Covid-19: Kenners sê oor oorsprong, behandeling en ekonomie

Die paneel: Prof. Anton Stoltz, dr. Anchen Laubscher, Elaine Krige, Daniel du Plessis en dr. Jerrie Bezuidenhout. (Foto: Reint Dykema)

Suid-Afrikaners wat nie ’n mediese fonds het nie, kan daarvan verseker wees dat hulle in goeie hande is sou hulle met die nuwe koronavirus, oftewel Covid-19, gediagnoseer word.

Só meen dr. Anchen Laubscher, groep- mediese direkteur van die hospitaalgroep Netcare. “Daar is uitstekende kundigheid in ons akademiese hospitale om hierdie virustoestand te hanteer,” sê sy. Laubscher was een van ’n paneel kenners met wie Maroela Media Woensdag gesels het om meer oor Covid-19 te wete te kom.

Die departement van gesondheid het 13 staatshospitale aangewys wat geskik is om dié virus te behandel.

Laubscher het egter benadruk dat dié wat kan bekostig om in ’n private hospitaal behandel te word, wel in dié hospitale opgeneem kan word indien hulle positief vir die virus sou toets.

Laubscher verduidelik dat daar gedurende ’n gesprek met die departement van gesondheid ooreengekom is dat pasiënte met private mediese versekering na ’n private hospitaal mag gaan. “Die private sektor is toegerus om pasiënte te ontvang, sou hulle by private hospitale aankom.”

Sy verduidelik dat pasiënte wat simptome van die virus toon, dadelik in ’n staatshospitaal óf private hospitaal in isolasie geplaas word en elke individu dan volgens dié simptome behandel word.

Laubscher verduidelik dat pasiënte in ’n kritieke toestand gewoonlik behandeling soos antibiotika ontvang, sou ’n pasiënt infeksie opdoen. In uiterste gevalle word orgaanondersteuning soos ventilasie en dialise ook toegepas. Sy het egter benadruk dat die koronavirus wel behandelbaar is en dat baie mense reeds van die siekte genees is.

Prof. Anton Stoltz (Foto: Reint Dykema)

Covid-19 en die menslike liggaam

Prof. Anton Stoltz, hoof van infeksiesiektes by die Universiteit van Pretoria se departement van interne geneeskunde, verduidelik dat daar sewe koronavirusse is wat die mens kan infekteer. Vier van die virusse veroorsaak net ’n verkoue. Op die oomblik is 4% van alle virusse koronavirusse. Covid-19 is die siekte wat jy kry van die spesifieke koronavirus wat tans versprei word.

Volgens Stoltz kom die virus die liggaam binne waarna hy aan sekere reseptore in die long bind. Dit veroorsaak ontsteking van die long. Die inflammatoriese proses veroorsaak longontsteking.

Stoltz verduidelik dat nie alle pasiënte egter longontsteking kry nie. Sowat 80% van mense sal slegs matig siek word en net griepverwante simptome toon. Sowat 20% van pasiënte sal sieker word en uit dié persentasie sal slegs 4% kritiek siek word. Dié pasiënte sal gewoonlik in die waakeenheid van ’n hospitaal opgeneem word aangesien hulle gewoonlik nie op hul eie meer kan asemhaal nie.

Stoltz verduidelik dat Covid-19 ook nie juis onder kinders gediagnoseer word nie. “Dit is vreemd genoeg nie ’n siekte wat baie onder kinders voorkom nie.”

Sou ’n volwasse pasiënt die virus opdoen, neem dit gemiddeld vyf dae om simptome te toon. Koors is die algemeenste simptoom wat gepaardgaan met moegheid en hoes. Sommige pasiënte kla ook van ’n seerkeel, diarree en braking. Pasiënte is dán ook gewoonlik die meeste aansteeklik.

Laubscher verduidelik dat goeie hand- en respiratoriese higiëne die belangrikste maatreël is om te verhoed dat ’n persoon Covid-19 opdoen. Die griepinspuiting word ook aanbeveel aangesien dit sal voorkom dat mense die algemene griep kry. Dit kan die verwarring tussen griep en Covid-19 vermy en jou immuunstelsel ʼn hupstoot gee sodat jy nié Covid-19 saam met griep kry nie.

Laubscher raai Suid-Afrikaners ook aan om hul reisplanne te beperk en slegs te reis indien dit absoluut nodig is.

Ekonomiese impak

Daniel du Plessis, beleidsontleder by Sakeliga, maan beleggers om nie paniekerig te raak te midde van die uitbreek van Covid-19 nie, al het die markte ’n aansienlike duik geneem sedert Desember.

Dr. Jerrie Bezuidenhout (Foto: Reint Dykema)

“Dit is baie belangrik om nié paniekerig te raak en jou bates op die ingewing van die oomblik te skuif nie omdat die inherente struktuur van die markte nie noodwendig geaffekteer gaan word nie.” Hy sê die uitbraak raak Suid-Afrikaanse uitvoere na China, veral wat die mynbousektor betref, aangesien China tans minder aanvraag na ons produkte het. “Dit is omdat vervaardiging in China basies tot stilstand gekom het te midde van die Covid-19-uitbreking. Dit benadeel ook die vervaardiging van produkte in Suid-Afrika, aangesien Suid-Afrika onderdele benodig wat vanaf China ingevoer moet word.”

Du Plessis het ook gesê dat die markte nog nie gestabiliseer het nie en dat verbruikers nog veranderinge kan verwag, maar dat dit wel in ’n stadium weer sal begin optel.

