Kerstyd ook broeityd vir depressie

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Pixabay.com)

Die feestyd, spesifiek tydens die Covid-19-pandemie, kan ʼn uitdagende tyd vir Suid-Afrikaners wees omdat dit veral gelaai word met situasies wat tot angs, depressie of erger, selfmoord, kan lei.

Volgens die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) meld Suid-Afrikaners gedurende die feestyd hoër vlakke van stres en depressie aan. Boonop is selfmoord meer algemeen in Desember as in die res van die jaar.

Suid-Afrika is onder die toptien lande wat die meeste selfmoorde wêreldwyd aanmeld. Volgens statistieke van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) pleeg meer as 23 per 100 000 mense jaarliks selfmoord in Suid-Afrika. Mans is veral geneig tot depressie en vier keer meer geneig om hul eie lewe te neem as vroue.

Daar is jaarliks meer as 10 000 selfmoordgevalle in Suid-Afrika wat dikwels gedurende Desember en Januarie toeneem.

Dr. Colinda Linde, ʼn sielkundige in Johannesburg wat spesialiseer in ʼn reeks angsgedrewe-versteurings, sê daar is baie redes wat tot hierdie toename in depressie of selfmoord kan lei.

“Baie mense gaan dalk vir die eerste keer op hul eie fees vier as gevolg egskeiding of die verlies van geliefdes. Hierdie mense het nog nie die geleentheid gehad om ʼn nuwe vriendekring op te bou nie en kan veral eensaam voel,” sê sy.

“Vir sommige mense wat reeds oorvol skedules het, kan die bykomende takies voor Kersfees – inkopies, kook, reisplanne en mense onthaal – bydra tot gevoelens van depressie.”

Kersfees en die Desembervakansie kan ook ʼn herinnering wees van traumas van die verlede of mense spandeer meer geld as wat tot hul beskikking is en gaan dan groot bedrae skuld aan.

“Angs kan eindelik tot depressie lei en vir depressiewe mense wat dit reeds uitdagend vind om te sosialiseer of vreugde in geselskap te vind, kan Desember ʼn besonderse moeilike tyd wees juis omdat hulle geïsoleerd voel.”

Zain Julies, ʼn sielkundige by Netcare Akeso Milnerton, sê ontstellende of angswekkende gebeurtenisse of situasies kan dikwels daartoe lei dat mense na ou bekende “krukke” soos alkohol, kos, oor-die-toonbank-medikasie, tegnologie of ongesonde verhoudings gryp.

“Hierdie tyd van die jaar, wat so dikwels met toegeeflikheid geassosieer word, is dit makliker om in ongesonde patrone te verval wat korttermynoplossings bied,” sê sy.

“Dit kan nuttig wees om eerder te onthou dat sulke keuses ons dikwels nie op die duur beter laat voel nie en dinge net erger as voorheen maak.”

Aanvaar die onveranderlikes

Linde en Julies meen daar is ʼn aantal taktieke wat geïmplementeer kan word om in hierdie feestyd met stres, angs, depressie en selfmoordgedagtes af te reken.

Dit is veral belangrik om eerstens nie te veel aandag te skenk aan dinge wat buite jou beheer is nie en nadink oor wat wel binne jou mag is om te beheer.

“Dinge waaroor jy direkte beheer het, is jou gedagtes, woorde, dade, besluite, houding en bui. Daar is wel faktore in die lewe wat heeltemal buite ʼn mens se beheer is soos inperkingsmaatreëls, die verkeer of jou vorige besluite, keuses en gedrag,” sê Julies.

“Terwyl ʼn mens nie hierdie faktore kan beheer nie, kan jy wel jou reaksie daarop beheer. Aanvaar dat bekommerd wees nie ʼn situasie sal verander, verbeter of selfs jou beter laat voel nie. Kies eerder om jou aandag elders te fokus en om bewustelik teenwoordig te wees wanneer jy tyd saam met geliefdes deurbring.”

Leer om moeilike situasies te hanteer

Julies sê ʼn verdraagsaamheid vir onstellende, angswekkende en depressiewe gebeurtenisse kan met behulp van dialektiese gedragsterapie (DBT) opgebou word, wat sal help dat jy nie dadelik daarop reageer nie.

“Hierdie vaardighede bemagtig jou om ʼn onmiddellike krisis te oorleef sonder om dit erger te maak, aangesien dit aanloklik kan wees om impulsief te reageer in tye wanneer ons dalk deur emosies oorweldig word.

“DBT help dat jy tydelik jouself van emosionele pyn distansieer. Dit skep dan ʼn pouse om te dink en meer effektief in ʼn situasie op te tree.”

Volgens Julies is een van die maklikste maniere om dit te bewerkstelling deur op jou sintuie te fokus.

“As jy oorweldig voel, soek vir vyf goed wat jy kan sien, vier goed wat jy kan hoor, drie goed wat jy kan voel, twee goed wat jy kan ruik en een ding wat jy kan proe.

“Dit kan jou dalk net keer om iets te doen of sê wat jy en jou geliefdes later sal berou.”

Versorg jouself

Volgens Linde is daar ook ʼn aantal korttermynoplossings om gevoelens van stres, angs en depressie te verminder.

Onder meer is dit belangrik om genoeg slaap te kry, ʼn gebalanseerde dieet te volg en gereeld te oefen, wat ook voordelig vir jou algehele gesondheid is.

Sy sê dit is veral belangrik om nie dit te oordoen met alkohol nie.

“Die aanvanklike euforie en geselligheid wat alkohol veroorsaak sal eindelik verdwyn en die kombinasie van verlaagde inhibisies, ou wrewels en alkohol sal tot rusies lei en allerlei ander gevolge inhou. Wanneer jy weer nugter is sit jy ook weer met al die newe-effekte van die vorige aand,” sê sy.

“Alkohol en depressie meng eenvoudig nie.”

Indien jy hulp nodig het met depressie en selfmoordneigings skakel

  • Die selfmoordkrisislyn by 0800 567 567.
  • Die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep se geestesgesondheidkrisislyn by 011 234 4837.
  • Netcare Akeso by 0861 435 787 indien daar ʼn psigologiese krisis is of noodondersteuning benodig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.