KFC-voorval: Borgtogaansoek hervat

Stephan Nel (39), Dicky Junior van Rooyen (21), Marius Harding (23), Ockert Muller (20) en Joshua Schultz(21) in die Pretoria-Noord-landdroshof (18 Augustus 2017). Foto: Phillip Bruwer

Die borgtogaansoek van drie van die vyf mans wat op ʼn aanklag van poging tot moord teregstaan in verband met die beweerde aanranding van ʼn egpaar op 3 Augustus by ʼn KFC-restaurant in Pretoria, sal Woensdag in die hof hervat word.

Stephan Nel (39), Dicky Junior van Rooyen (21), Marius Harding (23), Ockert Muller (20) en Joshua Schultz (21) staan tereg op aanklagte van poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer en die rig van ʼn vuurwapen. Muller is reeds vroeër op borgtog vrygelaat en Harding het sy aansoek om borgtog laat vaar weens ’n uitstaande lasbrief vir diefstal.

Die mans was Vrydag in die beskuldigdebank van die Pretoria-Noord-landdroshof waar ao. Ravi Vengetsamy Naidoo, bevelvoerder van speurders by die Sinoville-polisiestasie, aangevoer het die beskuldigdes moet ter wille van die veiligheid van die egpaar wat hulle aangekla het, nie op borgtog vrygelaat word nie. Konst. Tladi van die Sinoville-polisie het aangevoer die mans moenie op borgtog vrygelaat word nie omdat hulle moontlik met staatsgetuies kan inmeng of hulle intimideer aangesien hulle weet hulle werk by die KFC-restaurant.

Nols Nolte, Nel se regsverteenwoordiger, het aangevoer daar is geen rede hoekom die voorval as ʼn rassevoorval bestempel moet word nie en dit is net toevallig dat die klaers swart en die beskuldigdes wit is. Francois Kriel, Schultz se regsverteenwoordiger, het gesê die staat se saak is swak en geen besware van die polisie word nie deur borgtogvoorwaardes aangeraak nie.

Die saak is na vandag uitgestel wanneer die kruisondervraging en slotbetoë na verwagting sal voortgaan.

Lees alle vorige berigte oor die KFC-voorval op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Raai Wie..Tong in die kies ·

Sulke gebeure veroorsaak dat geen omstander ʼn onbekende slagoffer wil bystaan nie….die slagoffer v misdaad is dan aan genande van krimineel oorgelaat.
Mag gerigtigheid geskied.

Jacques Venter ·

Volgens n berig op SABC 2 nuus, sou 3 van die beskuldigdes glo vals adresse gegee het, en is hulle borgtog om die rede geweier

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.