Kenners bespreek transformasie en ideologie in grondwethof

transformasie-grondwethof-john-kane-berman

John Kane-Berman, beleidsgenoot en voormalige uitvoerende hoof van die SAIVR, was die sleutelwoordspreker by die konferensie oor transformasie en die grondwethof wat Maandag deur die burgerregte-organisasie, AfriForum, by die Royal Elephant-hotel in Centurion aangebied is. Foto: Reint Dykema.

Kenners wat aan ʼn konferensie oor transformasie en die konstitusionele hof deelgeneem het, het aangevoer daar is tans weinig skeiding tussen die ideologie van die ANC en die regbank en dat al die regte soos verskans in die Grondwet dus nie noodwendig gewaarborg is nie.

John Kane-Berman, beleidsgenoot en voormalige uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIVR), was die sleutelwoordspreker by die geleentheid wat Maandag deur die burgerregte-organisasie, AfriForum, by die Royal Elephant-hotel in Centurion aangebied is.

Prof. Koos Malan van die departement publiekreg aan die Universiteit van Pretoria, dr. Theuns Eloff, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting, adv. Gretha Engelbrecht en Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, was deel van die kenners wat aan die paneelgesprek oor die tema deelgeneem het.

Kane-Berman het ʼn ontleding van onlangse uitsprake van die konstitusionele hof gedoen waarin dié hof beslis het oor sake soos regstellende aksie, eiendomsreg, onderwys, kultuurregte en taalregte.

“Transformasie is al deur die konstitusionele hof as ʼn ‘grondwetlike imperatief’ beskryf, ondanks die feit dat die woord transformasie nie in die Grondwet voorkom nie,” het Kane-Berman gesê.

Hy het ook aangevoer dié hof is besig om die regering se foute na te volg deur rassetransformasie as die oorheersende noodsaaklikheid van die Grondwet te beskou.

“Dit is moeilik om in hierdie stadium te bepaal tot watter mate regstellende aksie vir die disfunksionaliteit van die openbare sektor verantwoordelik is. Ek glo militante en gewelddadige vakbonde het ook ʼn groot rol in die verswakking van dienslewering in die sektor te speel en so ook die afwesigheid van enige optrede teen onbevoegdheid en oneerlikheid.

“Dit is egter makliker om korrupsie en ‘staatskaping’ te blameer vir die probleme in die openbare sektor as om te erken kaderontplooiing en die slaafse navolging van rassedemografie het ʼn rol in dié verval te speel.

“Kaderontplooiing is na alles ʼn amptelike beleid van die ANC en aanstellings volgens die land se rassedemografie word deur die konstitusionele hof onderskryf.

“Verder kan ʼn mens as ʼn rassis uitgekryt word indien jy regstellende aksie kritiseer.”

transformasie-grondwethof-prof-koos-malan-02

Prof. Koos Malan van die departement publiekreg aan die Universiteit van Pretoria het ook aangevoer dié hof is besig om die regering se foute na te volg deur rassetransformasie as die oorheersende noodsaaklikheid van die Grondwet te beskou. Foto: Reint Dykema.

Malan het sy kommer uitgespreek oor die neiging van regters in die konstitusionele hof om hulle uitsprake te begin deur die geskiedenis van Suid-Afrika te bespreek. “Dit kom, ten spyte van die feit, dat die regters nie historici is nie en nie regtelike kennis moet neem van sulke kwessies sonder kundige bewyse nie.”

Hy het aangevoer dat die dominante ideologie van die regerende elite van Suid-Afrika een is van transformasie.

“In dié hof se uitspraak oor die Universiteit van die Vrystaat se taalbeleid, was dit duidelik dat die konstitusionele hof artikels in die Grondwet ignoreer wat voorsiening maak vir taalregte.

“Dié hof ignoreer ook toenemend internasionale wette oor minderheidsregte en taalregte.”

Malan het verder gesê dit het vir hom voorgekom asof die konstitusionele hof die universiteitsraad se bewerings as feite aanvaar het sonder om dit toets.

“Dit was as’t ware of die studente gestraf moet word omdat hulle Afrikaanse onderrig wil hê. As dit enigsins waar is dat Afrikaanse onderrig segregasie veroorsaak het, is dit die universiteitsraad se skuld en kan die studente nie van hul regte om in Afrikaans onderrig te ontvang, ontsê word nie.”

