Kenners verwag nog ‘lugkastele’ in staatsrede

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Kenners hou nie hul asem op vir enige tasbare planne om die ekonomie te red wanneer pres. Cyril Ramaphosa Donderdag om 19:00 sy staatsrede lewer nie.

Die ekonoom Dawie Roodt voorspel dit gaan oudergewoonte niks wees om oor huis toe te skryf nie.

Roodt sê die Covid-19-pandemie, die ekonomie en politiek gaan waarskynlik hoog op die president se agenda wees, maar hy glo nie die rede gaan enige groot verrassings oplewer nie.

“Ons gaan weer teleurgesteld wees. Hy gaan weer vir ons die son en die maan en die sterre beloof en mense gaan weereens daardeur sien.

“Hy gaan waarskynlik heelwat praat oor die entstof en die inentingsprogram – en dit is baie belangrik want dit gaan bepalend wees van hoe ons ekonomie gaan presteer. Dit gaan sonder twyfel hoog op sy lys wees, maar dit gaan ʼn gewone herhaling van die ‘familievergadering’ wees.”

Die minister van finansies, Tito Mboweni, lewer later vandeesmaand sy begrotingsrede, maar Roodt sê Ramaphosa sal na verwagting self ʼn paar opmerkings maak wat toegang tot breëband, die instel van ʼn basiese inkomstetoelaag en die voortslepende elektrisiteitstekort kan insluit.

“Hy gaan dalk ʼn ekonomiese plan aankondig soos hy altyd doen, maar dit gaan weer net êrens lê en stof opgaar.”

Roodt sê een van die kwessies waaroor Ramaphosa veral sterk standpunt behoort in te neem, is die voorgesette minagting van die Grondwet en die oppergesag van die wet.

Hy verwys onder meer na oudpres. Jacob Zuma se opmerkings oor die Zondo-kommissie wat bewerings van staatskaping moet ondersoek, asook die sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, se steun aan Zuma.

Roodt sê ook Jessie Duarte – adjunk-sekretaris-generaal van die ANC – wat in Daily Maverick geskryf het sy hoop nie die Zondo-kommissie verander die land se demokrasie in “meer van ʼn neo-liberale konkoksie as wat dit reeds is” nie, se opmerkings behoort gevaarligte te laat flikker.

“Die president kan dit nie net los nie, hy móét dit pak – maar hy is nie ʼn konfrontasie-persoon nie. Hy is ʼn konsensus-soeker. Die regte ding is nie vir hom belangrik nie, solank almal net gelukkig is,” sê Roodt.

Roodt sê hy vermoed Ramaphosa gaan enige konfrontasie met sy kollegas vermy, maar dat niks gaan verander tot die president nie voet neersit en sê die Grondwet is die oppergesag en almal moet dit eerbiedig nie.

“Die blatante wyse waarop die Grondwet en die regstelsel geminag word, is onaanvaarbaar. Ek het nie woorde daarvoor nie.

“Cyril Ramaphosa is ʼn swak president wat in ʼn swak posisie is. Hulle het ons verskriklik teleurgestel. Dit is Ramaphosa en die drieparty-alliansie se skuld dat ons is waar ons is.”

Gerhard van Onselen, ʼn senior navorser by Sakeliga, sê die land bevind hom in ʼn uitdagende beleidsklimaat en Suid-Afrikaners het boonop sekerheid nodig oor hoe die regering die Covid-19-pandemie voortaan gaan hanteer.

Dit hou veral verband met kwessies soos die ramptoestand en onsekerheid oor of die ekonomie weer gaan sluit as infeksies nog ʼn keer opvlam.

Van Onselen sê die ANC-regering het tot dusver ʼn baie ideologiese benadering tot die bestuur van die ekonomie gehad en die organisasie sal vanaand wil sien of sake- en markvryheid geprioritiseer gaan word.

Hy sê Ramaphosa gee vanaand hopelik ook meer duidelik oor die mate van hervorming op ekonomiese gebied en of dit net lippetaal gaan bly.

