Kêrel in hof oor vrou se moord in hospitaal

(Argieffoto: Jossué Trejo/pixabay)

ʼn 26-jarige man het Maandag in die hooggeregshof in Limpopo verskyn in verband met die moord op ʼn vrou wat besig was met ʼn internskap by ʼn plaaslike hospitaal.

Ntiyiso Xilumane staan tereg op aanklag van moord en roof met verswarende omstandighede vir die moord op Shongile Nkhwashu. Xilumane en Nkhwashu was ten tyde van die voorval, op 15 Januarie 2020, in ʼn romantiese verhouding.

Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die direktoraat vir openbare vervolging, het gesê Nkhwashu het op die betrokke dag ʼn teksboodskap aan die beskuldigde gestuur oor sy onaanvaarbare gedrag. “Die beskuldigde was ontstoke oor die boodskap en het na Mankweng-hospitaal gery, waar Nkhwashu werksaam was. Hy het haar verwurg.”

Haar liggaam is die aand van 19 Januarie 2020 in haar kamer gevind.

ʼn Persoon, wat die hospitaal besoek het, het ontdek een van die kamers is gesluit toe die persoon ʼn onwelriekende reuk geruik het. “Die polisie is ontbied en die deur is oopgebreek. Die oorledene is op haar bed aangetref. Sy het reeds begin ontbind.”

Nkhwashu was maar twee weke lank besig met haar internskap by die hospitaal toe sy vermoor is.

Xilumane het skuld beken op aanklag van moord. Die beskuldigde het erken dat hy haar gewurg het. Hy sal na verwagting Dinsdag weer in dieselfde hof verskyn. Hy bly in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.