Kerke eis ook Zuma se bedanking

Pres. Jacob Zuma (Oktober 2016) Foto: GCIS, Flickr

Die Anglikaanse kerk het Sondag aangesluit by talle oproepe dat pres. Jacob Zuma moet bedank en het protesaksie teen Zuma se omstrede kabinetskommeling die afgelope week aangemoedig.

Biskop Brian Marajh van die Bisdom van George in die Suid-Kaap het in ʼn verklaring ʼn beroep op ANC-raadslede in verskillende dorpe van die Bisdom gedoen om standpunt teen Zuma se besluit in te neem.

Marajh het gesê hy het met hartseer en teleurstelling kennis geneem van Zuma se besluit om Pravin Gordhan, minister van finansies, en sy adjunk, Mcebisi Jonas, af te dank. “Die president se bewering dat hierdie besluit geneem is om die effektiwiteit en doeltreffendheid van die kabinet te verbeter, is ʼn blatante leuen en ʼn bewys dat hy sy eie persoonlike belange najaag tot nadeel van die armes en mees weerlose burgers van hierdie land,” het hy gesê.

“Dit het nou duidelik geword dat verandering en hernuwing nie van binne die ANC sal kom vanaf die gekaapte president en sy korrupte besigheidstrawante nie.”

Marajh het ʼn beroep op ANC-raadslede gedoen om hul standpunt oor die saak duidelik te maak en aan te dui hoe hulle beplan om doelgerig oor die kwessie te verenig. Hy het ook ʼn beroep op die kerk se lede gedoen om deel te neem aan georganiseerde protesaksie van ander lede van die geloofsgemeenskap, nie-regeringsorganisasies en ander dele van die burgerlike samelewing in protes teen Zuma.

Intussen het die leierskap van die Apostoliese Geloofsending van SA (AGS) ook hul kommer uitgespreek oor die omstrede kabinetskommeling. “Terwyl ons ten volle verstaan en aanvaar dat dit die presidensie se reg is om hierdie tipe aksie uit te voer, bevraagteken ons die wyse waarop dit gedoen is,” het past. MG Mahlobo, president van die AGS, in ʼn verklaring gesê.

“Die presidensie se optrede om skielik die beleggerspromosietoer te eindig, skep ʼn situasie van spanning en onsekerheid in die land. Dit kan ʼn nadelige ekonomiese impak meebring. Ons doen ʼn beroep op die regering om deursigtigheid te toon wanneer staatsgesag uitgeoefen word. Ons doen ook verder ʼn beroep op ons pastore en lidmate om die huidige onsekerheid deur middel van gebed in ons Sondag-byeenkomste aan te spreek,” het hy gesê.

Biskop Raphael Hess van die bisdom van Saldanhabaai het ook in ʼn verklaring gesê pres. Zuma moet bedank. “Die Anglikaanse bisdom van Saldanhabaai sê ʼn besliste ‘nee’ vir jou [Zuma] voortdurende ontwrigting van ons maatskaplike en ekonomiese stabiliteit. Ons sê ‘nee’ vir jou korrupsie en die eindelose gierigheid onder jou vriende,” het Hess gesê. “Ons sê nee vir jou, mnr. die president.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

jaco ·

n biskop c.d. Anglikaanse Kerk vra dat Zuma moet waai. Dis vreemd, want dis dan die kerk wat in die ANC ad struggle jare selfs die ANC se gewapende stryd goedgekeur het. Dis dan die regering wat hulle wou gehad het. Te laat om nou te sê “dis nie eintlik wat ons wou gehad het nie’.

Erick ·

Die Anglikaanse Kerk se Christelike morele kompas is so van koers af hulle sal nie weet wat om met ‘n Bybel te doen as hulle een vind nie. Elkgeval as ‘n regering sy rug op God draai is dit een ding, maar as die kerke hulle rug op God en sy woord draai… Wat bly dan oor.

AL ·

Die kerke moes al lankal hul stemme dik gemaak het. Om stil te bly is net so skadelik.

Johann ·

Nou moet nog net sy kinders sy bedanking eis. En wat maak mens as hy sy g@t daaraan afvee? Wag tot die volgende verkiesing. hehehehe.

Adam ·

Jaco en Erick, julle kritiek teen een kerk is onbillik. Selfs die NG Kerk het “apartheid” uit dieselfde Bybel eers geregverdig en daarna verwerp. Onthou julle nog oud -min Vlok en sy voete-wassery? Daar was in elk geval in die nuwe SA ‘n reuse verwydering tussen kerk en staat en dit is myns insiens hoog tyd dat die kerke die politici aanspreek en ek ondersteun enige poging van enige kerk om ons absoluut patetiese president en sy regering tot verantwoording te roep. Ek dink trouens dat elke individu in die land wat oor ‘n gewete beskik en wat erns het met die land se toekoms sal opruk en Pres Zuma se kop sal eis. Hy is lankal verby die punt waar hy bloot ‘n verleentheid vir homself, sy party en SA is. Hy is nou die verwoester van SA.

snoefie ·

weereens skitter die katolieke kerk in hulle afwesigheid om kritiek teenoor zuma en sy hebsug uit te spreek. hulle glo blykbaar aan politieke korrektheis bo alles.

Scalla ·

Wag nog vir die tradisionele leiers en die tokohlosi se bevindinge oor sy voortbestaan, skandelik

Grassie ·

Scalla – hy het die tradisionele leiers veilig in sy geldsakkie toegeknoop en die tokolosh gaan weghardloop as hy vir Zoempas sien aankom.

Luister ·

Ek is bevrees niks gaan hom laat bedank nie.
Hy moet verwyder word.

ZUMA MOET VAL!!

chris liebenberg ·

hoop my kommentaar word vir n slag geplaas Luister ek stem hoe gouer hoe beter
maar wat gebeur na hy geval het ?