Hy glo die bewyse is oorweldigend dat die konstitusionele hof transformasie tot ʼn soort ideologie verhef het en dit spruit nie net uit hofuitsprake nie, maar ook uit die aanstellings van hoofregters, artikels oor die saak en ander uitsprake van regters.

“Dit is natuurlik ontstellende nuus, maar dit is nodig vir ons om die feite hieroor te hoor sodat ons iets hieraan kan doen. Ek glo nie daar is enige sprake van die skeiding van magte as dit by die regbank kom nie en regte is nie gewaarborg nie.

“Alhoewel daar net een grondwetlike teks is, is daar eintlik soveel grondwette as wat daar grondwetlike interpretatiewe gemeenskappe is. Dit kom daarop neer dat die begrip van die Grondwet eintlik ʼn saak van interpretasie is.”

Malan het bygevoeg dat die enigste manier om die demokrasie lewendig te hou te midde van die kwynende onafhanklikheid van die regbank, ʼn aktiewe en aktivistiese burgerlike samelewing is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Loeis ·

Die regbank is uit sy funksie “transformed”, en die skeiding van magte gekompromeer. Ernst Roets het die spyker op die kop geslaan toe hy gesê het dat daar persone is wie dronk is op ideologie.

Maar dan is daar ander persone wie ook deel is van die probleem. Persone wie op sulke “wigte en teenwigte” wou steun, en wie se kleinserigheid vir kritiek dadelik deurkom wanneer hulle sê dat dit holrug gery is wanneer mens sê dat hulle Ja stem in 1992 regstreeks tot hierdie gemors bygedra het. Die waarheid maak seer né.

Loeis ·

Christi van der Westhuizen is maar nog een van ‘n aantal akademici wie regtig niks tot die gesprek bydra nie. Dis maar dieselfde polities-korrekte, selfveragtende retoriek oor en oor.

Bertus ·

Loeis, ek het ‘n idee sy het dit als op ‘n Excel-blad gestoor. En as die geleentheid hom voordoen ‘copy en paste’ sy dit net.

Jerry ·

Om te reken dat jy die demokrasie lewend kan hou met n aktiewe en aktivistiese burgerlike samelewing terwyl die onafhanklikheid van die regbank kwyn is absurd en grens aan absolute wensdenkery. Dit is geen oplossing nie. Die onafhanklikheid van die regbank is dan besig om te kwyn midde van n aktiewe en n aktivistiese burgerlike samelewing! Sonder n onafhanklike regbank kan die ANC wetgewing aanhou deurvoer wat n aktiewe en aktivistiese burgerlike samelewing se aktivistiese aktiwiteite erg inperk en onderdruk! Die enigste lewensvatbare oplossing is juis om die onafhanklikheid van die regbank te Virseker. Indien die grondwet nie die onafhanklikheid van die regbank langer kan waarborg nie, dan word dit n lewensgevaarlike bedreiging vir die aktiewe en aktivistiese burgerlike samelewing en is die Afrikaner as n minderheidsgroep Virseker in groot moeilikheid. Dalk, net dalk moet die kenners eerder versoening sterk begin oorweeg omrede die opsies en oplossings wat die kenners voorhou nie lewensvatbaar is nie en Virseker die potensiaal het om saam met die onafhanklikheid van die regbank te kwyn!

JoeV ·

Transformasie is die hele probleem, jy begin met skoenlapper en eindig met ‘n wurm, wat de hel man, is dit klomp kinders die.
As jy die koek nie groter maak nie, met ander woorde, jy transformeer niks, jy skep nuut, dan is daar ‘n kans, transformeer, het jy dieselfde koek, net in baie meer baie kleiner snye, hoe onossel is die lot?

Jerry ·

Paul, wat het die student se storie te doen met die kenners se bespreking of my kommentaar. Laat ek jou se, absoluut zero, silts en nul. Jy is heeltemal die pad byster soverre dit die spesifieke onderwerp betref. Lewer tog asb vir n slag sinvolle kommentaar en hou op om jou te verbeel dat ek liberaal is en al was ek moet nie laat dit jou ontspoor nie! Die kenners het nie langtermyn oplossings vir ons probleme nie, dit is tog duidellik uit my kommentaar. As jy n beter langtermyn oplossing het sit dit asb met motivering op die tafel dan maak jy ook n sinvolle bydrae. Die student se siening is n onderwerp wat bespreking regverdig wanneer MM dit plaas!

