Kenners sê oor ‘fidget spinners’

Fidget spinner (Foto: Pixabay)

Nadat ʼn storm onlangs oor die sogenaamde “fidget spinners” op sosiale media losgebars het, het dié speelding onder die loep van ouers en opvoedkundiges gekom.

Talle sosialemediagebruikers meen dat die speelding ʼn sogenaamde gevaar vir kinders inhou en dat die positiewe invloed waarmee die speelding bemark word, nie getoets is nie.

Die speelding word deur ander beskou as ʼn wonderlike fokushulp vir kinders én groot mense met angs, aandagafleibaarheids- en ontwikkelingsprobleme soos outisme.

Maroela Media het vroeër berig ʼn waghondgroep van Boston in die VSA het ouers en kinders gewaarsku teen die potensiële gevare van die speelding. Die groep, World Against Toys Causing Harm (Watch), het gesê kinders kan maklik aan die speelding verstik en daarom is dit op die groep se lys van onveilige speelgoed geplaas.

Dié waarskuwing volg nadat owerhede in Duitsland verlede week gesê het hulle beplan om tonne van die speelgoed, waarop daar deur doeane-agentskappe beslag gelê is, te vernietig. Die owerhede het gesê hulle het die speelgoed, wat ʼn oorsprong in China het, getoets en bevind dat dele daarvan kan afbreek en dus moontlike verstikkingsgevare vir klein kinders kan inhou. Ander gevalle waarin ʼn staalgedeelte van die apparaat losgekom en kinders in die oë of gesig getref het, is ook aangemeld.

Claudia Swartzberg, uitvoerende hoof van Top Dog Education, sê dit is egter steeds onbeslis of dié speelding net ʼn speelding is, en of dit ʼn toestel is wat angs by kinders en grootmense kan verbeter of selfs diegene met aandagafleibaarheidsprobleme kan help om te fokus.

“Terwyl baie mense beweer dat die speelding die brein help fokus, is daar geen wetenskaplike steun om ʼn terapeutiese waarde te staaf nie. Hoewel daar geen data is wat toon dat vroetel-spinners voordele inhou, eerder as om net pret te verskaf nie, meen baie ouers en onderwysers dat dit fokus binne, sowel as buite die klaskamer aanhelp”, sê Swartzberg.

Swartzberg sê die webwerf Forbes het ʼn paar positiewe punte van die speelding uitgelig:

  1. Dit lei jou brein weg van allerlei lukrake gedagtes

Vroetel kan dele van jou brein besig hou en verhinder dat jou aandag afgetrek word en sou verhoed dat jy ʼn taak, soos redevoering of luister in die klas, goed sou kan uitvoer. In plaas daarvan om byvoorbeeld te dink oor wat mense van jou dink terwyl jy op die verhoog staan en praat, kan vroetel jou help om net op jou toespraak te fokus, nie op enigiets anders wat jou aandag kan aflei nie.

  1. Dit kan die denkproses aanhelp

Studies het getoon dat fisieke beweging, soos om te krabbel of om goed neer te skryf, jou kan help onthou. Deur fisiek besig te wees om te vroetel, beweeg jy en neem jy inligting beter in.

  1. Dit dien as ʼn ritueel

Rituele kan voorspelbaarheid, struktuur en bekendheid bied – iets wat jou kalm maak en help om te fokus. Herhalende bewegings soos om ʼn bal in jou hand vas te druk of jou pen te tik kan strelende en ontspannende rituele wees.

“Daar’s ʼn rede waarom fidget spinners een van die beste verkopers van die jaar is”, sê Swartzberg. “Of jy nou van hulle hou of nie, is dit waarskynlik dat hulle binnekort hul kruin sal bereik, baie soos ander vinnige en gewilde verkopers wat deur ʼn gelyke mate van opgewondenheid en omstredenheid omring is.

Top Dog Education is ʼn maatskappy in opvoedingstegnologie wat verpersoonlikte, kragtige leerervarings aan leerders van gr. 4 tot 12 bied, deur middel van ʼn innoverende tegnologiese platform, MyTopDog.

Vir meer inligting besoek Top Dog Education se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

45 Kommentare

Wern ·

Ja, dis tyd dat mense hulleself met konstruktiewe dinge moet begin besig hou. Dit is die toppunt van kosbare tyd vernietig. Lui swakkelinge is besig om die wereld oor te vat maar hulle gaan gou val.

