Kenners oor matriekuitslae

Argieffoto

Argieffoto

Vanjaar se matriekuitslae, wat slegter is as die van die vorige paar jaar, is dalk vir die eerste keer in ’n lang tyd ’n ware weerspieëling van die krisis waarin die land se onderwysstelsel is.

Onderwyskenners en –ontleders het in reaksie op die uitslae gesê daar moet indringend gekyk word na wat die oorsake van leerlinge se swakker prestasie is.

Prof. John Volmink, voorsitter van die raad vir gehalteversekering in algemene en verdere onderwys en opleiding (Umalusi), het luidens mediaberigte gesê die inwerkingstelling van die Caps-kurrikulum in gr. 12 kan dalk een van die oorsake wees omdat leerlinge nie aan die groter eise kon voldoen nie.

Altesame 688 660 kandidate het die matriekeksamen afgelê waarvan 550 127 heeltyds en 138 533 deeltyds was.

Daar is aanvanklik bespiegel dat die uitslae 3 tot 5 persentasiepunte swakker sal wees as die 78,2% van 2013. Die nasionale slaagsyfer vir 2014 is 75,8%. (Klik hier vir die provinsiale slaagsyfers.)

Prof. Kobus Maree, onderwyskenner verbonde aan die Universiteit van Pretoria (UP), meen die uitslae is ’n weerspieëling van talle ondeurdagte besluite wat die afgelope aantal jare deur taakspanne en sogenaamde onderwyskundiges geneem is. Hy het na uitkomsgerigte onderrig (UGO) verwys wat misluk en gefaal het en ook besluite rondom die in- en toe weer uitsluiting van meetkunde as deel van wiskunde.

Die swak prestasie van kandidate in veral wiskunde word toegeskryf aan die feit dat matrikulante vorige jare ook ’n wiskunde vraestel 3 opsioneel kon skryf wat hoërvlak-vaardighede in die vak getoets het. Vanjaar is dié inhoud by die gewone twee wiskunde vraestelle ingesluit wat waarskynlik heeltemal te hoë eise aan leerlinge gestel het.

Maree meen ondeurdagte besluite rondom onderwyssake dien nie die belang van kinders nie. Hy het voorts gesê ’n dringende besef is nodig van die realiteite en omstandighede waarin die meerderheid Suid-Afrikaners leef en vir wie eerstewêreld-onderrigmetodes en –benaderings eenvoudig nie kan werk nie.

Maree het gesê Suid-Afrika sal geen werklike verbetering in vakke soos wiskunde en wetenskap sien nie mits daar daadwerklike pogings aangewend word om kundiges teen billike vergoeding na landelike en township-skole te ontplooi. Te veel onderwysers in dié skole het nie die akademiese agtergrond of die nodige opleiding om sleutelvakke aan te bied nie.

Maree het gesê die uitslae is ook ’n aanduiding dat die meerderheid leerlinge nie toegerus of voorbereid was vir die omvang van die werk in gr. 12 nie.

Prof. Elda de Waal, onderwyskundige verbonde aan Noordwes-universiteit, meen dit sal lagwekkend wees as vanjaar se uitslae beter is as die van vorige jare.

Ek dink ons gaan vir die eerste keer in ’n lang tyd realistiese uitslae sien wat dalk voortspruit uit ’n besef by die onderwysminister (Angie Motshekga) dat mense wat in die land saak maak nie meer vertroue in die statistieke het nie.

De Waal sê die swakker prestasie is waarskynlik ook toe te skryf aan ’n gebrek aan motivering by onderwysers, skole en leerlinge oor die kurrikulum. “Ek het die afgelope 18 maande ’n duidelike afname in opgewondenheid by skole gesien. Daar is negatiwiteit oor die onderwys wat dringend aandag moet kry.”

De Waal meen ’n moontlike oplossing vir swakker prestasie is om te kyk in watter skole spesifiek daar agteruitgang was en daar met intensiewe opleidingsprogramme te begin. “Die departement moet by die skole self uitkom en gaan uitvind wat hulle nodig het om beter te presteer. Dikwels dink mense skole het goed soos rekenaars en tablette nodig om beter te funksioneer, terwyl dit eintlik maar net basiese dinge is wat reggestel moet word.”

Klik hier vir die matriekuitslae.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hettie ·

Wiskunde is n talent en basta daarmee Almal kan dit nie done nieJy kan hom afrig tot op n punt Wanneer hulle op universiteit kom en dit moet toepas help die afgerigte wiskunde niks Vra maar enige ingineur Student hoe sukkel hulLe daarmee Dan kom die natuurlike talent na Vore as n vereiste

Christo Hattingh ·

Het julle ‘n ontleding van die skole se prestasies. Bv. Georden volgens prestasie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.