André Cilliers, direkteur van TreasuryOne en spesialis op die gebied van wisselkoersrisiko, sê hy sou wou sien dat Ramaphosa ʼn daadwerklike plan uitstippel van presies hoe werk geskep gaan word en besteding in bedwang gebring gaan word.

“Ons wil daadwerklike optrede sien, nie lugkastele nie. As ek egter kyk na die geskiedenis, is dit nie wat ons gaan sien nie,” sê hy.

Cilliers sê die regering hanteer Suid-Afrikaners met ʼn houding van hulle “moet gesien en nie gehoor word nie”.

“Dit spruit uit suiwer arrogansie en ʼn houding van onaantasbaarheid. Daar is geen aanspreeklikheid in die regering nie.

“Ramaphosa sal waarskynlik  ʼn vae, breedweg gestelde raamwerk gee oor hoe die ekonomie weer op dreef gekry gaan word en hy gaan alle skuld pak op die pandemie, korrupsie en die vorige bedeling – net soos verlede jaar en die vorige tien jaar.”

Cilliers meen ook enige besonderhede oor enige planne om weer lewe in die ekonomie te blaas, gaan op ministers soos Mboweni afgeskuif word.

Hy verwag nie dat die staatsrede enige groot uitwerking op die rand of die markte gaan hê nie. “Dit gaan minimale tot geen reaksie ontlok nie – ons is al immuun teen hierdie beloftes.”

Hy sê enige moontlike reaksie van die markte gaan waarskynlik eers volg op Mboweni se begrotingsrede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Anoniem ·

Laas keer het hy herhaaldelik gesê “I have a dream”. Vanaand sal hy seker vertel van sy vele nagmerries!!

JohanR ·

Het Martin Luther King nie ‘n droom gehad nie. Soe Ramaphosa het plagiaat gepleeg? Seker hier gepraat van da

Johan ·

Was sedert 1994 ligkastele maar erger onder Zuma en Ramaphosa. Geld vat en nuwe belasting is makliker om te implimenteer. Siek en sat!!!

Sarel ·

Bla bla bla slegs Prrsoonlike en ANC belange word gedien nie die land sin nie. Indien hy dit nie doen nie skop hulle hom uit

jacques ·

Blah blah blah, as jy genoeg kiesers het wat jou blindelings verkies keer op keer het jy Carte Blanche om te se wat jy wil…dus kan hy se wat hy wil sonder enige verantwoording daarvoor nie.

Suzette ·

Ek kul jou hier en ek kul jou daar en siedaar…………………

Johann ·

LIAR LIAR…SOUTH AFRICA’s ON FIRE….blykbaar is Ramaposa se Pinocio Sindroom een wat uniek is…sy neus groei nie vorentoe nie?

Werner ·

Glo nie hy sal veel kan se nie hulle het mos nou klaar alles onherstelbaar verwoes.Weet nie wie luister nog na die twak wat hy praat nie.

TO ·

Ja hy sal die lugkastele verf en sy chronies dit verf met die belastingbetalers se geld

Aikie ·

Ten minste het ons nou die pandemie as swartskaap, anders het apartheid weer pak gekry. Indien Zuma die Zondo kommisie suksesvol ontduik is die hele kommisie ‘n foefie en het hy geen magte nie. Die belastingbetaler is op pad om twee biljoen Rand in die water te gooi en dit gaan ons beeld in die buiteland onberekenbare skade doen. Geld belê in’ n land waar jy nie seker is van jou dak oor jou kop nie, van jou veiligheid op straat, van netpraat en niks doen nie? I dont think so Ramposie!

Riaan ·

Daar bestaan ‘n 100% kans dat die 3 woorde iewers sal opduik – Because of apartheid.

Vrijburger ·

Dawie Roodt se: “Ons gaan weer teleurgesteld wees. Hy gaan weer vir ons die son en die maan en die sterre beloof en mense gaan weereens daardeur sien” – som dit goed op.

Alleen Wolf ·

Hy hoef niks te se nie behalwe dat die ANC regering ‘n “RAMP VAN FORMAAT” is.

Nie Verbaas ·

Lugkastele wat nie uitgevoer sal word nie. Die gewone ANC strategie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.