Aan Chris Liebenberg - Ek stem ·

Ja Chris dit is so vreemd vir my hoe almal op die ‘band wagon’ spring en wit en swart nou skielik wil saamstaan om hom te onttroon. Wat van as julle nou ZUMA se kop eis en MALEMA word PRESIDENT? Wat DAN? Hoe dink julle mense? Ja Zuma is ‘n swak president, maar glo my, Malema en hy speel al vir ‘n lang ruk vroteier, hulle is glad nie vyande nie, Malema se maar net wat Zuma nie mag se in sy posisie nie. Hoe langer Zuma president is hoe SWAKKER raak die ANC, duidelik wil nie almal ZUMA verwyder he oor dieselfde rede nie. Ons dink daar gaan iemand meer GEMATIGS kom, die EFF en ander dink daar gaan iemand meer Rewolusioner kom. Dink julle REGTIG na Zuma gaan iemand beters kom? WIE?

Theresa ·

Het ek ook al gewonder. Rather the d you know than the one you don’t know?? Als baie verwarrend. Hierdie dinge skep baie spanning. Dit skep vrees en ‘n gevoel van onveiligheid in ‘n land waar ons die reg het om te lewe. Gebed het ‘n kragtige effek. Al wil almal nie bid nie, moet dié wat wel wil bid, op God staatmaak en waaragtig vra vir uitkoms.

Johannes Meintjes ·

Dis ontnugterend om te wou dink dat “demokrasie” in die Nuwe SA, regering in geregtigheid vir almal sou bevorder. Inteendeel! Kan die koor van ontevrede stemme in die kerk, handel, samelewing en marionette politieke partye werklik ‘n positiewe ommeswaai teweegbring, – of is President Zuma nou al so gesponsor deur talle nasionale en internasionale marionettemeesters, – asook sy getroue binnekring van mede-plunderaars, – dat die bevolking (hetsy 53 miljoen of 80 miljoen saam met al die onwettige immigrante) niks meer as apatiese kanonvoer geword het wat neerbuig voor die skreiende verval in nasionale standaarde en brutale (moeilik herstelbare) ekonomiese plundering nie?

'Tsotsi' ·

TEKE – TEKE – MENE -MENE die skrif is aan die muur my oom #?!
Daar is ‘n pragtige uitdrukking wat lui; “*Jy maai wat jy saai”! (Sotho. ” O tla kotula”.) Dis nou oestyd my oom, dis een van die wonders van die natuur. Jy kan nie net plant maar nie oes nie. Ek vra ook dieselfde vraag soos Chris Liebenberg; wat gebeur na TEKE -TEKE -MENE-MENE? If I take a long ranch view into SA’s future, ek sien stormagtige wolke wat saampak gepaard met erstige oorstroomings. Mense laat die vuur homself uitwoed, ongelukkig gaan daar baie lewens verliese wees. Maar laat dit so wees!

Rynhardt ·

Die kerk eis Zuma se kop, maar die Anc word opsetlik geignoreer! Dit spreek boekdele.Waar was die kerke oor al die jare met regstellende aksie en moorde op wittes??Zuma gaan nie vrylik afstand doen van sy mag nie.Mense gaan die Anc se ware kleure sien met die rewolusionere-faksies wat nou hul ware kleure gaan wys.Zuma het reeds vir die rebelle gese:”Don’t bring a knife or spear to a gunfight!”

Oom Doug ·

Zuma het n dik vel . wat die kerke te se het pla hom glad nie. Hy luister net na die Gupta’s.

Here se kind. ·

TYGERBERG GESINSKERK, DURBANVILLE(KAAPSTAD) Ds Johann Delport- het gister n preek gelewer wat so geskok het- dat mense nie uitgeloop het nie, is oor hul bene te lam was!
Kyk gerus hul website: Tygerberg gesinskerk, click op preke en kry gister sin, 2 April 2017.
Hy t o.a.gegil, as jul Maandag by die werk kom, dan se julle voor al jullekollegas: “LANK LEWE DIE PRESIDENT(KONING)” Hele preek gaan oor: STOP JULLE RASSISME! EK HAAT RASSISME WANT MY PA WAS N RASSIS” en o.a. ook: 1994 moes gebeur sodat die evangelie in Suid Afrika verkondig kan word!
Dat n mens nie meer kan onderskei oor wat regtig aangaan in die wereld en land nie!
Vroeer die jaar gil hy van die skool se verhoog en maak allerlei bokspringe soos hy spot en se: Äs jy se jy s familie van Paul Kruger- Volk en Afrikaner- dan het JY nog nie by die KRUIS uitgekom nie!
Ek hoop en bid ander kerke (hul predikers)hou nog kop. Dit is so dat meeste mense nie vir hulself dink nie maar volg.NIE EK NIE.
Lank voor ek van PaulKruger geweet het, was Jesus in my hart. Maar God het my ook binne n spesifieke volk geplaas, met n WIT vel, en ek is trots daarop! Ek weet een ding- dis dat die Afrikanervolk nog altyd die Here eerste gestel en Hom gedien het.

SARIE VAN HEERDEN ·

Ons moet nie nou kerk, godsdiens en bid by hierdie debakel met Zuma bybring nie. Kerke se soms dit, en anderkeer weer dat. Dink aan apartheid en van die Afrikaanse kerke. Hou ‘n saak waar hy hoort: by homself sonder die godsdiens en kerke daarby. Om te bid is wonderlik maar mens moet besluite neem, en hierdie is nou ‘n besluit wat die volk moet neem. Wit, swart, bruin, Indier.

willie ·

Wat se die gesegdes……. WHEN DAYS ARE DARK FRIENDS ARE FEW…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.