‘Kerk sal vir Zuma bid, nié finansieel ondersteun’

Jacob Zuma (Foto: Nic Bothma, Pool via AP)

ʼn Biskop van KwaZulu-Natal het Maandag gesê die kerk sal aanhou om oudpres. Jacob Zuma “geestelik te ondersteun”, maar sal geen ondersteuning van ʼn finansiële aard bied indien Zuma self moet pa staan vir die regskoste van ʼn strafregtelike saak nie.

Biskop Vusi Dube, stigter van die eThekwini Community Church International, sê die kerk het geen kapasiteit om fondsinsamelings te hou om die oudpresident by te staan – sou hy verantwoordelik wees om self op te dok nie.

“Ons werk glad nie aan fondsinsamelings nie. Ons ondersteun die voormalige president en sy familie geestelik,” het Dube gesê.

Die eThekwini Community Church International en verskeie ander kerke wat val onder die National Interfaith Churches of South Africa (NICSA) het Maandag vergader om saamtrekke te bespreek wat sal plaasvind voor Zuma se tweede hofverskyning.

Die Kommissie vir Godsdienstige Sake en Andile Mngxitama van Black First Land First (BLF) was ook teenwoordig.

Al die teenwoordige lede het hul ondersteuning vir Zuma beklemtoon en ondersteun die sogenaamde #HandsOffZuma-veldtog.

Die groep beoog om eerskomende Donderdag weer ʼn nagwaak by die King Dinuzulu Park te hou ter ondersteuning van Zuma se tweede verskyning. Dieselfde groep het ook ʼn nagwaak met die oudpres. se eerste verskyning gehou.

Die groep sal glo van die King Dinuzulu Park na die Victoria Embankment loop en dan buite die Durbanse hooggeregshof saamdrom om te wag totdat “Zuma sy ondersteuners toespreek”.

Mngxitama het Maandag gesê Zuma was Suid-Afrika se “intellektuele leier vir radikale ekonomiese transformasie”. Nkosentsha Shezi, sekretarisgeneraal van die National Funeral Practitioners Association, het gesê swart ondernemings in die land baat nie deur Zuma se afdanking nie en die aanklagte teen hom moet laat vaar word.

Die opposisieparty het vroeër gevra dat die ooreenkoms dat die regering pa staan vir Zuma se regskoste in ʼn strafregtelike saak, ter syde gestel moet word. Pres. Cyril Ramaphosa het laat verlede maand gesê hy sal nie dié aansoek teenstaan nie.

Die presidensie het verlede maand gesê hy het hofstukke by die hooggeregshof in Pretoria ingedien om aan te dui dat hy sal berus by die hof se beslissing oor hierdie saak.

Die DA het in Maart vanjaar ʼn hofaansoek ingedien om te versoek dat die ooreenkoms tussen die staat en Zuma, naamlik dat die staat sy regskoste sal betaal, ter syde gestel moet word. Die DA voer aan dit is onaanvaarbaar dat belastingbetalers ingevolge die ooreenkoms vir Zuma se regskoste moet opdok, aangesien Zuma die beweerde oortredings in sy persoonlike hoedanigheid begaan het en nie in sy amptelike hoedanigheid as LUR, adjunkpresident of president nie.

Die DA versoek deur die hofaansoek dat Zuma die R15,3 miljoen moet terugbetaal wat die staat reeds bestee het aan sy hofaansoeke om die herinstelling van strafregtelike aanklagte teen hom in die sogenaamde spioenasiebande-saak te verhoed.

Zuma het in April in die Durbanse hooggeregshof verskyn op 16 aanklagte wat verband hou met die omstrede wapentransaksie van die laat 1990’s met die Franse wapenvervaardiger Thales.

Zuma staan tereg op een aanklag van afpersing, twee aanklagte van korrupsie, een van geldwassery en 12 aanklagte van bedrog. Die saak is tot 8 Junie uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

dr. Sakkie van der Merwe ·

Dat kerke moet bid vir die grootste krimineel in die land se geskiedenis is ‘n bewys van die sedelike verval in SA. Die kerke behoort hul eerder uit te spreek oor die grootskaalse bedrog en diefstal in die staatsdiens asook plaasmoorde.

Saartjie ·

Dis waar dr…. Net GOD EN GOD ALLEEN KAN DIE LAND VERANDER

Gerda ·

Kerke moet bid vir redding en bekering van siele. En nie n persoon meer versterk in sy of haar kwaad nie.

Joshua ·

Soos Shawn Abrahams die Guptas beskerm, so ook gaan hy sy no1 comrade nml Jacob Zuma met afgewaterde aanklagtes beskerm en vry laat loop.

Mrs H ·

Ek bid eerder dat hy tronk toe gaan . Dit sal goed en reg wees en die rede waarom tronke bestaan.

Duncan Potgieter ·

JZ is die mees korrupte kriminele persoon wat SA nog gesien het en probeer nou agter die kerk skuil vir simpatie nadat belastinggeld finaal afgesluit is. Dit is `n skande dat die kerk vir hom bid – hy moet lewenslank tronk toe gaan vir sy dade en vrot in die tronk.
Dink jou in dat die korrupte ANC die krimineel met alle mag beskerm het .

GENOEG ·

kerke het my in die steek gelaat hoe moet ons nou die wet van God nog gehoorsaam wees as die kerk JZ nog bid gaan my verstand te bowe skokend . Plaas hulle bid vir die regeering vir omkeer en bekeering Ek is woord loos hier waar ek sit

Helena ·

Genoeg, weet net dat al het kerke en mense jou in die steek gelaat, God dit nooit sal doen nie. Hy is daar vir jou en ook vir geregtigheid. Die Bybel sê dat Hy jou nooit sal verlaat nie. Mense maak seer, vergewe hulle en klou vas aan God. Moenie hom seermaak deur Hom in die steek te laat nie.

Foxi ·

SODOM EN GAMORRA! Hoe blind is julle mense nie net nie…….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.