Kersparty laat munisipale hoës in hof beland

Die partytjie het meer as R200 000 beloop. (Foto: Unsplash)

Verskeie senior en oudbestuurders van die Ngqushwa- plaaslike munisipaliteit in die Oos-Kaap het in die Peddie-landdroshof verskyn op aanklag van bedrog en die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (MFMA).

Mkhuseli Wiseman Mxekezo staan tereg op aanklag van bedrog terwyl Tinus Matthyssen en Misiwe Phyllis Mpahlwa tereg staan op aanklag van die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur.

Nog ʼn beskuldigde, Busisiwe Mfunda, is in Julie vanjaar reeds in hegtenis geneem. Mfunda, ʼn bestuurder in die kantoor van die burgemeester, het dié pos tydens die begaan van die beweerde misdrywe beklee.

Mxekezo is die munisipaliteit se direkteur vir korporatiewe dienste, Matthyssen was voorheen die waarnemende finansiële hoof by die plaaslike owerheid, terwyl Mpahlwa die munisipale bestuurder was. Matthyssen en Mpahlwa werk nie meer vir die munisipaliteit nie.

Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Oos-Kaap, sê Mfunda en Mxekezo het glo saamgespan om voor te gee dat die munisipaliteit se vereiste verkrygingsproses gevolg is om die goedere en dienste vir die burgemeester se Kerspartytjie te bekom.

ʼn Drie-kwotasie-verkrygingsproses word gevolg vir bedrae van minder as R200 000, terwyl enige tender vir uitgawes meer as R200 000 ingevolge ʼn oop tenderproses toegeken moet word.

Mfunda het glo by wyse van ʼn memorandum gevra vir die lewering van goedere en dienste vir die partytjie en Mxekezo het die memorandum na bewering afgeteken hoewel hy glo nie by magte was om dit te doen nie.

Die drie kwotasies wat vir die lewering van die dienste bekom is, was glo ook bedrieglik en altesame R273 583 is eindelik aan verskeie diensverskaffers betaal.

Ngcakani sê Matthyssen, as waarnemende finansiële hoof, het glo versuim om alle billike stappe te doen om te verseker die munisipaliteit se finansiële bestuur- en interne beheermaatreëls word nagekom omdat die betalings aan die diensverskaffers glo gedoen is sonder die nodige betalingsopdragte.

Hy word ook daarvan beskuldig dat hy die munisipaliteit se betalingsprosedures verontagsaam het.

Mpahlwa het glo haar posisie as rekenpligtige amptenaar gebruik om die altesame 13 diensverskaffers wat eindelik vir die partytjie aangewys is, onbehoorlik te bevoordeel. Sy word ook beskuldig dat sy versuim het om alle nodige stappe te doen om onregmatige en verkwistende uitgawes te verhoed en het ook nie stappe gedoen om te verseker dat ʼn tugproses teen Mfunda, Mxekezo en Matthyssen van stapel gestuur word nie.

Mxekezo, Matthyssen en Mpahlwa is almal op borgtog van R1 000 elk vrygelaat.

Die saak is tot 6 Oktober uitgestel wanneer Mfunda ook weer in die hof sal verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Willem ·

Hulle is besig om die klein vissies vir oëverblindery aan te kla. Die kaders wat met biljoene weg is word nie aan geraak mie. Dink die ANC ons is onnosel?

Yvonne ·

Foeitog die wat nie GROOT verbintenisse in die regering het nie gaan die spit afbyt…..groot manne kom weg met biljoene……of daar word voete gesleep

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.