Kevin se kishoudae is verby

Suid-Afrika se Kevin Anderson. Foto: Paul Crock/AFP.

Die Suid-Afrikaans gebore tennisster Kevin Anderson het Dinsdag sy uittrede aangekondig.

Wanneer ’n speler sy uittrede aankondig, is dit altyd goed om aan die hoogtepunte van sy loopbaan terug te dink.

En in Kevin Anderson se geval was daar darem ’n hele paar.

Die 35-jarige speler het in ’n professionele loopbaan van 15 jaar ’n rapsie meer as 350 wedstryde gewen, terwyl hy ook sewe keer met ATP-silwerware weggestap het.

Dan was daar die eindstryde van die Amerikaanse Ope (2017) en Wimbledon (2018), terwyl hy in die einste grasbaan-toernooi ook vir Roger Federer op skouspelagtige wyse uitgeskakel het.

Die Suid-Afrikaner was in daardie wedstryd met twee stelle agter, maar het verbete terugbaklei om die kragmeting met 2-6, 6-7, 7-5, 6-4 en 13-11 te wen.

Kragtige afslane was ongetwyfeld sy sterk punt en hy was in ’n stadium vyfde op die ATP-ranglys; die beste prestasie ooit deur ’n speler uit Afrika.

Maar in enige sportman se loopbaan is daar ook laagtepunte en in Anderson se geval het ’n rits beserings hom gekniehalter.

Ja, veerkragtigheid is dan die wagwoord, maar namate hy ouer geword het, het dit net moeiliker geword om sy pad weer ná so ’n krukkelysterugslag oop te veg.

Kevin Anderson (Foto: Wimbledon, Twitter)

Toe hy gister sy uittrede aangekondig het, was hy 107de op die wêreldranglys.

“Daar was goeie tye en slegte tye, maar ek sal niks wil verander nie. My tennisreis het ’n belangrike rol gespeel om my te vorm tot die man wat ek vandag is,” het Anderson getwiet.

Volgens die Johannesburg-boorling sukkel hy om te onthou wanneer tennis nie deel van sy lewe was nie.

“My pa het 30 jaar terug ’n raket in my hand gestop en vir my gesê as ek bereid is om hard te werk, kan ek een van die beste spelers ter wêreld word. En ek het my bes gedoen.”

Anderson woon nou al geruime tyd in Florida, Amerika, waar hy afrigting ontvang, maar het tot sy uittrede onder die Suid-Afrikaanse vlag gespeel.

Benewens sy Grand Slam-eindstryde het hy ook na die vierde ronde van die Franse Ope (in 2013, 2014, 2017 en 2018) en die Australiese Ope (2013, 2014 en 2015) deurgedring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Henri ·

“Die Suid-Afrikaans gebore krieketster Kevin Anderson het Dinsdag sy uittrede aangekondig.”

MM kyk asseblief na julle feite.

Henri ·

Welgedaan Kevin! Dis altyd lekker om te sien ons land op die suidpunt van Afrika kan sterre op verskeie terreine lewer.

Naomi ·

Well done!!!! Kevin goeie ster gewees sterkte vir jou vorentoe wat ookal in pyplyn mag wees

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.