Kerkleier verander van plan oor borgtog

Die beskuldigdes tydens ‘n vorige verskyning in die hof. Foto: ANA.

Banele Mancoba, die leier van die Seven Angels Church wat aangekla word in verband met die opspraakwekkende voorval waartydens ses mense in ʼn rooftog by die Ngcobo-polisiestasie in die Oos-Kaap doodgeskiet is, het Maandag in die hof gesê hy sal dalk nie borgtog toegestaan word as hy van ʼn regshulpprokureur gebruik maak nie.

Mancoba het Maandag weer saam met sy 11 medebeskuldigdes in die Ngcobo-landdroshof verskyn. Hy het aan landdros Tobile Bara gevra of hy ʼn regsverteenwoordiger nodig het om aansoek te doen om borgtog.

Volgens Mancoba het hy nie voorheen om borgtog aansoek gedoen nie weens die plaaslike gemeenskap se woede ná die voorval. Hy het aan die landdros gesê hy het nie gedink dit sal só lank duur voor die saak gefinaliseer kan word nie.

Hy het aan die hof gesê hy is huiwerig om van ʼn regshulpprokureur gebruik te maak. “As jy vir jou prokureur betaal, sal hy hard baklei om jou op borgtog uit te kry, maar as jy ʼn regshulpprokureur moet gebruik, sal jy dalk nie borgtog kry nie,” het hy gesê.

Bara het hierop gereageer deur te sê: “Regshulpprokureurs word deur die staat betaal, maar hulle tree in die belang van hul kliënte op.”

Mancoba het ook gekla oor die datum wat aan hom gegee is wanneer hy by ʼn psigiatriese instansie vir sielkundige evaluering opgeneem sal word. Volgens Mancoba het mense wat ná hom in hegtenis geneem is vroeër as hy plek in psigiatriese instansies gekry.

Die 12 beskuldigdes het voorheen besluit om hul eie verdediging te behartig en het hul borgtogaansoeke laat vaar. Hulle staan almal tereg op aanklagte van moord en van sameswering tot roof met verswarende omstandighede.

Mancoba staan ook tereg op ʼn afsonderlike aanklag van verkragting. Hy het Maandag aangedui hy wil nou wel om borgtog aansoek doen en sal van regshulp gebruik maak.

Die Ngcobo-polisiemoordtog het in Februarie skokgolwe deur die land gestuur. Gewapende rowers het die polisiestasie tussen Mthatha en Queenstown bestorm en beroof. AO Zuko Mbini (45), konst. Zuku Ntsheku (38), konst. Nkosiphendule Pongco (32), konst. Sibongiseni Sodlana (32) en konst. Kuhle Metete (27) is tydens die rooftog doodgeskiet. Freddy Mpandeni (58), ʼn afgetrede soldaat van die Suid-Afrikaanse Weermag, is ook doodgeskiet toe die verdagtes van die toneel gevlug het.

Die saak is Maandag tot 26 Julie uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Doodstraf ·

Die klomp moet die dood straf kry maar sal seker net met n tik op skouer weg loop.

Liberaal ·

Natuurlik. Waarvoor dink jy veg liberale linkse mense, hulle plan is om die wereld in die hande van misdadigers te plaas.

Colleen ·

Hy verwag ook alles weer verniet, net soos 40 miljoen van sy makkers in hierdie land. Die ANC kan hom mos borg met ‘n privaat advokaat.

marous ·

Laat hulle op waarskuwing vry ….dan verkort dit dalk die verhoor baie spoedig

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.