Kenners oor moedertaalonderrig en vaardigheidstekort

Dr. Theuns Eloff. Foto: Reint Dykema

Dr. Theuns Eloff. Foto: Reint Dykema

Dr. Theuns Eloff, voormalige visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU), sê daar is ‘n direkte verband tussen moedertaalonderrig en akademiese prestasie.

Dr. Eloff het die uitlating gemaak tydens die vakbond Solidariteit se bekendstelling van sy private tegniese kollege, Sol-Tech, se nuwe fasiliteite. “Dit moet die rede wees hoekom kinders van Suid-Afrika swakker doen in wiskunde. Ek kan nie glo dat die onderwysers almal swakker is nie. Ek vermoed die rede is dat hulle nie in hulle modertaal onderrig ontvang nie.”

Eloff sê ouers dink dikwels dat indien hulle kinders in Engels hul skoolopleiding ontvang of studeer hulle van ‘n beter toekoms verseker is. “Maar om ‘n kind van die platteland te vat en te verwag hy moet in gr. 2 ewe skielik Engels verstaan, is gek.”

Eloff sê hy is wel ten gunste van meertaligheid. “Ek is ‘n voorstander daarvan dat behalwe vir Engels en ‘n moedertaal, ‘n derde Afrika-taal verpligtend gemaak moet word by skole. Nie vir grammatika nie maar om te praat. Wanneer ons mekaar se taal praat verander dit ons siening van mekaar, en dit is ontsaglik belangrik vir die toekoms.”

Dr. Raymond Patel, uitvoerende hoof van MerSeta , het gesê die vaardigheidstekort in die land het ‘n reuse impak op die ekonomie. Hy sê een van die groot probleme is dat daar by universiteite slegs op teorie gefokus word en studente nie praktiese ondervinding kry om hul gereed te kry vir die werkplek nie.

Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech, het gesê mense wêreldwyd se grootste behoefte is ‘n goeie werk. Hy sê ambagsmanne kry gewoonlik ‘n goeie werk maar dat die landskap van ambagsopleiding radikaal verander het. “Minstens 20 000 ambagsmanne moet per jaar opgelei word maar tans is dit baie minder. Sol-Tech kon egter te midde van moeilike omstandighede goeie ambagspersone oplei en dus sy bydrae lewer om die groeiende vaardigheidstekort hok te slaan.”

Lees ook:
Foto’s: Solidariteit stel nuwe Sol-Tech-fasiliteite van miljoene rande bekend

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.