KFC-voorval: Drie hoor dalk oor borgtog

Stephan Nel, Marius Harding, Ockert Muller, Dicky Junior van Rooyen en Joshua Schultz in die Pretoria-Noord-landdroshof (18 Augustus 2017). Foto: Phillip Bruwer

Drie mans van Pretoria wat daarvan beskuldig word dat hulle ʼn egpaar by ʼn KFC-restaurant in Montana aangerand het, gaan na verwagting Woensdag in die landdroshof in Pretoria-Noord hoor of hul borgtogaansoek suksesvol was.

Landdros Motlhoki Rapulana het Vrydag na die slotbetoë van die staat geluister en gesê sy het tyd nodig om die bewyse te bestudeer voordat sy haar besluit op 30 Augustus bekend sal maak.

Staatsaanklaer Ronnie Sibanda voer aan die mans moet nie vrygelaat word nie, aangesien hul veiligheid nie gewaarborg kan word nie en die gevoel van vrede in die gemeenskap versteur kan word. Sibanda het ook aangevoer die besluit oor die mans se borgtog moet ook in die belang van die publiek wees, aangesien die voorval wyd opslae gemaak het.

Stephan Nel (39), Joshua Schultz (21), Dicky Junior van Rooyen (21), Marius Harding (23) en Ockert Muller (20) staan tereg op aanklagte van poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer en die rig van ʼn vuurwapen. Nel, Schultz en Van Rooyen sal na verwagting vandag oor hul borgtogaansoeke hoor.

Harding het sy aansoek om borgtog laat vaar weens ʼn uitstaande klag van diefstal teen hom in KwaZulu-Natal en Muller is reeds vroeër op borgtog vrygelaat.

Die mans word daarvan aangekla dat hulle Jacob Sono en sy vrou, Dudu, op 2 Augustus by die KFC-deurrybaan in Montana, Pretoria, aangerand het. Video’s van die voorval is wyd op sosiale media versprei.

Konst. William Tladi, ʼn ondersoekbeampte in die saak, het vroeër tydens die aansoek om borgtog getuig die beskuldigdes het nie net die egpaar fisiek aangeval nie, maar ook rassistiese uitlatings gemaak. Daar is egter geen aanklagte wat met rassisme of crimen injuria verband hou op die klagstaat nie.

Lees alle vorige berigte oor die KFC-voorval op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.