Kerkleiers veroordeel opskort van dienste

Daar is geen wetenskaplike bewyse dat kerke superverspreiders van enige aard is nie (Argieffoto: pixabay)

Die organisasie Pastors Against Church Closures het die regering gekap oor die verbod op byeenkomste – wat kerkdienste insluit – en het dit as “drakonies” bestempel.

Alle byeenkomste, met die uitsondering van begrafnisse, word in hierdie stadium ingevolge die vlak 4-afsonderingsregulasies verbied.

“Ons veroordeel die sluiting van kerke met die minagting wat dit verdien. Daar is geen wetenskaplike bewyse dat kerke superverspreiders van enige aard is nie,” het apostel Khaya Lala, verbonde aan die organisasie, Vrydag tydens ʼn mediavergadering gesê.

Hy sê hulle is diep bekommerd oor die sluiting van kerke sonder enige bewyse dat dit die virus laat versprei.

Lala sê daar is nie met hulle beraadslaag voordat die nuwe regulasies in werking gestel is nie en dat daar geen rasionaal bestaan vir die sluiting van kerke nie. Hy sê die organisasie het boonop al twee keer tevore memorandums oor die kwessie aan die presidensie gegee, maar sonder enige sukses.

“Die kerk is ʼn spirituele hospitaal, nie ʼn bedryf nie.

“Mense ly… hulle het die samesyn nodig.”

Hy sê ook die organisasie gaan hom aanhou beywer vir die toelaat van kerkdienste, onderhewig aan die protokolle wat kerke tot dusver getrou nagekom het. Hy sê kerke is boonop tot dusver die kleinste hoeveelheid mense toegelaat wanneer dienste wel gehou mag word.

Lala sê mense wil deel van ʼn geloofsgemeenskap wees en indien byeenkomste verbied word, dit in wese op ʼn sluiting van die kerk neerkom. Hy sê geloofsbyeenkomste vir Christene is nie ʼn opsie nie, maar ʼn integrale deel van wat hulle glo.

“Geen individu het die reg om ʼn kerk te sluit nie. Die kerk behoort aan God.”

Hy sê die regulasies beteken dat aanbidding by ʼn kerkdiens ʼn strafregtelike oortreding word en hy het ʼn beroep op die Christen-gemeenskap gedoen om vir hul geloof op te staan.

“Die regulasies is onregverdig strafbaar en gemik daarop om misdadigers te maak van mense wat hul geloof wil beoefen en hul God wil aanbid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Elize ·

Jammer kerkleiers. Julle luister nie. Kom mens by die kerk dan het niemand maskers aan nie. Almal sing dat die spoeg so spat. Ek moes ongelukkig onttrek van hierdie byeenkomste.

Rosie ·

Terwyl ons wag hou elke aand huisgodsdiens. Dis baie lekkerder as om net Sondae kerk te hou.

Jaco ·

Toe strande nog gesluit was, glo om corona te keer, het 500 mense op Muizenberg en Vishoek se strande eenvoudig gaan swem. Te veel mense en te min polisie, so die polisie het niks gedoen nie.
So begin eenvoudig kerk te hou. Net kla kla kla gaan niks help nie

Michael ·

Daar baie mense wat in naam christene is maar min wat werklik vir hul verlossing alleen in Christus glo en dan die nuwe lewe wat hul in Christus ontvang het, uitleef. Net die wat waarlik weergebore is sal opstaan, die ander sal meer aan die keiser gehoorsaam wees as aan God.

Jojo ·

Ja ek stem saam kerke het nie nodig om te sluit nie. Dis juis die tyd wat ons nog Meer saam moet Kom om te bid vir die hele land. Kerke is Baie Leer as winkelsentrums en kroeee oor die algemeen. Dis nes Dawid gese het…. Hoe begeer ek om na die Huis van die Here te gaan

Esme ·

Ek is een van daardie bang, versigtige mense – ek verkies om eerder dienste op my rekenaar te volg as om myself en ander bloot te stel aan die onmenslike, wrede virus. God sluit ons nie uit Sy Huis uit nie – ons bepaal self ons verhouding met ons Skepper.

Realis Thailand ·

Waarom word my kommentaar verwyder maar nie die mesne wie my beledig deur pro christelike kommentaar lewer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.