Piet Snot ·

My kind het met so ‘n ding by die huis aangekom lank voor daaroor geskryf is. Ek het hom dopgehou, en die dinge wat in dié artikel beskryf word, empiries waargeneem.
Die artikel is in die kol.

Gerrit ·

Help met ADD??? In my jong dae het ons nie speelgoed gehad wat gehelp het met ADD nie. n fidget op die agterstewe het sommer gou gehelp daarvoor :)

Kasper ·

Nou praat jy Gerrit, hierdie is maar net weer ‘n geldmaak foeffie. Die nuwigheid sal binnekort weer vergete wees.

Jan ·

Om die kontrepsietjie te spin is nou regtig nie vroetel nie, verseker nie. Vroetel is om rusteloos te beweeg, om te woel.

Jan ·

Ek kan nou ook nie sien dat dit by enige van die drie punte, wat hier bo genoem word, inpas nie.

Cherokee ·

Nee Jan, vroetel word op ‘n kar se agterste sitplek gedoen.

t ·

Ons het ‘n “fidgeting” mannetjie op skool gehad wat nie eers met ‘n raps op die agterstewe stilgesit het nie. Die onderwyseres het van radeloosheid hom naderhand op die bank vasgemaak. Dit was darem net so twee episodes nodig gewees toe hy besef maar die ander kinders lag vir hom as hy so “onrustig” is.

Chantel ·

En vir al wat julle weet loop daai “fidgeting” mannetjie nogsteeds met emosionele skade rond agv die “shaming” wat plaasgevind het in die klaskamer. Ons motiveer mos liewer ons kinders met vrees as met deernis.

Seepboks ·

Nee regtig! Daai arme kind. Skaam die onderwyseres. Party kinders het werklik n probleem met stilsit, dink eerder onderwysers moet dalk meer navorsing gaan doen om hoe met sulke outjies te werk as om hulle so te verneder. Ek weet van n vriendin wat se seuntjie ook maar sukkel om lank stil te sit en sy juffroutjie maar n punt daarvan om hom belangrike opdraggies te gee soos om gou n briefie vir die kantoor tannies te vat of om ietsie by n ander klas te gaan haal as sy sien hy raak te kriewelrig. Dit laat hom belangrik voel en help dat hy weer vir n wyle kan konsentreer na sy stappie.

Wessel ·

Chantel – Om ‘n kind met sielkunde groot te maak is om ‘n swakeling groot te maak.

Chantel ·

Wessel – om empatie te hê is beslis nie n teken van swakheid nie. Eerder sielkunde as om n kind aggressie te leer deur hom konstant te slaan vir iets buite sy beheer. Daar is reeds soveel geweld in die wêreld. As ons mekaar met deernis behandel sal die wêreld n veel beter plek wees.

Leendert ·

Die goed is die wêreld vol ‘vervuil’, selfs in apteke, jy kan die goed nie miskyk nie, en dan trek natuurlik die kleure en die vorms die mense se aandag, nie om die ‘wonderwerk’ toestelletjie te kan ‘spin’ nie.

Chantel Walberer ·

Fidget toys is nie noodwendig sleg nie. Ek self het ADHD en ek klik bv. my pen maar dit kan irriterend en steurend wees vir ander mense. Ek dink n fidget toy moet van so n aard wees dat dit nie ander mense pla nie. Daar is n dobbelsteentjie op die mark in Amerika wat ek dink veel beter is, maar ouers moet hulle diskresie gebruik wanneer hulle sulke speelgoed vir kinders gee. My kinders het ook ADHD en ek sal nie die fidget spinner vir hulle gee nie. Dit kan om vingers vas sit en beserings veroorsaak.

Leeutjie ·

Ek het nou mooi hierdie ding van alle kante af bekyk en toe gaan daar ‘n liggie op!!! Dit gaan help dat mense nie in hulle neuse grou nie!! Ek dink tog daar is iets aan hierdie dingetjie!!!

Jakobus ·

En na ‘n tydjie as die grootmens of die kind daarmee moeggespeel is, en dit nie meer ‘n nuwigheid is nie, dan beland dit op die rak.

