Kenners, politici betwyfel Ramaphosa se plan teen korrupsie

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Politieke kenners en politieke leiers van opposisiepartye is dit eens dat die kabinetskomitee wat korrupsie tydens die koronavirus-inperking moet ondersoek maar gaan sukkel om die mas op te kom.

Ramaphosa het die komitee verlede week aangestel.

Alida Kok, dosent in politiek aan Akademia, het aan Maroela Media gesê die kabinetskomitee vir korrupsie is deur die president getaak om inligting oor tenders wat tydens die ramptoestand toegeken is by regeringsdepartemente te ontvang.

“Inligting wat deur regeringsdepartemente en staatsondernemings beskikbaar gestel moet word, moet onder meer uitwys aan watter maatskappye tydens die ramptoestand tenders toegeken is en ook aandui wat die bedrae van tenders is. Die kabinetskomitee moet dan ʼn verslag hieroor saamstel en die president beplan blykbaar om inligting in hierdie verslag in die openbaar bekend te maak,” het Kok gesê.

“Die president se sameroeping van hierdie kabinetskomitee is ʼn politieke maneuver om die indruk te wek dat die ANC se skandalige Covid-19-tenderkorrupsie deur die president aangeraak word. Hierdie poging om vas te stel waar tenderkorrupsie gepleeg is, word deur die president aangewend weens die skade wat die beeld van die presidensie en die ANC in die afgelope tyd gely het (veral in die aanloop tot volgende jaar se munisipale verkiesings), asook aangesien rolspelers soos Cosatu dreig om steun vir Ramaphosa te onttrek as ANC-korrupsie nie aangepak word nie.

“ʼn Mens moet in gedagte hou dat openbare onthullings van Covid-19-tenderkorrupsie en die ANC se hantering van die staat van inperking die gebeurtenisse is wat selfs onder sommiges in ANC-geledere die besef tuisgebring het dat die regerende party nie gered kan word nie en dat daar nou reeds beplan en gemobiliseer moet word vir ʼn post-ANC-Suid-Afrika,” aldus Kok.

Volgens haar is Ramaphosa se verhouding met sy party en spesifiek met die ANC-NUK so sleg dat hy eintlik sy posisie as nommer een op die ANC se partylys en president van die land voor die staat van inperking kwyt moes gewees het.

Kok het gesê ʼn mens kan die gevolgtrekking maak dat as dit nie vir Covid-19 en die staat van inperking was nie, sou Ramaphosa moontlik nie meer president gewees het nie. Stappe wat Ramaphosa nou doen, is primêr ʼn poging om sy posisie as nommer een op die ANC se partylys en as president te behou, en beslis nie om die party se tenderkorrupsie met geesdrif en ywer aan te pak nie. Al wil die president Covid-19-tenderkorrupsie onthul en aanpak, kan hy nie, want sy party is weens geïnstitusionaliseerde korrupsie vrot tot in die kern.

“Die kabinetskomitee is vir die algemene Suid-Afrikaner, wat nie by die ANC se geïnstitusionaliseerde korrupsie baat nie, betekenisloos en, om die waarheid te sê, lagwekkend. Hierdie patetiese poging om tenderkorrupsie bloot te lê is ʼn geval waar die ANC die misdaad pleeg, die ANC sy eie misdaad ondersoek, en die ANC verslag doen oor die misdaad wat hy pleeg en ondersoek het,” het Kok voortgegaan.

“Daar is geen hoop dat lede van die kabinetskomitee – soos Nkosazana Dlamini-Zuma en Bheki Cele – enigsins sal toelaat dat inligting oor tenderkorrupsie werklik bekendgemaak word nie. In elk geval, om net inligting oor korrupsie in te samel is waardeloos omdat die Nasionale Vervolgingsgesag nie eens die kapasiteit en vermoë het om verdagtes in korrupsiesake te vervolg nie en omdat daar tot op hede geen politieke wil is om tenderkorrupsie daadwerklik aan te pak nie. Waarom sal dit nou verander?” het Kok gevra.

Volgens die waarnemende DA-leier, John Steenhuisen, is die kabinetskomitee blote oëverblindery om die illusie van optrede te wek.

“Hierdie tandelose samevoeging van ANC-kaders het geen wetsgesag om enigiets te ondersoek of enige vervolgings in te stel nie.

“Die ANC is nou 26 jaar lank aan bewind en nog nooit het hulle een van hul eie mense aan korrupsie skuldig bevind nie. Hulle gaan dit beslis nie nou begin doen nie, en Suid-Afrikaners is so ontsettend moeg vir al hierdie leë gebare,” het Steenhuisen uitgewys.

Die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, het uitgewys dat sy party die afgelope maande verskeie geskrewe parlementêre vrae aan alle staatsdepartemente gerig het om antwoorde op presies hierdie vrae te kry, en dat ministers sonder uitsondering gebrekkige en onbevredigende antwoorde verskaf het.

“Die enigste afleiding hieruit is dat daar ʼn doelbewuste verswyging van inligting is om moontlike ongerymdhede toe te smeer,” het Groenewald uitgewys, en met vers en kapittel aangehaal uit “antwoorde” verskaf deur die minister van samewerkende regering, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma.

“Om bloot ondersoek te doen na korrupsie is in elk geval nie genoeg nie. Daar moet daadwerklik opgetree word teen die skuldiges en hulle moet, waar nodig, gevangenisstraf opgelê word aangesien die geld wat hier ter sprake is, bewillig is om mense in ʼn desperate oorlewingstryd te help.

