Kenners sê oor D-dag vir Brexit

‘n Vrou hou Donderdag die Britse vlag asook die Europese Unie se vlag omhoog in Brussel, België. (Foto: Francisco Seco)

Brittanje onttrek hom vanaand (Vrydag) aan die Europese Unie (EU), maar dit is egter nie die einde van die jarelange onderhandelinge tussen die twee nie. Die harde werk lê nou voor, meen kenners.

Prof. Theo Neethling, hoof van die departement politieke studies en regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), verduidelik dat Brittanje vanaand ’n oorgangsperiode binnegaan.

Brittanje sal vir die volgende 11 maande steeds ekonomies deel van die Europese Unie bly, maar hom wel onttrek aan alle politieke instellings binne die EU. Dit beteken daar sal voortaan nie meer Britse lede in die Europese parlement wees nie.

Sou die nuutverkose eerste minister Boris Johnson die beloftes tydens sy verkiesingsveldtog gestand doen, sal Brittanje die EU teen 31 Desember heeltemal verlaat.

Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling van Solidariteit, meen dit is moontlik.

“Daar word al die afgelope drie jaar oor Brexit gepraat. Ek dink die Europese Unie wil ook aanbeweeg en voortaan op ander prioriteite fokus.”

Kleynhans meen handelsooreenkomste is waarskynlik die belangrikste kwessie wat oor die volgende paar maande aandag sal geniet.

Neethling verduidelik dat handelsooreenkomste voorlopig onveranderd sal bly. Dit sal Brittanje én die EU kans gee om oor toekomstige sake na te dink en planne te beraam om nuwe handelsooreenkomste tussen die twee te probeer skep voordat die spertyd verstryk.

LP Jonathan Bullock hou ‘n Britse vlag in Brussel omhoog nadat parlementslede die Brexit-onttrekkingsooreenkoms met 621 stemme teenoor 49 bekragtig het. (Foto: Francisco Seco)

Volgens Neethling sal die volgende kwessies veral baie aandag geniet: wetstoepassing en veiligheidsake; lugvaartstandaarde en -veiligheid; toegang tot viswaters; energieverkryging spesifiek met betrekking tot elektrisiteit en gas en dan die lisensiëring en regulering van medikasie.

“Die EU het reeds gewaarsku dat 11 maande baie min tyd is om besluite oor baie tegniese en gekompliseerde sake deur te voer. Onderhandelaars gaan dus onder baie druk wees om sake op die ekonomiese terrein in ʼn nuwe rigting te stuur en ooreenkomste tot bevrediging van albei partye aan te gaan,” meen Neethling.

Is dit dan moontlik dat Brittanje en die EU se verhouding onder druk kan versuur?

Die twee partye is op goeie voet uit mekaar en volgens Kleynhans sal hulle moontlik stry kry oor sommige aspekte. Hulle sal egter nie van mekaar vervreem word nie.

“Hulle het mekaar nodig. Europa kan nie sonder Brittanje nie, want dié land het die grootste weermag. Handel tussen Brittanje en Europa is ook enorm.”

Kleynhans verduidelik dat Londen oor die jare een van die grootste finansiële stede ter wêreld geword het. Daar het ook ’n redelike groot bevolkingsuitruiling tussen Europese lande en Brittanje plaasgevind. Dit sluit in werkers van Roemenië, Bulgarye en Pole wat tans in Brittanje werk.

“Dit kan nie eenvoudig tot ʼn einde kom nie. Daar gaan steeds noue samewerking moet wees,” sê Kleynhans.

Neethling verwag ook dat daar tegniese verskille en haakplekke gaan opduik, hoewel Brittanje waarskynlik niks sal doen om vyandig teenoor die EU op te tree nie.

Britse LP’s Donderdag met hul bagasie op pad terug na Brittanje. (Foto: Virginia Mayo, AP)

Ekonomie

Vir Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, verteenwoordig D-dag ’n historiese vurk in Brittanje én die EU se pad wanneer dit kom by hul ekonomiese verhoudinge.

“As daar teen die einde van vanjaar nie suksesvol ooreengekom word oor plaasvervangers in handel of ʼn vryhandelsooreenkoms tussen Brittanje en die EU nie, sal nuwe onsekerhede na vore kom in die post-Brexit-fase.”

Volgens Parsons sal die ekonomiese impak van Brexit op die Britse en Europese ekonomie afhang van watter soort nuwe ekonomiese reëlings vanjaar getref word.

Kleynhans glo op sy beurt dat Brexit nie so ekonomies ontwrigtend vir Brittanje en Europa gaan wees nie, maar in werklikheid meer geleenthede rondom nuwe handelsooreenkomste vir Brittanje inhou.

“Europa het een van die mees gereguleerde ekonomieë en lidlande van die EU moet aan geweldig baie reëls voldoen. Brittanje is nou van dié reëls kwytgeskeld.”

Izzy Knowles van Birmingham in Engeland hou die Britse vlag asook die Europese Unie se vlag omhoog as ‘n teken van die twee partye se vriendskap. (Foto: Virginia Mayo, AP)

Suid-Afrika

Neethling verduidelik dat die Suid-Afrikaanse regering reeds in 2018 begin aandag gee het aan die implikasies wat Brexit mag meebring in terme van sy handelsooreenkoms met die EU. Brittanje is immers een van Suid-Afrika se belangrikste handelsvennote en Suid-Afrika geniet ʼn 0%-heffing op sekere uitvoere na die EU.

Volgens Parsons word Suid-Afrika se belangrike handelsbetrekkinge met Brittanje en die EU ná Brexit beskerm deur die vryhandelsooreenkoms wat deur die South African Communications Union (Sacu) onderteken is.

“Dit is in Suid-Afrika se belang dat die onderhandelinge tussen die EU en Brittanje glad sal verloop. Die vraag is tot water mate onderhandelinge tussen die EU en Brittanje ʼn verandering in Suid-Afrika se posisie jeens die twee partye tot gevolg gaan hê sover dit handelstariewe betref.”

Volgens Neethling moet daar ook in gedagte gehou word dat Brittanje nie slegs met Suid-Afrika in nuwe handelsooreenkomste sal moet tree nie, maar ook met die VSA, China, Japan, Australië, en Suid-Korea.

Suid-Afrika is van veel minder belang as die groter rolspelers wat hier genoem is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter J ·

Ek dink sommige lande is al erg benadeel deur besluite van die EU en dat meer lande die EU gaan verlaat in die toekoms. Hulle wag net om te sien wat in Britanje gaan gebeur. Dit is al lankal duidelik dat daar ander lande ook is wat nie meer beïndruk is met dit wat soms op hulle afgedwing word deur die EU nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.