Kerstuiste vir ‘Vuurietjie’, die vlermuiswesie

Vuurietjie self. (Foto: Verskaf)

Deur Susan Maré

Wanneer ʼn vlermuismamma op jou voorstoep beland met ʼn baba wat verbete aan haar vasklou terwyl hy drink, hardloop jy nie huis in om die raket te gaan haal nie. Jy bekyk die vreemde besoeker op jou stoep en wonder wat maak so ʼn wonderlike dier dáár eerder as op die huis se plafon?

Anton en Lisa Crous van die Highlands Spring-landgoed naby Belfast, Mpumalanga, het dadelik met hul spesiale instink en liefde vir diere planne begin maak om ma (en later die ontdekte baba) te red.

Lisa vertel: “Ons was verras om ʼn vlermuis by ons voordeur te sien lê. Dit was koud en nat en toe besluit ons om die gediertetjie na binne te neem en in ʼn boksie met ʼn handdoek te plaas vir warmte. Anton ontdek toe dis ʼn mamma met ʼn baba wat aan haar vasklou en besig is om te drink.”

Later die dag ontdek die egpaar die ma is dood met die kleintjie wat nog net so aan haar vasklou. “Nog later eers het hy sy ma gelos. Die kleinding was waarskynlik teen daardie tyd koud, dors, ontsteld en bang vir die vreemde reuke en geluide.”

Die egpaar het ʼn dag lank gesukkel om die kleintjie, wat hulle intussen Vuurietjie gedoop het, te kry om iets te drink. “Hy wou nie ons afgeroomde melk hê nie en ons het die bure se volroommelk die volgende dag probeer. Dit het gelukkig gewerk,” vertel Lisa.

“Ek het dit effens warm gemaak en uit onervarenheid begin om Vuurietjie met klein gesnyde sponsies melk te gee. Op ʼn manier kon ek dit deur sy neusgate kry. Die sponsie het soms aan sy skerp tandjies vasgehak, dan kon ek meer melk daarop drup om in te neem.

“Hy is ʼn besige mannetjie, maar as sy magie vol is, raak hy rustig en vaak. Hy het die sponsie begin aanvaar.”

Die volgende stap was ʼn glas buisdrupper.

Lisa en Anton Crous. (Foto: Verskaf)

Menslike melk is egter nie goed vir vlermuise se verteringstelsel nie en die paar het by Birds of Prey in Dullstroom vir raad aangeklop. “Ons het eers New Born-babamelk gekoop en toe oorgeskakel na katmelk. Daar is ook reeds meelwurms in die yskas wat vir ons knaap wag indien hy iets meer as melk verlang.”

Hulle het hom ook met ʼn oorstokkie begin was. “Hy het intussen begin om homself gereeld te was en sy vlerkies te oefen. Ons dink hy behoort teen Kersfees te kan vlieg.” Dit is egter vir hulle ʼn groot bekommernis en hulle oorweeg dit om Vuurietjie na ʼn bestemming in Pretoria te neem, waar hy in ʼn vlieghok saam met ander vlermuise in rehabilitasie kan leer vlieg en eindelik weer by ʼn kolonie kan aansluit.

“Vuurietjie is vir ons ʼn spesiale ervaring. Ons is in verwondering oor hoe volmaak hy geskape is en kommunikeer,” sê Lisa.

“Vuurietjie het ons lewe hierdie Kerstyd verryk en diep in ons harte gekruip. Ons gaan hom vir seker mis as hy moet weggaan om by ʼn kolonie aan te sluit.”

Dr. Gerhard Verdoorn van die Griffon‑gifinligtingsentrum, skryf in ʼn artikel oor vlermuise dat hulle soos alle ander soogdiere wel ektoparasiete kan dra, maar nie in so ʼn mate dat dit ʼn invloed op die mens sal hê nie. Hulle kan wel hondsdolheid dra, maar statistieke wys dat minder as vier mense elke 100 jaar in Suid-Afrika hondsdolheid opdoen as gevolg van vlermuisbyte. In Suid-Afrika is daar geen vampiere of bloeddrinkende vlermuise nie en dus is daar geen rede om te glo dat vlermuise mense sal byt nie.

“Ons het ʼn groot verantwoordelikheid om hierdie diere te bewaar en as vrylewende, kostelose plaagbeheeroperateurs aan te wend,” meen Verdoorn.

Hy sê baie soorte vlermuise het ʼn lae weerstand teen sekere insekdoders wat hul liggame van die voedselketting kan binnedring en daarin opbou.

“Sekere vlermuissoorte is op die lys van bedreigde spesies en het al erg gely weens die gebruik van plaagdoders in die landbou. Vir bewaringsbewustes is dit kommerwekkend. Die verdwyning van slegs een spesie van die aardbol het ʼn invloed op die ekologie. Vlermuise moet gekoester en bewaar word.”

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.