Kenners bekyk sukses, toekoms van Afrikaanse onderwys

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash / Barry Zhou)

“Hou Afrikaanse openbare skole vir so lank as moontlik vol en Afrikaans, en fokus op die gehalte van onderrig, want as ons goed is, sal Lesufi dit nie waag om ons aan te vat nie.”

Dit was dr. Theuns Eloff, verbonde aan die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO), se boodskap in sy voorlegging oor groter selfstandigheid vir Afrikaanse onderwys.

Eloff het Dinsdag by die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se onderwyskongres die huidige landskap van die Afrikaanse onderwys in openbare en onafhanklike skole kortliks uiteengesit.

Hy het ʼn somber prentjie geskets en gesê dat die stand van Afrikaanse onderwys grootliks deur die ANC se toedoen is. Bo en behalwe dat die openbare onderwysstelsel grootliks misluk het, is die ANC nou desperaat op soek na sondebokke vir hulle eie foute van die verlede.

Maar dit ter syde gelaat, is daar volgens Eloff talle moontlikhede om groter selfstandigheid te verkry en te behou.

“Daar is verskeie netwerke wat gereed staan om te help, en reeds help, soos die SOS, die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) en die MOS-inisiatief. Dit is belangrik om nie onder moeilike omstandighede moed op te gee nie. Hou vas aan jou geloof en behou perspektief.”

Die eerste dag van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se tiende nasionale onderwyskongres, wat Dinsdag in Gauteng afgeskop het, het sterk gefokus op die omstrede Bela-konsepwet, maar talle kenners het ook ander aktuele onderwerpe in die onderwys aangepak.

Dit sluit in die sukses en moontlikhede vir groter selfstandigheid van Afrikaanse skole, voordele van ʼn unieke Afrikaanse aanbod, eise wat aan moderne leiers gestel word, en SOS se vernuwende onderrig- en leermodel.

Melanie Buys is die hoof van ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS). (Foto: Verskaf.)

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die SOS, het tydens ʼn paneelgesprek oor die beweegruimte binne die huidige regsraamwerk, onder meer gesê dat Afrikaanse skole steeds uitstekend vaar, ondanks druk deur die staat om te transformeer.

“Die sukses van Afrikaanse skole word deur drie goed bepaal: goeie en verantwoordelike bestuur, gemeenskap- en ouerbetrokkenheid en versigtige finansiële beplanning.

“Die ondersteuning van die gemeenskap en ouers moenie gering geskat, of as vanselfsprekend aanvaar word nie.”

Adv. Albert Lamey, kampvegter vir Afrikaans, wat saam met Buys aan die paneelgesprek deelgeneem het, het later ook die krag van betrokkenheid deur die groter gemeenskap benadruk.

Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, het onderwyskorps toegespreek oor die voordele van ʼn unieke Afrikaanse aanbod.

“Vrae waarmee die meeste ouers deesdae worstel, is watter voordele moedertaalonderrig inhou en waarom dit nodig is om vir Afrikaanse onderrig te veg.

“Ons sien keer op keer dat mense wat in hulle moedertaal skoolgegaan en studeer het, groot sukses behaal. Die argument dat Afrikaans nie ʼn bestaansreg het nie, dra dus geen water nie.”

Volgens Bailey kring die invloed van moedertaalonderrig uit na die breër gemeenskap: Mense wat in hulle moedertaal studeer het, studeer langer en behaal meer sukses in hulle loopbaan. Wanneer hierdie persone hulle eie onderneming of organisasie op die been bring, word meer werkgeleenthede geskep en dit strek tot voordeel van die gemeenskap.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, was die hoofspreker en het die program afgesluit met ʼn aanbieding oor die eise wat aan moderne leiers gestel word.

“Die staat was nog altyd deel van ons lewens en ons het dikwels na die staat gekyk vir ʼn antwoord. Ons toekoms is anderkant die staat. Nie sonder die staat nie, maar tog staatsbestand.

“Daar is bevryding in die gedagte dat jou toekoms meer in jou eie hande is. Dit maak energie los en bou ʼn tegniese kollege, universiteit, veiligheidstrukture, ʼn mediahuis, maatskaplike infrastruktuur en meer. Dit is die krag van ‘ons sal self’.”

Die SOS se onderwyskongres duur nog tot Donderdag by die Accolades Boutique Venue in Midrand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hendrik ·

Kan nog nie uitmaak dat blood die taal wat jy praat van jou n rassis maak nie. Waneer wil hul besluit dat ons ons velkeur moet verander want dit maak van ons rassiste. Wat ons moet besef is dat ons Afrikaanssprekendes self verantwoordelik is vir die toekoms van ons Afrikaanse taal. Te veel neem ek waar dat daar geen liefde en respek vir ons taal is nie.

Gerrie ·

Dit sal nooit erken en geopenbaar word nie, maar Lesufi se groot dryfkrag is vir my bo alle twyfel geleë in die veel hoër standaard wat by Afrikaanse skole gehandhaaf word, beide akademies en bestuur. Tipies van sy politieke kultuur, kan hy nie daadwerklike verbetering van bestaande skole onder sy sorg meebring nie en val dus terug op hul normale vat…vat…vat!

Jack ·

Dis slegs ouers wat n positiewe verskil kan maak. Geen minister kan dit afdwing nie en sal net weerstand ervaar.

christo ·

Moedertaalonderrig is van uiterste belang, want ‘n kind wat homself kan uitdruk in sy moedertaal, sal dit ook in ‘n tweede taal soos Engels. Daar is duidelike bewys dat kinders wat van graad R in Engels onderrig word en nie in hul huistaal nie, se redenasie vermoë beperk is , veral in die staatskole met klasse van 50+ leerders.
Om in Afrikaans deur ‘n Afrikaanse onderwysers onderrig te word is ‘n reg en ‘n voorreg. ‘n Afrikaanse leerder het die vermoë om ook homself in Engels uit te druk en te leer, a.g.v. ‘n behoorlike verwysingsraamwerk in Afrikaans. Meeste Afrikaanse studente kan ook in Engels studeer, of met Engelse studie materiaal.
Die grootste uitdaging is waar daar skole is waar die getal Afrikaanse leerders so afgeneem het, dat daar soveel klaskamers leeg staan, wat dan onvermydelik deur anderstalige leerders gevul word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.