Kêrel skuldig aan swanger vrou se moord

Ntuthuko Shoba in die hof. (Foto: NPASouthAfrica/Twitter)

Ntuthuko Ntokozo Shoba is Vrydag skuldig bevind aan die moord op die ma van sy ongebore kind, Tshegofatso Pule.

Dit volg byna twee jaar nadat Pule, wat agt maande swanger was, in Junie 2020 met steekwonde en opgehang aan ʼn boom in Roodepoort aangetref is.

Waarnemende regter Stuart Wilson het vroeër vanoggend sy uitspraak in die Gautengse hooggeregshof in Johannesburg gelees.

Shoba is skuldig bevind op aanklagte van moord en sameswering tot moord, maar is egter onskuldig bevind op aanklag van regsverydeling.

Muzikayise Malephane, wat deur Shoba gehuur is om Pule te vermoor in ʼn poging om haar swangerskap van sy vrou weg te steek, het Shoba as die baasbrein van die moord beskryf.

Malephane het vroeër skuld beken op Pule se moord en is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan het. Hy het later ʼn staatsgetuie geword.

Tshegofatso Pule (Foto: Twitter)

Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die hof bevind dat sy getuies oor Shoba se betrokkenheid duidelik en bevredigend was. Dit is verder gestaaf deur ander staatsgetuies en kringtelevisie wat wys hoe Shoba saam met Pule uit die woonkompleks stap die aand toe sy vermoor is.

Wilson het Shoba se weergawe van gebeure oor Pule se vertrek van sy woning op die aand van haar moord verwerp.

Malephane het Pule op 4 Junie by Shoba se huis opgelaai onder die voorwendsel dat hy ʼn Uber-bestuurder is. Hy het “op ʼn donker plek” stilgehou en Pule vermoor. Hy wou dit egter na ʼn selfmoord laat lyk en het na Durban Deep gery, waar hy haar aan ʼn boom opgehang het.

“Die regter is tevrede dat die staat sy saak bo alle redelike twyfel bewys het,” sê die NVG.

Shoba sal op 10 Mei weer in die hof verskyn vir sy vonnisoplegging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.