antoinette ·

Ek ken bitter min mense wat R500,000 per jaar verdien. Dis meer as R40,000 per maand. Ek moet nog elke jaar inbetaal ook op my pensioen-inkomste wat nie eers die helfte daarvan is nie. Sal maar liewer ‘n opgawe indien. Vertrou of verstaan nie hierdie storie so heeltemal nie . Of dalk het ek net ‘n baie skeptiese baie erge senior oomblik.

vra net ·

My salaris plus die ekstra werk wat ek na ure doen se totaal is nie R500 000, so hoekom moet ek dan nog steeds indien. Betaal die afgelope paar jaar groot bedrae in nadat my opgawe in gedien is. Dis belaglik

Belastingpraktisyn ·

Jy moet juis indien omdat jou onderskeie bronne nie van mekaar weet nie en dus waarskynlik te min belasting afgetrek het.

Onthou: belastingskale is progressief, hoe meer jy verdien, hoe hoêr is jou koers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.