Ons het nou een dan een van die goed, wat ‘n vriend van ons wie se kind dit nie meer wou hê nie, en wat hulle vir ons gegee het, vir ons tuinwerker gegee om dit weer vir sy laaitie te gee. Hy het gevra wat dit is, toe wys ons hom, hy het die ding een kyk gegee, kop geskud en dit toe maar geneem. Ek het egter ‘n idee, dat die tuinwerker se laaitie sal dit dalk so een of twee spinne gee, en dan sal hy ook daarmee moeggespeel wees.

K ·

weet nou nie vir stres en ADHD nie maar ek het n Fidget spinner want met my hande stil sit kan ek nie.. so in plaas van TV kyk en met n pen speel of my vigers afbyt spin my pienk fidget heelaand… geen regtige plesier nie maar dit is iets vir die hande om te doen – tot man lief het dit kort kort aan te spin :) nogal n verslawende spin daai . . .

Hanna ·

Dit was net ‘n geld maak foefie , my seuns se fidgets lê lankal weer vergete op die kas. Albei is ADHD. 6jr en 14jr. Dis eerder ‘n “collectors item” van vele soorte en kleure. Soos ‘n mode gier..Geen speelding kan lank genoeg kinders met afleibaarheid probleme fasineer nie, Inteendeel hulle het gou verveeld geraak met dit.

Johann ·

Spin dit in die Spur, dit sal help. Of nog beter, mens kan altyd so ‘n paar vir Pierre van Tonder stuur, hy het dit nou nodig.

Andries Visagie ·

hierdie fidget spinners is seker goed op sy eie manier, maar ek glo baie sterk dat dit nie goed is vir n kind nie. Ek het dit wel getoets in my huis en het gesien – Ja dis help met aandag afleiding, veral as jy met jou kind praat en hy ignoreer jou omdat hy konsentreer om die dingetjie te spin. Ek het ook al gesien dat kinder amper onder karre beland wat loop en speel met die ding terwyl hulle oor die pad stap, geen idee dat hulle nie eers bewus is van wat om hulle aangaan nie.

Weereens ek praat nie die speelding sleg nie, elke persoon se ervaring GAAN verskil, maar my ervaring was tot dusver glad nie iets om oor opgewonde te raak nie.

Ek kon ook nie die nut sien van dit nie. hy spin in die ronde en stop. Ek het op die internet gaan kyk watse “Tricks” hulle alles kan doen en het besef jy kan basies dieselfde met n bal ook doen.

johnny_walker ·

storm in n tee koppie , ADHD by veral kinders is agv die tonne suiker wat deesdae in al ons kos gefoeter word , dis verbasend meer mense gaan nie dood aan al die suiker wat hulle ons mee vergiftig nie , daar moet ernstig na die probleem gekyk word , maar die regering en die geldmaget maak mos lekker geld uit die storie , eers vegriftig hulle jou met te veel suiker en dan verkoop hulle die medisyne aan jou om die simptome te beheer , baie slim

Chantel ·

Heel duidelik weet jy niks van ADHD af nie. Dit is geneties m.a.w. dis oorerflik. Dit het bitter min met jou inname van suiker te doen.

H ·

Sjoe Johnny_Walker jy klink soos ‘n expert as dit by ADHD kom. Dit het hoegenaamd niks met suiker te doen nie. Ek verpes suiker, want dit gee my kopsere en is ook onlangs met ADHD gediagnoseer saam my kind, Dit is oorerflik en het niks met suiker te doen nie.

Ig ·

Kruisig my maar ek speel lekker met myne met liggies wat flikker.

Sophia ·

En so maak die Chinese baie geld…tot hulle weer met iets anders kom wat geld maak. Ons bly koop en koop.

Petro ·

Dis ‘n speelding…my 5 jarige het 2 en hy love dit.
Druk nie in sy mond nie…hy balanseer dit op sy duime en dan is hy super trots op homself.

dook ·

Iemand het n eenvoudige idee gehaad. Hulle het dit n realityd gemaak, en is nou skatryk.

Calvin ·

Ek’s seker die mense het destyds dieselfde gesê oor YoYos, tazos, jo-jo’s, speel goed is speelgoed is speelgoed is speelgoed. En die mense wat so aangaan oor “in my dae het ons nie dit en dat gehad nie” jip maar in jul dae was daar baie, BAIE minder druk op jou as kind, veiliger groot geword = minder stress ook.

