Kersfees by kerslig? Eskom se dieselbegroting glo kapoet

(Argieffoto: Unsplash)

Nadat die DA die afgelope week die moontlikheid geopper het dat die verhoogde vlakke van beurtkrag moontlik strook met die afname in die gebruik van oopsiklus-gasturbines, het Eskom bevestig dat hy sy dieselbegroting uitgeput het.

Dr. Mimmy Gondwe, DA-LP en woordvoerder oor openbare ondernemings, sê aangesien Eskom se verouderde steenkoolkragstasies sukkel om genoeg krag op te wek om in die vraag te voorsien, beteken die afname in die gebruik van oopsiklus-gasturbines dat Suid-Afrikaners in die Desembervakansie steeds verhoogde vlakke van beurtkrag sal ervaar.

“Berigte dui daarop dat Eskom net R3,6 miljard oor het vir diesel om sy oopsiklus-gasturbines mee aan te dryf. Hierdie bedrag is egter net genoeg om die oopsiklus-gasturbines vir ʼn maand aan die gang te hou.

“Die poging van Eskom om die gebruik van oopsiklus-gasturbines te verminder, soos dit blyk uit die progressiewe afname van 14 oopsiklus-gasturbines op 22 November tot geen op 29 November, is reeds te laat,” sê Gondwe.

“Die risiko vir permanente fase 6-beurtkrag in die volgende paar maande, tot voor die einde van Eskom se boekjaar in Maart 2024, is nou baie hoog.”

Sy sê met die tesourie wat nou lank reeds bevestig het dat hy geen bykomende finansiering aan Eskom sal verskaf vir die verkryging van diesel nie, doen die DA dadelik ʼn beroep op Eskom om duidelikheid te gee oor hoe hy die verkryging van bykomende diesel sal finansier om sy oopsiklus-gasturbines tot die einde van die boekjaar aan te dryf.

“Dit is ons oorwoë mening dat Eskom diep in sy koffers sal moet delf en besteding uit sy huidige begroting sal moet prioritiseer om sy reeds uitgeputte dieselvoorraad aan te vul.

“Eskom kon nie die beurtkragkrisis oplos nie en as sodanig behoort hy die las te dra om die impak daarvan – uit sy eie balansstaat – te verminder,” sê Gondwe.

Sy sê dit is eenvoudig onaanvaarbaar dat kabinetsministers en Eskom-amptenare Suid-Afrikaners die afgelope paar maande mislei het om te dink die land het ʼn beurtkrag-keerpunt bereik terwyl hulle goed geweet het dat Eskom besig is om diesel in groot en oorvloedige hoeveelhede te verbrand.

“Die verbranding van diesel was nooit bedoel om ʼn langtermynoplossing te wees om die beurtkragkrisis te beëindig nie.

“As Suid-Afrikaners die feestyd en moontlik die nuwe jaar in die donker en te midde van verhoogde vlakke van beurtkrag moet vier, verdien hulle die waarheid oor hoekom dit werklik gebeur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Highlander ·

Die feit dat daar n begroting is om die publiek se regte te bepaal, mbt water en krag, wys net watse wonderlike sisteem demokrasie is. Maar ja. Die wat eskom beheer hou daarvan om woer woer met die publiek te speel. Want hulle is emosionele vampiere. Hoeveel keer is daar gedreig om bv Tshwane se krag af te sny as gevolg van “agterstallige rekening”. En cANCer gee nie om vir publiek wat kwaad word. Want hulle word betaal om scapegoats te wees.

Althes ·

Dis kommerwekkend hoeveel duisende liters peperduur diesel verbrand word net om die ligte aan te hou.
Besighede en staatsondernemings se begrotings word geknou agv die regering se onvermoë om die land te regeer.

Di ·

En die NUWE MINISTER is aangestel op Eskom se probleme uit te sorteer, NOU is die land eers slegter af!! Permanent op STAGE 6. Net NOG ‘n KADER wat kom skep het

vuurvliegie ·

@Highlander. Al regte wat die publiek het is om te besluit of hy Eskom krag wil gebruik of nie. Daar is alternatiewe krag opsies soos solar en generators. Die keuse is joune.

Gerhard ·

Ja nee wat. Ek verstaan steeds nie hoe kan mense nog vir ‘n totaal en al disfunksionele party stem nie. Nie te min, so sal hulle ons in die grond in werk. Kyk, Eskom se mense gaan nog lekker vet Kersbonusse kry ook, mark my words.

Jan Jacobs ·

Nee gaan kyk mooi na die statistieke, dit is die ou kragstasies wat die betroubaarste is.

Pierre ·

Die regering het reeds in 2009 gefaal die is maar nou net uitwerking van besluite en aksies wat reeds 14jaar terug genem is

Johan ·

Maar hoe verstaan ek dit dan nou, daar was dan planne dat die diesel rekening vir die sogenaamde bonusse gebruik moes word aangesien daar nog 10 miljard Rand oor was.

Wondermaarnet ·

Die meerderheid betaal nie vir elketrisiteit nie, nou moet dié wat wel betaal opdok vir ALMAL. Dit is waar die geld vandaan gaan kom.

Piet 6 ·

Al die diesel is verbrand met die 10 dae sonder beurtkrag met die wêreldbeker.

JohanR ·

Asseblief tog laat daar Xmas 2024 ‘n ordentlike regeering in plek wees!

domheks ·

@JohanR – ons hoop en vertrou so! Maar ek dink kanse is maar skraal!

Marius ·

Ja eskom – verskoning op verskoning. Ek kan nie anders om te wonder of die regering kaders ook sonder krag matriek moes skryf en leer.

Vra maar net.!!!!!!!

electricmango ·

Die regering en eksdom beskik nie oor die vaardigheid om die probleem te fix nie. Hulle weet dit nie want daai kennis ontbreek by hulle. Al wat oorbly is om europa die skuld te gee en hoop dat hulle nog n geldjie kan voorskiet, bloot omdat hulle jammer voel vir die klomp. Gelukkig het die huidige regering GEEN self respek of enige trots in hulle om die probleme te takel nie, en om daai rede help die westerse nasies eerder met geld. Rampies behoort darem nog n paar biljoen uit hulle te tap voor kersfees….

Daisy ·

@Vuurvliegie – ek stem saam met jou – daar is Solar en Generators.
Onthou net dat dit nie in elke huishouding se sak pas nie. Dis ‘n duur storie om ‘n werkende Solar stelsel te he en Generators gebruik duur petrol.
Ons self het ‘n generator, want mens moet werk, maar kan nie met elke loadshedding sarsie petrol ingooi nie

Andre ·

…die liegstories begin dun raak!
Wag maar, die A en C kom binnekort met iets om die aandag af te lei!

Samuel ·

As die kaders se lippe beweeg, lieg hulle. Politici is in die algemeen onbetroubaar en selfs me Gondwe is seker ekonomies met die waarheid.

snaaks ·

Waar gaan al die steenkool dan heen. So ver ek verstaan word krag opgewerk deur die verbranding van steenkool. O dit word uitgevoer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.