Kêrel pleit onskuldig op Pule se moord

Tshegofatso Pule (Foto: Twitter)

Die vermeende moordenaar en gewese kêrel van Tshegofatso Pule (28) se verhoor het Maandag in die hooggeregshof in Johannesburg begin. Hy het onskuldig gepleit.

Ntuthuko Ntokozo Shoba word daarvan beskuldig dat hy in Junie 2020 die 31-jarige Muzikayise Malephane gehuur het om die swanger Pule te vermoor in ʼn poging om haar swangerskap van sy vrou weg te steek.

Hy staan tereg op aanklagte van moord, sameswering tot moord en regsverydeling.

Volgens Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Gauteng, het die staatsaanklaer, adv. Faghre Mohammed, Maandag die getuienis van Pule se vriend gelei.

“Die vriend het Pule se verhouding met Shoba in die hof uiteengesit en ook vertel watter soort persoon Pule was,” sê Mjonondwane.

Maroela Media het vroeër berig Pule, wat agt maande swanger was, se liggaam is in Junie verlede jaar met steekwonde en opgehang aan ʼn boom in Roodepoort aangetref. Sy is twee weke vantevore die laaste keer gesien toe sy in ʼn taxi geklim het wat Shoba vir haar gereël het.

Malephane is kort nadat Pule se liggaam gevind is in hegtenis geneem in verband met die moord. Malephane het skuld beken op Pule se moord en is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.

Hiervolgens het hy onderneem om teen Shoba, wat hy as die baasbrein agter die moord bestempel het, te getuig. Hy het saam met Shoba skoolgegaan en is glo R70 000 aangebied om Pule te vermoor.

Malephane sal ook tydens die verhoor teen Shoba getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JM ·

Te kortsigtig, onnosel, om aan die gevolge te dink. Die tronke is oorvol net van moordenaars. Kan steeds nie verstaan hoe ‘n mens dit regkry om iemand te vermoor nie.

Tanniepetoors ·

Hoe leef jy met jouself as jy jou ongebore kind en dié se ma laat vermoor?

Althes ·

Skokkend! Om jou minnares en jul 8maande oue baba te laat vermoor met steekwonde en ophang, is daar definitief ñ kortsluiting in ñ mens kop se bedrading. Dieselfde geld vir die moordenaar.

Christine ·

Als vir geld…. Hoe boos moet mens wees om die pragtige, jong swanger vrou so geweldadig te vermoor en aan ‘n boom op te hang, terwyl die baba vanself geaborteer het na die vrou dood is! Dis onmenslik en iets is verkeerd in sulke mense se breine. Mag hulle swaar gestraf word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.