Vermy histerie

Dr. Jerrie Bezuidenhout, direkteur van mediese dienste by Vista-kliniek, dink sommige media se dekking van Covid-19 veroorsaak massahisterie oor die virus. Volgens Bezuidenhout sweep mense mekaar ook op wanneer hulle gereeld oor die virus praat en inligting onder mekaar uitruil. “As iemand wat jy ken skielik begin maskers en ontsmettingsmiddels koop, dan voel jy jy moet dit ook doen.”

Hy beveel aan dat mense tydens sosiale geleenthede nié net oor die koronavirus praat nie om histerie te voorkom. Hy beveel ook aan dat mense hulle bekommer oor dít waaroor hulle beheer het.

Stoltz raai die publiek aan om nié vir Covid-19 getoets te word indien hulle geen simptome toon nie, aangesien daar ’n beperkte aantal toetse beskikbaar is.

Laubscher sê op haar beurt dit is ook nie nodig om maskers te dra indien jy nie simptome toon nie, aangesien dit onnodige druk op die vervaardiging van maskers plaas. “Om onverantwoordelik maskers te gebruik is nie in die beste belang van die wêreld op die oomblik nie.”

Kyk hier na die bespreking:

Kenners beantwoord jou vrae oor Covid-19

Daar heers tans wêreldwyd groot onsekerheid oor die nuwe koronavirus (Covid-19). Maroela Media gesels met ʼn paneel kenners om lesers se navrae te beantwoord.

Posted by Maroela Media on Wednesday, March 11, 2020

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Dries ·

Ons land het nie genoeg tronke of skole nie – dis feite. Sou die ding handuit ruk, gaan daar rerig genoeg hospitale (en bevoegde mediese personeel) wees om dit te kan hanteer?

Kaal Keiser ·

I beg to differ… Die kundigheid dalk ja … maar om uit te kom by die kundigheid is ‘n ander saak.

Michael ·

Daardie kundiges het almal top mediese fondse en sal nie naby n staats hospitaal kom nie.

Belinda ·

Baie insiggewend, dit bring beslis ‘n rustigheid, soos Bezuidenhout sê, ons moet mekaar rustig hou, maar elke huis moet seker maak hul het basiese skoonmaak middels (party het nie en hul werk en besoek ons elke dag) soos Lauscher sê, die hande was gaan uiteindelik begin, dit gaan egter ‘n rukkie neem om in te sink en aan te leer, in hierdie opsig gaan ek mense vra om hul hande te disinfect, tussen werkstres wil jy nou nie heeltyd dink o jinne die outjie het aan die papier gevat, was gou weer my hande, nee wat as almal hande met die ingaan was – help dit sommer al klaar baie.

Werner ·

Dis nog te vroeg vir April n kennis van my is twee weke gelede oorlede omdat die staats hospitaal nie n idee gehaad het wat hul doen nie nou hierdie grap

Skim ·

Ek is nie bekommerd oor die behandeling nie, eerder die algemene higiëne in meeste hospitale. Jy gaan in vir een siekte en jy kom uit met ‘n ander virus want die woorde ‘steriele omgewing’ geld nie meer nie. Veral in die teaters kan jy byna 90% seker wees jy gaan ‘n kiem optel as jy vir ‘m operasie gaan.

Marcello ·

‘ n Kollega van my het vanaf Italië teruggekeer, ‘n week terug, hy het begin sleg voel gedurende die tyd nadat hy teruggekom het, hy het een aand ongevalle besoek, (privaat hospitaal), en daar is toe vir hom gesê: Hy makeer niks, as hy nie hoes nie. Moet ‘n mens dan eers dodelik siek wees, voor hulle jou help. En indien hy siek sou wees, sal hulle hom Tygerberg (staats hospitaal) in die Kaap toe stuur vanaf George.

Sarah ·

Staatshospitale is dalk bevoeg om die virus te hanteer maar die vraag is of die personeel werklik genoeg omgee vir die pasiente?

pestilensie ·

Staatshospitale bevoeg ? n vriend van my was nou in Helen Joseph en toestande is om die minste te se skokkend . Higiene bestaan nie en rassisme is aan die orde van die dag . Indien jy soontoe gestuur word , sorg dat jou lewenspolis opbetaal is.

Strandloper ·

Die Afrika manier…”Laat Gods water maar oor Gods aarde loop”…Ek glo nie so ….Ons tref voorsorg in alle opsigte!

Johan Venter ·

Ek het opgetel dr. Anchen Laubscher sê: “Daar is uitstekende kundigheid in ons akademiese hospitale om hierdie virustoestand te hanteer.”

Let wel, akademiese hospitale.

Sarel ·

Staatshospitale….. soos Pelonomi in Bloemfontein gereed??? Jammer hulle kan dan nie die Burgers hanteer wat gaan terugkeer van China af nie.

Genis ·

Dis regtig belaglik… staatshospitale is in vandag se tyd n doods vonnis vanself… Jy gaan n papier sny, dan beswyk van inveksie…

Leonie ·

Ek gaan eerder by my huis dan dood. Sal beter behandeling kry as in die vuil Staatshospitale. Verpleegpersoneel van vandag is useless en glo my hulle sal jou aspris laat doodgaan…. Jy gaan met ‘n normale siekte soontoe en dan begrawe jou familie jou op die einde van die dag, nou wil hulle Corona behandel?? Asseblief. Ek bid vir die mense wat Tembisa hospitaal toe moet gaan want glo my hulle is so useless jy gaan nooit weer daar uitkom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.