Kenners stel nuwe ekonomiese strategie voor

‘n Padblokkade in KwaZulu-Natal waar motoriste ingevolge die afsonderingsregulasies voorgekeer word. Kenners vra dat die regulasies ingrypend gewysig word. (Foto: Bongani Mbatha/ANA)

ʼn Groep vooraanstaande ekonome, sakelui en sakegedrewe organisasies het kragte saamgesnoer in ʼn dringende beroep op die regering om wysigings aan die huidige ekonomiese strategie aan te bring ten einde die ekonomie te red.

In sommige gevalle is van dié regulasies al selfs as “drakonies” bestempel.

Die ekonomiese strategie, saamgestel deur ETM Analytics en ETM Macro Advisors, is ʼn drastiese afwyking van huidige beleidsrigting. Die voorstelle daarin word gesteun deur onder meer die ekonome Chris Becker, Mike Schüssler en Dawie Roodt, asook organisasies soos Sakeliga en verskeie sakekamers.

In die plan word die regering gevra om verskeie voorgestelde wysigings te oorweeg. Dit sluit in:

  • ʼn Vervanging van die huidige noodsaaklike dienste-aanslag (wat bedrywighede verbied tensy dit noodsaaklik is) met ʼn risiko-gegronde aanslag (wat alle bedrywighede toelaat, buiten dié wat as te gevaarlik vir die verspreiding van Covid-19 beskou word).
  • Om ondernemings toe te laat om veilig sake te doen en om hulle te vra om gesondheidsmaatreëls teen die verspreiding van die virussiekte in te stel.
  • ʼn Verklaring dat geen onderneming sertifisering of enige ander spesiale lisensie benodig om sake te doen nie.
  • ʼn Opdrag aan wetstoepassers om nie met sakebedrywighede in te meng nie, tensy daar ʼn prima facie-saak is dat die bedrywighede ʼn oortreding is van die voorgestelde regulasie wat bepaal wanneer ʼn bedrywigheid te gevaarlik is om voort te sit.

In die voorstel is daar ʼn verbintenis tot openbare gesondheid en respek vir wet en orde.

“Ons samelewing loop die gevaar van ʼn katastrofe as sakeondernemings, van die kleinste tot die grootste, nie maniere kan vind om dít waarop openbare gesondheid en welstand berus, te voorsien nie,” lui die plan.

Kenners sê dit is baie moeilik om tussen noodsaaklike dienste en nie-noodsaaklike dienste te onderskei. Nie-noodsaaklike ondernemings mag in die stadium nog nie heropen nie. (Foto: Doctor Ngcobo/ANA)

Die plan lui voorts dat alle goedere en dienste wat tans as “noodsaaklik” verklaar is, staatmaak op verskaffing, ondersteuningsdienste, skaal en inkomste wat weer afhanklik is van handel met ondernemings wat as “nie-noodsaaklik” geklassifiseer is.

“Die onderskeid tussen ‘noodsaaklike’ en ‘nie-noodsaaklike’ sakeondernemings is byna onmoontlik om te verstaan en vir eienaars, bestuurders, werkers, wetstoepassers en die publiek om aan te voldoen.”

Die sakeplan lui dat talle ondernemings wat in dié stadium as nie-noodsaaklik geklassifiseer is, veilig heropen kan word, terwyl sommige wat as noodsaaklike dienste geklassifiseer is, moontlik bedryfsgesondheidsrisiko’s verder sal moet verminder.

“Ons voorsien dat ʼn regulatoriese raamwerk soos bogenoemde voldoening en wetstoepassing beduidend gaan vereenvoudig en sakeondernemings sal toelaat om planne te beraam vir veilige produksie, verkope en indiensneming.

“Dit gaan heelwat bydra om ekonomiese ineenstorting, maatskaplike onbestendigheid en armoede in Suid-Afrika en die Suider-Afrika-streek te voorkom, terwyl daar steeds waaksaamheid teen Covid-19 heers.”

Ingevolge die voorgestelde plan word alle maatskappye toegelaat om bedrywighede te hervat (buiten dié wat as te gevaarlik geklassifiseer is), pleks daarvan om duisende sakeondernemings op ʼn individuele grondslag te laat heropen.

Miljoene mense benodig reeds een of ander vorm van hulp. (Foto: Twitter)

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê hoewel Covid-19 ʼn ernstige bedreiging vir die gesondheid van mense inhou, het ekonomiese disintegrasie ook die potensiaal het om dood te maak.

“As ons nie versigtig is nie, kan die situasie net vererger – selfs nadat die inperking opgehef is.”

Sakeliga is van mening dat die regering se bestaande benadering fundamenteel gebrekkig was. Pogings om “noodsaaklike” goedere en dienste te identifiseer, skep verskeie probleme – en stel die regering aan erge kritiek bloot.

“Die probleem met die regering se benadering tot dusver is dat dit spesifieke sektore van die ekonomie uitdruklik moes toelaat om te funksioneer. ’n Ekonomie – en die behoeftes van die mense daarin – is egter heeltemal te kompleks vir hierdie soort regulering.

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Tanaphong Toochinda/Unsplash.)