Jan ·

Klimtolle het darem baaaie meer mootlikhede gehad, sekere vaardigheid vereis, vorms wat mens kan maak terwyl dit spin, wat nie net sommer binne ‘n sekonde, soos hierdie spingdingetjie, bemeester kan word nie.

Dinknet ·

Dis net ‘n speelding wat my betref. Sit dan vestikkings gevaar teken op die verpakking soos met Lego. Toe ek op skool was, was daar ‘n stadium wat yo-yo’s dié speelding was. Ek weet van ‘n hele paar kinders wat voortande gechip en blou kolle gehad het met die toertjies wat hulle probeer doen het. Toe het niemand daaroor gal af gegaan nie. Lyk my ons is besig om ‘n generasie softies sonder verstand groot te maak!!! Jimmel die kinders kan mos vir hul self dink!!!!!!

RB ·

Hierdie is net ‘n speelding soos ‘n “yo-yo”, of ‘n tamagotchi. Die gier gaan oorwaai soos enige ander. Heeltemal te veel aandag word hieraan gegee.

CK ·

Sjoe.. ek wonder hoeveel van hierdie ouers het regtig ‘n kind wat lei aan AD of ADHD. Mense is maklik om raad te gee, maar REGTIG gaan sit eers saam met so kind vir ‘n ruk en dink jouself in sy/haar skoene. Die mediesetoestand is wetenskaplik bewys dis nie net ‘n aansit storie nie. Sies vir julle en julle vieslike opmerkings. Ek skaam my morsdood vir van die opmerkings.

SkarrelKind ·

CK, die probleem is dat daar ook redelike sterk bewyse is dat dit baie moeilik is om te dignoseer en dat baie kinders mis-gedisgnoseer word omdat die farma maatskappye baie geld maak. 30 jaar gelede het die meeste kinders stil gesit in die kla, vandag sit 8 uit 10 nie stil nie en amper almal kry medikasie. Dink mooi daaroor, medikasie van die aard moet die heel laaste uitweg wees. Daar is baie hieroor te lees op die internet en dit maak mens bang.

Anoniem ·

Nee dis nie net n speelding nie. Die ding kan jou kind skade doen. Jou kind se vingers kan vassit, hy kan jou kind se vinger lelik sny…………Verwyder die ding van die mark!!!!!!

RB ·

“Yo-yo” se toutjie kan om ‘n kind se nek draai, mense kan op speelgoed karretjie trap en val, tamaogitchi is sleg vir jou oë, om nie van ‘n kettie te praat nie…
ag nee man, kry ‘n kamer met kussings vir muurpapier.

Reinhardt ·

Ek besit nou nie n fidget spinner nie, maar ek speel permanent met my pen. Hoe is dit enigsins tydmors? Jy doen mos nie slegs dit nie, jy doen dit terwyl jy besig is met iets anders… soos byvoorbeeld kommentare te lees op Maroela Media xD

Kearney ·

Dit verbaas my soms wat mense kan kwyt raak.. Dit is nou maar net die “in ding” vir kids by die skool en n fase van “moet he”. Dit sal verby waai.
Die goed gaan jou arme kindjie fooookol leed aan doen nie mense. Albasters was al jare lank seker gevaarliker om aan te verstuk. En nee die ou PicknPay stickies en Fidget spinners gaan nie saamtrek en ons wereld oorvat nie. Wat nou nog :)

Tanzan ·

Persoonlik dink ek ook Lego is baie gevaarliker, enige ouer wat al in een getrap het weet jy is in staat tot moord ?

Sharon ·

Ek stem 100% saam met jou Tanzan – daai Lego’s wat rond le is gevaarlik, ek het al self paar keer blou moord geskree as ek op een trap, nou gan van die moanies weer se my huis moet aan die kant wees en lego’s moet nie rond le nie…

Sharon ·

Vir die wat so moan – kan julle onthou ons het as kinders met Jo-Jo’s gespeel, ook mar eintlik ‘n “time-waster” mar tog het ons dit geniet, wonder of ons ouers ook so aangegaan het, mar ek kan onthou ons het onself vir ure vermaak met die ding, en dan onthou ek ook my kneukels het partykeer lekker seer gekap as ek “tricks” wou doen – en raai wat, eks nogsteeds in een stuk, ek glo ook my kind sal in een stuk anderkant uitkom as hy homself met ‘n fidget vermaak. Dis ‘n ding wat verby gaan gaan, hou op so ophef maak oor als.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.