Kernkragplanne nie in nuwe hulpbronneplan vervat nie

Jeff Radebe. Foto: GCIS

Jeff Radebe, minister van energie, het aan die parlement se portefeuljekomitee oor energie gesê dat die regering nie kernkrag opsetlik uitgelaat het uit die nuwe weergawe van die Geïntegreerde Hulpbronneplan (IRP) nie, maar dat dit nie in die plan vervat is nie weens laer aanvraag en die laer koste van ander tegnologie.

Radebe het LP’s toegespreek oor die nuwe IRP wat verlede week bekendgestel is. Dié plan maak geen voorsiening vir die omstrede planne van voormalige pres. Jacob Zuma se administrasie om ekstra kernkragaanlegte te laat oprig en ʼn bykomende 9,6 GW by die nasionale kragnetwerk te voeg nie.

Radebe het bevestig dat die departement die tydperk vir die publiek om voorleggings te doen oor die IRP tot 60 dae wil beperk. Volgens hom was sy voorkeur slegs een maand, maar by die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings-en-Arbeidsraad (Nedlac) is daar op twee maande besluit. Die bloudruk vir dié planne is by Nedlac ter tafel gelê ʼn paar dae voor dit amptelik in die Staatskoerant gepubliseer is.

Die departement het voorstelle van LP’s weerlê dat dit ʼn fout sal wees om voort te gaan met twee steenkoolaangedrewe aanlegte onder die IRP, dat dit die land glo R20 miljard oor hul leeftyd sal kos en dat krag van die Grand Inga Hidro- elektriese aanlegprojek in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) verkry moet word. Dit strook glo nie met die laagste kostemodel nie.

Radebe het gesê dié omvattende projek is vir die hele Afrika van belang en dat dit deels staatmaak op Suid-Afrika se ooreenkoms om van die uitsette van die projek aan te koop om suksesvol te kan wees.

Jacob Mbele, die departement se hoofdirekteur vir elektrisiteit, het aan African News Agency gesê die land sal ook boetes betaal as daar versuim word om ooreenkomste vir steenkoolgebaseerde elektrisiteit van onafhanklike kragprodusente na te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Vraagteken ·

So, vir al die ‘hippies’ wat dink dis goeie nuus – dink weer! Ekonomiese groei is ALTYD gepaardgaande met elektriese aanvraag. Dit will sê as ons nie ‘n kragstasie will bou nie, dan is daar nie ‘n aanvraag vir elektrisiteit nie. As daar nie ‘n aanvraag vir elektrisiteit is nie, dan is daar nie ekonomiese groei nie. Alles opgesom: ons word armer!

O ja, hierdie Hernubare stasies voeg baie min tot ons infrastruktuur. Moenie alles glo wat jy hoor nie.

Katerina ·

Dis dalk maar beter so. Nog kernaanlegte in Die land..miskien nie die beste idee nie. Dis al wat ek daarvan gaan se.

Katerina ·

Vraagteken – Die ou mense het n gesegde gehad: n Goeie verstand het n halwe woord nodig..

Vraagteken ·

Asb, gee feite. Die samelewing moet besluite neem op feite en nie op opinies of reputasies nie. Moenie jou kommentaar oop vir interpretasie hou nie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.