Paul ·

Jerry, die dame se skrywe gee perspektief van wat jy gedurig oor versoening predik, soos ook hier bo in jou kommentaar, dit is hoekom ek dit geplaas het, dit hoef nie iets met die grondwethof uit te waaie hê nie, dit gaan oor die realiteit soos wat sy dit uit spel in die beloop van die daaglikse lewe wat jy in jou kommentare mis. Lees weer wat sy skryf.

Gwen ·

Dr. Eloff is ’n kundige op die gebied van transformasie. Eers het hy gehelp om die land weg te gee (hy roem hom daarop dat hy ’n Dakarganger is) wat nou in sy peetjie getransformeer is, en toe het hy die PUK in sy kanon laat transformeer.

Jerry ·

Paul, hoe gaan ons ooit oplossings vind deur net een perspektief aan te haal wat ruiterlik erken dat sy nie die diversiteit van verskillende kulture verstaan nie. Kennis van verskillende perspektiewe is juis die kruks, want dit is daar waar die antwoorde vir die vraagstukke van ons tyd skuil! Die muntstuk van diversiteit het twee kante. Aan die een kant het jy die wit Suid Afrikaners met regse, konserwatiewe en liberale perspektiewe. Aan die anderkant van die muntstuk het jy swart Suid Afrikaners met kommunistiese, sosialistiese en Pan Afrikanistiese perspektiewe. Wanneer jy oplossings soek, soek jy dit oor die bree spektrum van al die diverse perspektiewe. Die student praat van verdraagsaamheid, maar toon geen begrip dat verdraagsaamheid opgesluit le in gesprekvoering, verstaan van alle perspektiewe en akkommodering van alle perspektiewe. Wanneer jy in n diverse samelewing jouself isoleer deur slegs verdraagsaam te wees teenoor jou eie perspektief en heimlik in ontkenning te lewe van ander se perspektiewe, selfs ook perspektiewe wat verskil aan jou kant van die muntstuk, dan is daar nie hoop op verdraagsame langtermyn lewensvatbare oplossings nie. Wat jy wel kry, is onrealistiese beloftes wat as n geel wortel voorgehou word soos in die geval van n eie grondgebied en volkstaat. Wanneer hierdie belofte nie realiseer nie dan word alternatiewe soos selfbeskikking voorgehou as kwansuis nou eweskielik die beste alternatief te wees. Een perspektief bied slegs een benadering bv ondermynende weerstand. Verskillende perspektiewe bied verskillende benaderings bv gesprekvoering, versoenende optredes, weerstand ens. Verskillende perspektiewe bied eenvoudig groter insig.

wielie ·

Bespreek bespreek blah blah blah blah ,,,,,,,,,,,,,,,,, en NIKS word gedoen nie want almal luister na hul eie stemme en eet koek en tee !!!

Elred Ferreira ·

Jerry….ek weet jy bedoel goed,maar ek het al daai Ja stem mentaliteit argumente oor en oor gehoor,en dit bring jou ongelukkig nerens in Afrika nie…maar droom gerus voort,drome is goed vir die psige

Jerry ·

Elred, jy bedoel ook goed. Dit is so dat ons vingerafdrukke asook ons perspektiewe verskil, maar dat beide van ons in Afrikaans droom en nie in enige Afrika taal nie. Dit is so dat ek my spore reeds diep getrap het en my drome verwesenlik het in Afrikaans. Dit is so dat jy jou drome in Afrikaans nog nie verwesenlik het nie. Jy droom nog van n eie grondgebied en volkstaat, alhoewel jy deesdae meer en meer begin droom van selfbeskikking as enigste alternatief. Aangesien my droom reeds bewaarheid is, help ek graag waar ek kan om groter insig te voeg by jou perspektief ten einde jou te help om ook jou droom te verwesenlik! Dit is vir my n riem onder die hart om te weet dat jy my kommentaar lees en dat jy ook my onbaatsugtige advies benodig om uiteindelik jou droom te kan verwesenlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.