Kenners pleit vir toegang tot geregtigheid in alle inheemse tale

Van links na regs: dr. Annelise de Vries, prof. Russell Kaschula en dr. Zakeera Docrat. (Foto: Akademia)

Die superstatus wat in die Suid-Afrikaanse regskonteks aan Engels toegeken word, behoort nie gelate aanvaar te word nie. Taalgemeenskappe moet daadwerklik begin optree sodat groter toegang tot geregtigheid vir alle inheemse tale, insluitend Afrikaans, verseker kan word.

Dit is een van die standpunte wat dr. Annelise de Vries, dosent in Afrikaans en vakhoof van tale in die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia, verlede week tydens ʼn seminaar oor die stand van Afrikaans in die regswese gehuldig het.

Taalkundiges, regspraktisyns, akademici en ander rolspelers het Donderdag in Centurion byeengekom om oor taal as sentrale element in die toegang tot geregtigheid te beraadslaag, hetsy dit in formele of informele regspleging is. Die simposium is deur Akademia se Fakulteit Regsgeleerdheid aangebied.

Van die onderwerpe wat bespreek is, sluit in die gebruik van Afrikaans in die regsberoep, belange van Afrikaanssprekende kliënte, byvoorbeeld tolkdienste en die aflê van beëdigde verklarings deur burgerlikes by polisiestasies, en die opleiding van regspraktisyns.

De Vries het in haar aanbieding onder meer ook na bepaalde kwelpunte in die huidige Suid-Afrikaanse regskonteks verwys.

Annelise de Vries is onder meer ʼn dosent in Afrikaans by die private Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia. (Foto: Verskaf)

“Regshulp Suid-Afrika het in 2016 navorsing onder hulle eie kliënte gedoen en slegs 27% van die aansoekers in strafregtelike sake kan Engels op ʼn bevredigende vlak praat, lees of skryf.

“Boonop het 54% van Regshulp Suid-Afrika se aansoekers in strafregtelike sake aangedui dat hulle min of geen kennis van Engels as kommunikasiemedium het nie.”

Volgens die 2022-sensus gebruik slegs 8,7% – sowat 5,4 uit 62 miljoen – van die bevolking Engels as primêre vorm van kommunikasie. Tog is Engels steeds die status quo in die Suid-Afrikaanse regstelsel, en dit mag nie langer voortduur nie.

Prof. Russel Kaschula en dr. Zakeera Docrat het as hoofsprekers opgetree. Hulle het gefokus op die gevolge van situasies waar individue regsdienste ontvang in ʼn taal waarin hulle moontlik nie oor optimale kognitiewe bevoegdheid beskik nie, en die opleiding van verskeie regsamptenare soos tolke, wetstoepassingspersoneel en regspraktisyns.

Kaschula is professor in die Departement Afrikataalstudies en bekleër van die Institusionele Leerstoel in forensies linguistiek en meertaligheid aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK). Docrat is tans ʼn postdoktorale navorsingsgenoot in forensiese linguistiek (taal en reg) van die Nasionale Instituut vir Geesteswetenskappe en Sosiale Wetenskappe (NIHSS) aan die UWK.

De Vries, Kaschula en Docrat is deel van ʼn beperkte groep kenners in Suid-Afrika wat hulle op forensiese linguistiek toespits. Dié veld gaan oor die studie van taal in ʼn regswetenskaplike domein, en dit is wêreldwyd ʼn relatief nuwe veld binne die toegepaste taalkunde.

Bevindings wat tydens die seminaar gemaak is, dien as vertrekpunt vir ʼn studie deur die Afrikaanse Taalraad (ATR) om die stand van Afrikaans in formele en informele regspleging te bepaal.

Insette vir dié studie is na afloop van die aanbiedings tydens ʼn ope gesprek ingewin. Simposiumgangers het die geleentheid gekry om vrae te stel wat moontlik by die ATR se studie ingesluit kan word.

“Dit is opwindend dat gesprekke soos hierdie plaasvind. Hoewel daar baie opponente teen die inheemse tale van Suid-Afrika is, is ons besig om saam met ʼn wye spektrum taalgemeenskappe na oplossings vir die probleem te soek,” sê dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad.

Hy voeg by dat Jan Alleman ook ʼn rol en verantwoordelikheid in die saak het. “Die algemene publiek het ook ʼn belang hierby. Hulle bydraes is so eenvoudig soos om net die taal te praat en te sorg dat dit nie verder wegkwyn nie.”

Indien jy ook ʼn bydrae tot die studie oor Afrikaans in die regswese wil lewer, kan jy ʼn e-pos aan Roné Wierenga, navorsingkoördineerder van die Afrikaanse Taalraad, stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jmboonzaaier ·

Is die vertaling deur tolke altyd korrek? Hoe weet die regslui, wat dit nie verstaan nie, hulle die korrekte besluite neem? Vra maar net.

Windhond ·

Die gebruik van n gekwalifiseerde tolk, is veronderstel om dodelik akkuraat te wees, maar met die BEE en allerhande nagmerries wat daarmee saam uit die houtwerk kruip, – het ek in verskeie hof sake al gehoor hoe woorde wat n belangrike impak op n regs dwaling kan uitoefen, – klein goedjies wat uitgelaat word, of by gelas word die gevolg beteken van n beskuldigde se vryheid of skuld # “lost in translation”

Windhond ·

Die gebruik van n gekwalifiseerde tolk, is veronderstel om dodelik akkuraat te wees, maar met die BEE en al die regstellende aksies en allerhande nagmerries wat daarmee saam uit die houtwerk kruip, – het ek al in verskeie hof sake al gehoor hoe woorde wat n belangrike impak op n regs dwaling kan uitoefen, plaasvind – klein goedjies wat uitgelaat word, of by gelas word, kan beteken dat n beskuldigde se vryheid of skuld in gedrang kom # “lost in translation”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.