Kerk wat Ngcobo-aanvallers ‘huisves’ glo gesluit

Fikile Mbalula spreek die gemeenskap toe. Foto: ANA.

Die Mancoba Seven Angels Ministries Church in die Nyanga-nedersetting naby Ngcobo in die Oos-Kaap waar verdagtes wat glo vyf polisiebeamptes vroeër vandeesweek afgemaai het weggekruip het, sal volgens Fikile Mbalula, minister van polisie, gesluit word.

Mbalula het Vrydag aan die Ngcobo-gemeenskap gesê die kerk se deure sal gesluit word omdat dit nie ʼn plek van aanbidding is nie “maar eerder iets anders”. “Daar is geen kerk daar nie, net satanisme, hulle bid vir niks en word gehipnotiseer.”

Dié kerk was glo voorheen in die nuus toe owerhede ontdek het dat kinders onwettig daar aangehou en van skoolonderrig weerhou is.

Maroela Media het vroeër berig brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het gesê tien verdagtes is vasgetrek terwyl ander daarin kon slaag om te ontsnap. “Een polisiebeampte is gewond, maar hy sterk aan in die hospitaal,” het Mulaudzi gesê.

“Die groep het ʼn kerk as wegkruipplek gebruik en is in die kerk se terrein in ʼn hoek gedryf. ʼn Skietgeveg het tussen die verdagtes en die polisie losgebars en sewe verdagtes is doodgeskiet.”

Mulaudzi het bygevoeg ʼn onbekende aantal verdagtes kon daarin slaag om te ontsnap en word deur die polisie gesoek.

Die toneel. Foto: Verskaf.

Lt.genl. Khehla Sithole, nasionale polisiekommissaris, het Saterdag in Ngcobo gesê die verdagtes het eerste op die beamptes losgebrand. “Ons is deur die taakspan gelei en toe ons daar aankom het ons hulle in kennis gestel dat ons die polisie is en hulle versoek om na een kant toe te beweeg sodat ons die wapens kan soek [wat gesteel is tydens die aanval]. Ons het nog nie een klaar gepraat nie toe begin skiet hulle op ons en tref een van die beamptes en wond hom. Ons het teruggeskiet en sewe is doodgeskiet, én ons het elke liewe een van ons wapens terug gekry.”

Sithole het gesê die waardigheid van die polisiestasie is weer herstel. “Dié wat aangeval het, sal dit nooit weer doen nie.”

Lede van die Ngcobo-gemeenskap het in groot getalle na die kerk beweeg en liedjies gesing dat dit afgebrand moet word. Mbalula het op die toneel met die gemeenskap gepraat en hulle die versekering gegee die kerk sal gesluit word. “Ons gaan nie ʼn situasie toelaat waar mense doen wat hulle wil nie, ons is ʼn land met ʼn wet. Dié wat hier dood is sal boeie in die hemel kry.”

Mbalula het die gemeenskap gewaarsku teen instansies wat “kamstig” die Here wil dien, maar eintlik ander bedoelings het. Hy het ook die gemeenskap gemaan om nie reg in eie hande te neem en die kerk af te brand nie, maar eerder toe te laat dat die reg sy gang gaan.

Volgens Mbalula is pres. Cyril Ramaphosa ook baie tevrede met die werk wat die polisie gedoen het.

Die polisie soek glo in die grotte agter die kerkperseel na die verdagtes wat daarin kon slaag om te ontsnap.

Maroela Media het vroeër berig ʼn groep gewapende aanvallers het vroeg Woensdag die Ngcobo-polisiestasie binnegegaan en op die beamptes aan diens losgebrand.

Drie beamptes asook ʼn afgetrede soldaat is op die plek doodgeskiet. Die verdagtes het van die toneel gevlug met ʼn polisievangwa en het twee polisiebeamptes saam met hulle geneem.

Die liggame van die twee beamptes is later langs die pad, sowat ses kilometer van die polisiestasie, aangetref. Dit blyk dat albei beamptes op teregstellingswyse geskiet is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Wessie ·

Baie goed gedoen manne, maar ai tog daar sluit hulle 14 van julle weer toe by grenspos ook vir skelmstreke.

Wessie ·

Baie mooi gedoen SAPD, maar ai tog daar sluit hulle weer 14 van julle eie makkers toe by grenspos.

Isabel ·

Snaaks dat die moordenaars so gou gevang was. Wat vd duisende blankes en boere wat vermoor is en wat daar net niks van gesê word of skuldiges gevang word nie?

Frik ·

Presies wat ek wou se. Stem ? persent saam met jou. Ek voel jammer vir die families.

Llewellyn ·

Hoe is dit moontlik om soo ‘n nes soo naby die polisie te vestig, en nog ander rooi ligte te kry en die polisie s
reageer nie. Nee begin by die polisie beweeg dan na die kerk.

Bricks du Plooy ·

Sover ek weet is satanisme heentemal wettig solank die wet nie oortree word , dit geld ook vir christene

AG ASB spaar my tog ·

Wat praat jy tog? Die satanisme gedeelte is net genoem, hulle het 6 mense trompop DOODgeskiet, so hoekom moet die sataniste en CHRISTENE nouweer met mekaar vergelyk word? Probeer jy ‘n punt bewys? Hulle HET die wet oortree, hulle het POLISIEMANNE DOODGESKIET, EN hulle het skuiling aan MOORDENAARS gebied, so waar val jy nou uit met jou wettige satanisme?

CHRISTA ·

As daar al voorheen teen die kerk opgetree is vir onwettighede soos die aanhou van skoolkinders, waarom het die Polisie nie voortgegaan om kort-kort terug te gaan en te kyk of hulle nog steeds met onwettighede besig is nie? Ons Polisie weet mos dat kriminele nie sommer met hulle bedrywighede ophou nie!!

TillaPol ·

Het niemand vd gemeenskap/SAP iets opgemerk wat id “kerk” gebeur nie? Wat se opvolg was daar na kinders in ‘16 hier verwyder was? Iets net nie heeltemal pluis nie. Doen asb dieselfde na n plaasaanval/huisrooftog Minister&Kie

Cassie ·

Dit is tragies wat met die beamptes gebeur het.My hart gaan uit na hulle families en ek bid hulle vind vertroosting en krag om hierdie tragedie te kan verwerk.Ek merk met kommer dat nie een van hulle koeelvaste baadjies aan het nie of is dit nie nodig as hulle in die stasie is nie.

Geen vertroue ·

Ek hoop die plaasaanvallers word ook so gejag sowel as die mense wat die jong vrou by die Engen garage doodgeskiet het en die man in sy huis .. HOEKOM kry ons nie dieselfde behandeling as die lede van die polisie nie? GELD die GRONDWET Net vir die polisiemanne? Ons is belastingbetalers en ons VERDIEN ook om veilig te wees en ons verdien OOK ekstra moeite om die moordenaars op te spoor as ons mense vermoor word ..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.