“Die gevolg van hierdie beleid is dat die regering babaklere verbied, die verkoop van warm kos verbied, verskeie besluite moes herroep en dan – enkele dae later – alles weer  van voor af herbedink. Dit was erg genoeg tydens die inperking, waartydens net sekere sakeondernemings toegelaat is om te funksioneer. Kan jy jou die chaos voorstel as jy probeer om ’n hele ekonomie op hierdie wyse te reguleer,” sê Le Roux.

Sakeliga sê die beleid sal vir die regering ’n manier bied om sy plig na te kom om risiko te beperk, terwyl hy steeds op die private sektor staatmaak vir kreatiewe oplossings. Sakeondernemings wat riskante gedrag kan uitskakel sal toegelaat word om te funksioneer – of sal gesluit bly as hulle dit nie kan doen nie.

“Die regering se mislukking berus in wese op die fundamentele onmoontlikheid om te onderskei tussen wat noodsaaklik is en wat nie – want byna alles is in die een of ander stadium vir iemand noodsaaklik. Enigiets van gloeilampe, babaklere, warm jasse, bereide voedsel of elektronika kan in jou bepaalde omstandighede noodsaaklik wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Willem ·

Daar is darem n paar slim gekwalifiseerde name by die raadgewers. Baie goeie idees om die ekonomie te red. Die probleem is die ANC wat nie die minste belangstel om die ekonomie te red nie

IQMaps ·

So bly ek is nie die enigste een wat dieselfde gedagte gehad het Nie. Besigheid moet voortgaan onder beheerde vereistes waaraan moet voldoen word. Die omstandighede wat veroorsaak is deur die virus moet bestuur word en ons moet ons lewens hervat. Dit is ‘n nuwe uitdaging en so ook ‘n geleentheid vir nuwe besigheid en leefstyle wat volhou moet word. Die regering se voorstel is glad nie volhoubaar nie en herstel van wetende skade moet ook in berekening gebring word, want ons moet so naas moontlik kan terug keer na die posisie waarin ons was voor alles gebeur het.

Maria ·

Hoop daar word vir hierdie nuwe strategie word tot in die hoogste howe geveg. Internasionaal. Indien dit nie gebeur nie , wel dan is dit tiekets en cheers. die regering is toetentaal die kluts kwyt jammer

Grassie ·

Die ekonome en sakelui se voorstelle maak sin maar die ANC gaan dit nie aanvaar nie, dit strook nie met hul sosialisties sienswyse nie. Hulle sal ook nie wil erken iemand anders het dalk ‘n beter oplossing as hulle nie. Dan is daar nog die kwessie van politieke oorlewing. CR se stemvee is besig om in opstand te kom en hy moet mlijarde rand in hulle instop om hul guns te behou. Hy ontplooi liewers 73 000 gewapende soldate om sy vernietigende planne deur te boelie.

Oranje-Blanja-Blou ·

Definieer Kommunisme so: Dis die oor regulering van alles (deur ‘n beleid van totale beheer) totdat als tot niet gereguleer is. Bewyse van Kommunisme se mislukkings lê die geskiedenis vol.
Jy kan ‘n Kommunis vertrou om ‘n Kommunis te wees. Hierdie ekonome se voorstelle is gebaseer op die beleid van minder regulering deur die regering.
Geen mens verander sy beleid sonder die Here wat die hart verander nie. Bid dat die Here hulle sal verander. As jy wyer om vir ‘n Kommunis te bid, aanvaar dan wat jy oor jouself toelaat.

Michael 1 ·

Ek weet uit ondervinding dat as Dawie Roodt en Mike Schüssler betrokke is dan ondersteun ek dit 100%

Termiet ·

Skrap bee in totaliteit en bring die blanke kennis, ervaring en bereidwilligheid terug.

Johanncb ·

Ek stem saam met Piet le Roux. Die “behoeftes van die mense” is onontbeerlik. Nie net vir die ekonomie nie, maar ook vir die mens se algehele welstand!

Kobus ·

Aan die slimkoppe.Hier is my voorstel.Ons is ongeveer 57miljoen inwoners in SA.Indien die regering aan elke volwassene R1miljoen skenk,dan praat ons van ongevver R50m want kinder is uitgesluit.Die opbrengs op hierdie bedrag sal 15% wees(BTW).Die mene sal koop en die ekonomie so instand hou.Ja,daar sal wees wat dit mors,maar wat daarvan? BTW word op alles gehef.Sou ‘n persoon bv ‘n motor daarmee koop,is die opbrengs op die bedrag nog beter.Bv motor kos R250,000.00 BTW daarop is R37,500.00.Die motor moet gelisensieer word,versekering moet uitgeneem word,brandstof en onderhoud.Maak maar self die som en bepaal die inkomste wat een motor genereer. Sou iemand eerder verkies om ‘n huis te koop,is die som nog beter.Hoeveel oordragkoste,prokureurkoste ens word gehef.Sou ‘n persoon ‘n besigheid wil begin,bereken maar al die gelde wat vir verskillende rade ens betaal moet word.
Maar dis mos makliker om te leen,hoor juis vanoggend ons CR vra nou hulp vir Afrika.Bedel weer.

Mieke ·

Nee wat… die ANC het klaar besluit. Hy hou sy ore doof vir enige positieve insette en goeie raad wat voorgesteld word!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.