“Dit is uiteindelik in elk geval die belastingbetaler wat die rekening sal moet betaal,” het Groenewald uitgewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Pieter ·

Geen twyfel nodig nie, enigeen met verstand (dis maar min ons) weet presies wat die uitslag gaan wees.

Peetjie ·

cANCer kan nie alleen ondersoek doen nie, daar moet van die ander partye ook betrokke wees as daar regtig ondersoek gedoen wil word. Die regering bestaan nie net uit die cANCer nie, maar ook die DA, COPE, VF+ en ander. Dàn sal jy n ander storie sien..

Snowball ·

Soos vermeld, som vyf woorde die ANC op – “vrot tot op die kern” !!

Grassie ·

Ramaphosa staan met sy een voet op ‘n piesangskil en die ander voet op ‘n woestyn van politieke vergetelheid. Hy is besig om die hewige tweestryd in sy party te verloor. Dis is die hoofrede waarom hy die afgelope jaar so knaend oor vroueregte praat. Volgens hom word omtrent elke vrou deur mans mishandel, verkrag en vermoor. Dit is so dat vrouens mishandel word en dit is laakbaar, maar CR dryf die storie tot in die oortreffende trap. Hy vry ooglopend na die vroue se stem. Hy beloof hulle die son, die maan en die sterre en soos Herodus van ouds, die helfte van sy koningkryk. Alles net vir hul stem om aan bewind te bly. Maar ek dink hy gaan sink.

koos10 ·

Mr. Ramaposa, I need to make you aware about the laws of this country (which you signed into power or at least debated in parliament):
Prevention and Combating of Corrupt Activities Act, 2004 (Act 12 of 2004): According to section 34(1) of the Act, any person who holds a position of authority (defined in section 34(4) of the Act), who knows or ought reasonably to have known or suspected that any other person has committed an offence (of corruption) in terms of sections 3 to 16 or 20 to 21 of the Act or theft, fraud, extortion, forgery or uttering of a forged document involving an amount of R100 000,00 or more, must report such knowledge or suspicion or cause such knowledge or suspicion to be reported to any police official.
This means, sir, that you MUST report the crime to the SAPS first, and NOT appoint any committees or investigations as a parallel. This also means that the whole Zondo commission is illegal. You, sir, is undermining your own SAPS (unless you do not trust them).

gehasie ·

Vir 26 jaar en langer het hulle geen opbouende plan gehad nie maar slegs n liberale plan van vernietiging!

Adeline ·

Wel ek stem 110% saam met die wat sê dat die power poging van die voos vrot korrupte anc leier (nie my president nie) wat probeer om elke persoon in die land te oortuig hy is in beheer om korrupsie vas te vat – jammerlik alreeds misluk het nog voor dit begin het. 1ste staan hy bo aan die lys vir korrupsie tot guns van sy eie familie, dan ook vir die ruggraatlose pogings van eintlike beskerming van die wat korrupsie pleeg in die regering en buite vertakkinge soos sap(diens), weermag, munisipaliteite wat deur anc beheer word. DAN is daar die geleerde mense in die samelewing en opposisie lede wat praat – maar daar word in realiteit NIKS gedoen om die anc regering se korrupsie wêreldwyd met bewyse bloot te stel en vas te vat nie……. so voortgaande korrupsie en lyding van die gewone burgers (anc lede van die publiek ingesluit) wat gebruik word tot nadeel van almal op die voos vrot korrupte anc skaakbord. My vraag is wat kan vandag gedoen word om dit verseker te stop?

Jakes ·

Dit het tyd geword dat CR verantwoordbaar gehou word vir die gemors waarin die land verkeer en veral vir die blatante gedrag van korrupsie in ANC geledere. Die uitsprake wat Ace Machashule oor korrupsie gemaak het is uiters pateties gegewe die feit dat hy self agter die deur staan.

Adam Adriaan ·

Dit is dieselfde as ‘n moordenaar sy eie advokaat en regter is.

Androclus ·

As ANC alleen ondersoek gaan daar net mooi niks van kom nie,verseker.

Johan ·

Ons die ANC, het onsself vir korrupsie ondersoek, en onsself, onskuldig bevind.

Excalibur ·

Ai, hoe mis ek nou die dae van ‘n skoon Suid-Afrika (SA), ‘n wereld-kompeterende en selfvoorsienende SA, ‘n Doelgerigte SA, ‘n amper skedule 1 misdaadvry SA, ‘n produkte uitvoer SA, ‘n onaanvegbare maghebbende SA, ‘n kwaliteit & kwantiteit SA, ‘n sosio-ekonomiese ontwikkelende SA, ‘n sport kampioen op amper alle gebiede SA, ‘n voedselseker SA, ‘n wereldbeleggings SA, ‘n gedisiplineerde en hoogs opgevoede SA, ‘n leierbarende SA op mediese, politieke, militere, landbou en intelektuele front, ‘n aandelike veilige “windowshopping” SA, ‘n wereld blouwaterstatus en watersekerheid SA, ‘n toerisme veilige SA, ‘n hoogs standaard infrastruktuur SA, ‘n kindervriendelike SA, ‘n “DIE magtende dreuning” – wereld gerespekteerde S-Afrikaanse ras & geslag gemengde weermag, ‘n wetsgehoorsame SA, ‘n Volkselfbeskking gerespekteerde SA (Tuislande), ‘n ryloop veilige SA, ‘n TROTS SA met SASOL/EVKOM/DENEL/KERNKRAG/SAL/SAS/…, ‘n suksesverhaal SA en toe kom die 26j van smart De Klerk & ANC SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.