Kersfees kom vroeg vir baba met hartdefek

Baba Leago het goed na die operasie herstel (Foto: Verskaf)

Die eenjarige Leago Mogale van Pretoria het ’n tweede kans op die lewe gekry ná hy ’n operasie in die Netcare Sunninghill-hospitaal in Johannesburg ondergaan het om twee gate in sy hart te herstel.

Leago was ’n aktiewe baba, maar het nie genoeg gewig aangesit nie. Sy ma, Reabetswe Mogale, het ook opgemerk dat hy baie gesweet het wanneer sy hom gevoer het.

Sy ouers het hom – toe hy sowat ’n week oud is – hospitaal toe geneem en ’n hartgeruis is by hom gediagnoseer. Hy is na die Steve Biko- akademiese hospitaal in Pretoria verwys waar medikasie vir ses maande voorgeskryf is.

Volgens dr. Erich Schürmann, kardiologiese chirurg en medestigter van die Maboneng-hart-en-longinstituut, het die medikasie nie gewerk nie en ná verdere ondersoek is bepaal dat Leago twee gate in sy hart het. Die toestand, genaamd ventrikulêre septale defek (VSD), is by Leago gediagnoseer.

“Die toestand plaas ekstra spanning op Leago se hart en die are wat bloed na sy longe vervoer. Dit het mettertyd progressiewe skade aan die hart en longe veroorsaak,” verduidelik Schürmann.

Baba Leago saam met sy ma (Foto: Verskaf)

Leago moes dringend ’n gespesialiseerde operasie ondergaan om die gate in sy hart te herstel. Die versorgingspan by Steve Biko het sy ouers egter ingelig dat daar ’n lang waglys vir dié soort gespesialiseerde prosedures is.

“Daar was nuwe hoop toe die hospitaal ons laat weet het daar is ’n kans dat Leago die operasie gouer kan ondergaan met die hulp van die private sektor,” sê Leago se pa, Thando Qolo.

Schürmann vertel toe Leago na hul mediese span verwys is, was die span vasbeslote om ’n manier te vind om hom te help voordat die skade verder kon toeneem. Leago is in November geopereer – net meer as ’n maand voor sy eerste verjaarsdag op 17 Desember.

Leago het ná die operasie goed herstel en sy ouers is positief oor sy toekoms.

“Ons seun word nou vroeg soggens wakker in afwagting om te speel,” vertel Mogale.

“Ons is so dankbaar vir die wonderlike mediese span wat so mooi na ons baba gekyk het. Hulle het hom ’n tweede kans gegee om die lewe normaal en voluit te kan leef,” sê Qolo.

“Om ons seun by die huis te hê is die beste Kersgeskenk waarvoor enige ouer kan vra,” sê Qolo.

Leago is die jongste begunstigde van die Heart-to-Heart-veldtog in Sunninghill.

Dié veldtog is ’n korporatiewe maatskaplike inisiatief van die Netcare-stigting en Medipost Holdings en is spesifiek bedoel vir operasies aan behoeftige kinders met lewensbedreigende hartprobleme deur spesialiste van die Maboneng-hart-en-longinstituut.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

piet ·

Fantastiese nuus. Ek is ook dankbaar wat persoonlik met my gebeur het. Sak eendag inmekaar by die laerskool met geweldige maagkrampe. Rooi Kruis hospitaal toe. Toetse toon toe dat niks verkeerd met my maag is nie maar dat ek ‘n moontlike hartdefek het. Blykbaar ‘n abnormale geruis. Word toe na Grootte Schuur verwys wat daai tyd wereldleiers was met alles wat harte aanbetref (in die 70’s) en met die mees gesofistikeerde masjiene beskikbaar in die wereld. Heel indrukwekkend die masjien wys hoe jou bloed deur jou hele liggaam vloei, hoe die kleppe in die hart en jou bloedvate oop en toe gaan, die druk en so aan. Die hartspesialis (ek kan nog goed die dokter se naam onthou, ‘n dokter Joffe) sê toe: Nee wat, not to worry, gaan speel jou sport. Dankie tog, kon so maklik anders uitgedraai het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.