Kerkdeure toegesweis oor twis   

Foto: Verskaf

ʼn Gemeente van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider Afrika (VGK) se kerkdeure word sedert 2018 gereeld toegesweis om te verhoed dat daar ʼn kerkdiens gehou word. Dit gaan dalk die wysheid van die Bybelse koning Salomo verg om uiteindelik dié saak te beredder want die oortreder is glo niemand anders nie as die leraar wat al etlike jare in die pastorie op die kerkterrein woon.

Die Mogwase-gemeente van die VGK naby Sun City in Noordwes het sowat 600 lidmate. Mogwase was aanvanklik ʼn wyk van die VGK se Mabodisa-gemeente, maar het in 2016 toestemming van die ring van Saulspoort ontvang om af te stig. Weens verskeie kerkordelike onreëlmatighede erken Mabodisa egter steeds nie Mogwase as ʼn onafhanklike nuwe gemeente nie en Mabodisa se predikant, eerwaarde Simon Kwape, weier om uit die pastorie te trek.

Die gevolg is dat Mogwase nie hul eie predikant kan beroep nie en van ʼn konsulent vir bediening gebruik moet maak. Dié moes al male sonder tal voor die kerkdeur omdraai omdat dit die vorige nag stewig toegesweis is. Die binnekant van die gebou is ook al met modder en droë blare bemors.

Foto: Verskaf

Die voorsitter van Mogwase se kerkraad, Harry Masege, het aan Maroela Media gesê die gemeente het reeds sowat R50 000 bestee om herhaaldelik die kerkdeure oop te kry. “Ons kry ʼn plaaslike ketelmaker wat ʼn slypmasjien (grinder) gebruik maar as ons weer by die kerk kom, is dit dieselfde storie.”

Mogwase het wel sekuriteit by die kerkgebou, maar die gemenespel duur steeds voort. Die laaste tyd het iemand dit glo reggekry om snags tandestokkies in die deurslotte te druk sodat die sleutels nie werk nie. Die afgelope naweek was gemeentelede tot middernag Saterdag by die gebou, maar Sondagoggend was al die slotte vol vuurhoutjies en die deure is eers ure later met ʼn groot gesukkel oopgekry.

Die saak is reeds op die hoogste vlak van die VGK bespreek, maar dit lyk of ʼn permanente oplossing nie deur die kerk afgedwing kan word nie. Kwape het glo intussen ook sy eie ring gestig wat as die ring van Bojanala bekend staan.

Gemeentelede het al reg in eie hande geneem en by geleentheid ook die pastorie se deure toegesweis. Kwape het toe ʼn beskermingsbevel teen Mogwase in die hof bekom. Op hul beurt het die Mogwase-gemeente ʼn soortgelyke bevel teen Kwape verkry wat hom verhoed het om naby die kerkgebou te kom.

Foto: Verskaf

Dit het beteken dat Kwape nie in of uit die huis waarin hy woon kon gaan nie want die enigste toegang tot die pastorie is digby die kerk. Volgens Masege het die partye toe ʼn kompromie aangegaan tot die hof uitspraak in die saak kan lewer en Kwape mag nou weer tot by sy huis kom.

“Maar die volgende stap is ʼn uitsettingsbevel teen Kwape,” sê Masege.

Mogwase se kerkgebou en pastorie is in 1984 deur die Lynnwood-gemeente van die NG Kerk aan die Mabodisa-gemeente geskenk. In 1996 het elke gemeentelid van die Mogwase-wyk R250 bygedra om die terrein en geboue by Mabodisa te koop. Die prys was R35 000 en Masega sê die akte is sedertdien na Mogwase oorgedra en die eiendom is in die gemeente se naam geregistreer.

Kwape beweer hy is nie bewus van die beskermingsbevel wat Mogwase teen hom verkry het nie. Hy sê kerklike aangeleenthede word nie deur ʼn predikant hanteer nie en dat hy nie verantwoordelik is vir kwessies rakende die bestuur van die kerk nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Dup ·

Net in SA.Dan wonder almal nog waarom alles skeefloop in hierdie land.

Martie Smartie ·

Die ou sweis maar bra swak. Nou wonder ek hoe dit R50G kan kos om ‘n paar keer die sweiswerk met ‘n grinder af te grind … die kerk moet maar ‘n groot grinder kry, sal so R1200 of so kos

Tanniepetoors ·

Wil regtig lyk of elke tweede kerkgenootskap in Suid-Afrika heftige binnegevegte het.
Hulle kan nie eens saamstem oor hoe om die Bybel te lees en verstaan nie en wil besluit wie mag in ‘n kerk mag trou en wie nie.
Is dit regtig vir mense om hierdie besluite te neem of is dit ego’s wat mekaar teëstaan?

Dubbelloop ·

Dit is rêrig baie maklik om hierdie probleem op te los. i) Klop aan by die ng kerk moderator of streek sinode. ii) Vra vir alan boesak om te help. iii) of vra n gesamentlike kerkvergadering van julle gemeente saam met die ng kerk.

Nicole ·

Ja-nee … en dan wonder ons waarom dit so ellendig gaan met ons “land van melk en heuning”!

Sarel ·

Baie goeie voorbeeld wat die mense stel.
Wie betaal sy salaris en sy dienstegeld

Nico ·

Volgens die boek Handelinge is daar net een kerk en dit is die Kerk van Jesus Christus. Dit is veregaande dat mense so te kere gaan oor ‘n kerk, die gemeentelede vorm die kerk en nie ‘n gebou nie, wil nie beoordelend wees nie, gaan hierdie gemeente ooit weer herstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.