Kêrel beken skuld ná student se liggaam in tas

Nosicelo Mteben se liggaam is in ʼn tas gevind. (Foto: Fort Hare Alumni Chapter/Facebook)

Die 23-jarige regstudent aan die Fort Hare-universiteit (UFH) se Oos-Londen-kampus wie se verminkte liggaam vroeër vanjaar in ’n tas langs die pad gevind is, se kêrel het skuld beken.

Alutha Pasile (25) is Maandag skuldig bevind aan die moord op sy vriendin, Nosicelo Mtebeni, sowel as regsverydeling.

Pasile het skuldig gepleit op albei aanklagte.

Hy het aangevoer dat Mtebeni hom ten tyde van die moord verneuk het. Hy het egter in ’n video op die internet aan die idee gekom om haar liggaam op te kap, in ’n tas te plaas en daarmee weg te doen. Hy was onder die invloed van tik toe hy dié plan deurgevoer het.

Só is student vermoor

Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), sê Pasile het in sy skulderkenning meer besonderhede rakende die moord verskaf.

Luidens die erkenning het die paartjie mekaar in Januarie 2019 ontmoet waarna hulle later saam ingetrek het. Pasile en Mtebeni was baie geheg aan mekaar en het selfs mekaar se selfone gedeel.

Pasile het egter kort voor die moord vermoed dat Mtebeni hom verneuk nadat sy ’n week lank na haar ouerhuis toe is en by haar terugkeer vreemd begin optree het. Sy het ook haar selfoon se wagwoord verander.

Die paartjie het die aand van 16 Augustus saam drankies geniet. Volgens Pasile het Mtebeni egter meer aandag aan haar selfoon as aan hom gegee en hy het haar daaroor konfronteer.

Pasile het glo die volgende dag skelm toegang tot Mtebeni se selfoon gekry terwyl sy in die badkamer was. Hy het liefdesboodskappe aan iemand anders opgemerk en haar daaroor gekonfronteer.

Volgens Pasile het sy probeer om haar selfoon by hom af te neem. Dit is toe dat hy ’n mes gegryp het en haar daarmee begin steek het.

Mtebeni het terugbaklei en die mes het geval. Pasile het Mtebeni gegryp en haar hard teen ʼn muur gestamp. Sy het haar kop gestamp, geval en is toe dood.

Luidens sy skulderkenning het Pasile in ’n poging om die moord te verbloem op die internet gesoek na maniere om van ’n liggaam ontslae te raak. Hy het op ’n video afgekom waarin daar gewys word hoe om ’n liggaam op te kap, in ’n tas te plaas en daarmee weg te doen.

Pasile het toe vir hom tik gaan koop en dit gerook. Hy het gesukkel om daardie aand te slaap en is die volgende dag na die hardewarewinkel om die toerusting te koop wat in die betrokke video gebruik is om ’n liggaam mee op te kap.

Pasile het toe meer tik gebruik om moed bymekaar te skraap om sy plan deur te voer.

Maroela Media het vroeër berig Mtebeni se liggaam is kort daarna in ʼn tas in Quigney deur ʼn pendelaar aangetref. By die tas was ʼn swart sak met ander liggaamsdele.

ʼn Ooggetuie het gesien hoe Pasile die oggend vroeg met ʼn pers tas en ʼn swart sak sy huis verlaat. Dié beskrywing het ooreengestem met die sakke waarin Mtebeni se oorskot gevind is.

Ngcakani sê senior staatsadvokaat Nickie Turner het bevestig dat die skulderkenning in ooreenstemming was met inligting tot haar beskikking.

Die staat het intussen sy saak afgehandel en die saak is uitgestel tot Donderdag vir ’n voorvonnisverslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Yvonne

Neeee genade…hoe boos is die mens nie

Swerwer

Dood het altyd ‘n oorsaak!