Kerke reageer op Ramaphosa se vergunning

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Pres. Cyril Ramaphosa se onlangse aankondiging dat kerke, moskees en ander plekke van aanbidding onder vlak 3-afsondering met geloofsaktiwiteite kan voortgaan, word wyd verwelkom, selfs al word dit op ’n beperkte wyse toegelaat.

Een kerkgroep wil wel nou vergoed word vir inkomste wat gedurende die algehele afsondering verlore gegaan het, terwyl ’n ander steeds nie heeltemal gelukkig is met die president nie. Kerke was tot nou nog verbied om eredienste of enige vorm van byeenkomste te hou en sou aanvanklik eers onder vlak 1 toegelaat word om hiermee voort te gaan.

Die organisasie Freedom of Religion SA (For SA) het vandeesweek gesê die president se aankondiging oor die heropening van kerke word verwelkom aangesien dit die geloofsektor in staat stel om in die fisieke, sielkundige en geestelike behoeftes van die land te voorsien te midde van die Covid-19-pandemie.

Volgens Michael Swain, uitvoerende direkteur van For SA, is die organisasie “dankbaar” dat Ramaphosa en die nasionale bevelraad eindelik gehoor gegee het aan gelowiges se pleidooie.

Hy het gesê FOR SA het verskeie briewe namens sowat 18 miljoen mense aan die regering gerig waarin hulle versoek het dat godsdienstige leiers en godsdienstige organisasies as “noodsaaklike werkers” erken moet word en dat plekke van aanbidding moet heropen.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die Afrikaanse Protestantse Kerk het ook vandeesweek sy dank aan Ramaphosa uitgespreek, hoewel dié kerk nie die president te veel krediet vir die besluit wil gee nie. “Die Sentrale Kerkekommissie (SKK) van die AP Kerk het met groot dankbaarheidheid teenoor die Here geluister na die president se aankondiging dat godsdienstige byeenkomste weer gehou mag word.

“Tog is dit vir ons jammer dat ons eers ʼn ultimatum aan die president moes stel en hom met die hof moes dreig alvorens hy gereageer het,” het ds. HSW Strauss, voorsitter van die SKK, in ʼn verklaring gesê.

Volgens Strauss kan die AP Kerk beslis nie Ramaphosa se lof besing nie. “Hy het eers ná druk dit teruggegee wat nooit syne was om te neem nie. ʼn Staat wat sy plek ken, rig versoeke tot die kerk van Christus, nie voorskrifte nie,” meen Strauss.

Hoewel die Jesuïete-instituut die president se besluit verwelkom, bevraagteken hy dit. “Hoe meer mense meng, hoe groter is die potensiaal vir verspreiding. Plekke van aanbidding is nie immuun teen die virus nie,” het Russell Pollitt, direkteur van die Jesuïete-instituut, gesê.

Vergoeding vir verlore inkomste

Intussen het die Sionistiese Kerk nou gesê hy wil vergoed word vir inkomste wat verlore gegaan het weens die algehele landwye afsondering.

kerk-banke

Argieffoto

Die sionistiese biskop Bheki Ngcobo het vroeër in Durban gesê die regering se besluit om die verkoop van alkohol en die heropening van skole toe te laat, maar kerke gesluit te hou, is ’n belediging vir kerke en godsdiens, berig eNCA.

“As ’n kerk het ons baie verloor. Geboue is gesluit en die kerkmotors se paaiemente is agterstallig. Al hierdie goed moet nou betaal word. Jy kan nie jou betalings ignoreer nie,” het Ngcobo gesê.

Ngcobo het tog sy dank uitgespreek dat plekke van aanbidding onder vlak 3-afsondering met geloofsaktiwiteite kan voortgaan. Hy het wel gevra dat kerke meer mense gedurende kerkdienste moet kan akkommodeer, terwyl sosiale afstand gehandhaaf word.

Maroela Media het vroeër berig beperkte geloofsaktiwiteite onder vlak 3-afsondering sal die volgende behels:

  • Plekke van aanbidding kan dienste hou, mits nie meer as 50 mense dié dienste op een slag bywoon nie. Hoe kleiner die ruimte waar die diens plaasvind, hoe minder mense word toegelaat.
  • Sosiale afstand moet tydens dié dienste gehandhaaf word en almal teenwoordig moet ʼn gesigmasker dra.
  • Die regte stappe moet gedoen word om te verseker plekke van aanbidding word behoorlik voor en ná ʼn diens skoongemaak.
  • Enige godsdienstige aktiwiteit wat ʼn risiko vir die oordra van Covid-19 inhou, moet liefs vermy word.
  • Godsdienstige leiers kan as noodsaaklike werkers beskou word vir die doeleindes van berading en die lei van begrafnisse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Drikus

Kan iemand my dalk help met waar die “nuwe” regulasies in die staatskoerant gepubliseer is? Want deesdae weet mens nie of jy na die president of minister of media kan luister nie. Geskrewe wet is die beste.

Jaco

“Volgens Strauss kan die AP Kerk beslis nie Ramaphosa se lof besing nie”
Ek kan ook nie die AP Kerk se lof besing nie. Ek wonder of Ramaphosa weet dat die AP Kerk oop is NET vir wit mense?
Vreemd dat dieselfde mense wat so kla oor die ANC se “rassisme” teenoor wit mense, maar ook hulle eie vorm van rassisme toepas. dit nogal in die kerk van alle plekke.

Debbie

Sjoe, maar julle is negatief teenoor die kerk. Net soos julle bekommerd is oor rekeninge wat julle moet betaal, so is die kerke ook bekommerd. Geboue moet nog betaal word, mense moet salarisse ontvang. Bowenal moet hulle ook vir behoeftige mense in die gemeenskap sorg. Dit is een van die take wat die kerk moet doen. En hulle moet gesinne wat in hul gemeentes is wat swaarkry, bystaan. Waar dink julle kom die geld vandaan? Van mense se bydraes. Mense is baie gou om die kerk te kritseer, totdat hulle hul werk verloor, dit finansieël swaar gaan of hulle deur… Lees meer »

Botterblommetjie

Die woord (Bybel) sê ons moet ons bydrae lewer. Kom ons doen dit so ver moontlik. Die predikers het baie koste dalk aangegaan om data, elektroniese toerusting ens. te bekom om die preke vir ons te verskaf in die toesluit tydperk. Hulle het ook gesinne om te onderhou, skoolgeld ens. Kerke kos baie geld om te onderhou, die werkers te betaal asook die woord te versprei en sendelinge ens. Ek voel die gemeente moet hul bes doen om hul predikers en kerk te ondersteun. Tog stem ek daar is die gemeentes waar die predikers in weelde leef ens. Wil jy… Lees meer »

Tinus

Ek die persone met negatiewe kommentaar moet asseblief nie kommentaar lewer oor iets waarvan julle geen benul het nie.Dit is duidelik uit julle skrywe dat julle nie die werking van enige kerk verstaan nie,omdat julle nooit daar kom nie.Ek is dankbaar saam met miljoene ander vir n geleentheid om weer ons Here in sy huis te kan aanbid en verheerlik.