Kenners gaan getuig oor gesondheid van regter wie se uitsprake sloer

(Argieffoto: X)

Deur Tania Broughton, GroundUp

Die geskorste regter Nomonde Mngqibisa-Thusi, wat moontlik vervolging in die gesig staar oor sy 21 uitsprake laat gelewer het, sal mediese deskundiges as getuies voor die regterlike gedragstribunaal bring.

Dié deskundiges, wat oor Mngqibisa-Thusi se gesondheid gaan getuig, gaan egter eers in Januarie hul getuienis in die vorm van verslae lewer nadat die saak Vrydag uitgestel is.

Die tribunaal, wat gelei word deur Chris Jafta, afgetrede regter van die Konstitusionele Hof, was veronderstel om Vrydag die verhoor met die getuienis van Dunstan Mlambo, regterpresident in Gauteng, af te skop. Mlambo het die klag teen Mngqibisa-Thusi ingedien.

Die getuienisleier, Adrian Mopp, en Mngqibisa-Thusi se regspan, wat haar kollega regter Gcina Malindi en die voormalige nasionale direkteur van openbare vervolging Shaun Abrahams insluit, het uitstel gevra.

Die uitstel is sodat Mngqibisa-Thusi se regspan deskundige mediese verslae bekom om aan Mopp te oorhandig. Mopp gaan dan met Mlambo konsulteer voor hy getuig.

Mopp het aangedui dat hy dalk ook sy eie deskundige getuies sal moet raadpleeg.

Dit was uit Vrydag se verrigtinge duidelik dat Mngqibisa-Thusi nie die “vermelde feite”, dat sy nie haar uitsprake betyds gelewer het, sal betwis nie. Sy sal waarskynlik steun op bewyse dat sy hulp nodig gehad het en dit nie ontvang het nie.

In haar getuienis voor die regterlike gedragstribunaal het die regter verwys na haar persoonlike probleme, wat onder meer insluit dat sy ʼn dwelmverslaafde familielid moet versorg, ʼn besering wat sy aan haar pols en hand opgedoen het, en ʼn buitensporig swaar werklading.

Sy het bygevoeg dat sy uiters depressief is.

Die tribunaal gaan besluit of sy medies ongeskik is om die uitsprake te lewer, erg onbevoeg is of haar aan wangedrag skuldig gemaak het.

Jafta het egter bevraagteken waarom dit nodig is dat regterpresident Mlambo die deskundige mediese verslae moet sien voordat hy getuig, aangesien hy nie self ʼn mediese kenner is nie.

Volgens Mopp is dit moontlik dat die verslae nie strook met dit wat Mlambo, as Mngqibisa-Thusi se kollega, ondervind het nie.

“Sy geleefde ervaring kan anders wees as wat in die verslae aangebied word,” het Mopp gesê.

Afgetrede regter Dennis Davis, wat ook op die paneel dien, het gesê die saak het nie “400 getuies” nodig om afgehandel te word nie.

In sover die uitstel tot einde Januarie, het Davis gesê die regterlike gedragstribunaal word gereeld gekritiseer vir traagheid in die hantering van hierdie soort sake.

“Hoe langer die uitstel, hoe meer is die afleiding dat hierdie sake nooit opgelos word nie.”

Jafta was dit eens dat die publiek dink “ons wil ons eie beskerm deur hierdie verrigtinge te vertraag” – des te meer omdat die klag teen Mngqibisa-Thusi reeds drie jaar gelede ingedien is.

“Wanneer daar geen opsie is as om uit te stel nie, moet ons dit doen, maar ons moet bedag wees op ons verantwoordelikheid om die verrigtinge binne ʼn redelike tyd te begin en af te handel,” het hy bygevoeg.

Die saak is tot die week van 29 Januarie uitgestel.

ʼn Soortgelyke klagte is ook teen regter Tshifhiwa Maumela ingedien en die saak is aan die tribunaal oorhandig.

Hoofregter Raymond Zondo het in Junie vanjaar ʼn skrywe aan alle regterpresidente uitgereik oor die “onaanvaarbare tendens” dat regters in sommige gevalle uitsprake tot vyf jaar voorbehou. Hy het elke regterpresident opdrag gegee om klagtes van wangedrag teen elke dwaalregter by die tribunaal in te dien.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning op Maroela Media gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Carel ·

So het toe te laat gesnap dat ‘n regter nie sy uitsprake of TENDER kan plaas nie & dat BEVOEGDHEID wel ‘n voorvereiste is, om op die regbank te mag dien

Republikein in die Wes Kaap ·

In ‘n ander job kry jy dalk een kans, dan is dit koebaai.

Carl ·

Daar word woer-woer met die siek regstelsel gespeel, as sake deur die Stalingrad verdediging na bykans twintig jaar nog nie verhoor kon word nie. Daar is maar bitter min respek vir die reg as geregtigheid selektief toegepas word en die belastingbetaler selfs moet opdok vir die Kaders se verdediging.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.