Kerkverteenwoordigers besoek Lily-myn

'n Lugfoto van die ineenstorting. Foto: JacarandaFM via Mpumalanga EMS

‘n Lugfoto van die ineenstorting. Foto: JacarandaFM via Mpumalanga EMS

Lede van verskeie kerke het Sondag die Lily-myn in Barberton, Mpumalanga, besoek waar drie mynwerkers al meer as nege dae ondergronds vasgekeer is.

Die kerkverteenwoordigers het deur die myn gestap terwyl naby familielede van die drie vasgekeerde mynwerkers gewag het op nuus van die myn se bestuur. Lede van die media het buite die hoofingang saamgedrom, maar is nie toegelaat om die perseel binne te gaan nie.

In die dorp self het gemeenskapslede hul kommer uitgespreek oor die drie mynwerkers wat al sedert 5 Februarie in ʼn skeepshouer ondergronds vasgekeer is ná ʼn ineenstorting by die myn. Adriaan Meyer, ʼn inwoner, het gesê sy gesin bid daagliks vir die drie mynwerkers.

“Hulle werk is baie gevaarlik, maar weens die hoë vlakke van werkloosheid in die land aanvaar mense enige werk. Dit is tyd dat alle Suid-Afrikaners verenig in gebed,” het Meyer gesê.

Die presidensie het Saterdag aangekondig dat drie ministers aangewys is om die families van die drie vasgekeerde mynwerkers te ondersteun.

Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne, het ook Saterdag aangekondig dat Vantage Goldfields, wat die myn besit, R200 000 aangebied het aan elk van die vasgekeerde mynwerkers se gesinne. Die 76 mynwerkers wat gered is ná die ineenstorting sal ook vergoeding ontvang.

Reddingsoperasies by die myn is vroeër Saterdag opgeskort ná nog ʼn ineenstorting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lynet ·

Ek bid vandag dat daar nog redding is vir die drie wat vas gekeer is en dat hull veilig toe gevou is in GOD se liefde en beskerming. Mag GOD se genade oor die familie en vriende wees.

alida ·

Wat ‘n verskriklike dood om te sterf. Mens het maar min hoop dat hul lewend gevind sal word maar ons hou nie op hoop nie.

Wat-ek-lees ·

Ek verstaan dat geoloë nou daar gaan besoek aflê? Was hulle nie voltyds betrokke nie? Waar is die ‘rock mechanics’ wat saam met die geoloë op die uitkyk moet wees vir die voorkoming van hierdie tipe ding. Ook die kroonpilaar moes duidelik getoon het dat verbrokkeling besig was om plaas te vind.

DPJ ·

Dankie vir jou positiewe insette Lynette. Met so ‘n gesindheid is ons mense op die regte pad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.