Kganyago bly aan die stuur van sake by Reserwebank

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank (Foto; Thobile Mathonsi/African News Agency/ANA)

Reserwebank-president Lesetja Kganyago sal vir ʼn verdere vyf jaar aan die stuur van sake bly.

Pres. Cyril Ramaphosa het Vrydag aangekondig dat hy Kganyago se ampstermyn met die ingang van 9 November 2024 met nog vyf jaar verleng “om kontinuïteit en institusionele stabiliteit by die Reserwebank te verseker”.

Hy het dr. Mampho Modise aangewys as adjunkpresident om die voormalige adjunk, Kuben Naidoo, te vervang. Naidoo het in November bedank.

Modise se ampstermyn begin op 1 April 2024.

Ramaphosa het die aanstellings gedoen “ná konsultasie met die minister van finansies en die direksie van die Reserwebank”.

Ramaphosa het Naidoo bedank vir sy bydrae tot die Reserwebank en wens Modise alles van die beste toe in haar nuwe rol.

Modise het aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en het ʼn PhD in ekonomie.

Sy is tans adjunkdirekteur-generaal van openbare finansies by die tesourie. Sy het in 2004 ʼn internskap by die Reserwebank gedoen en is uiteindelik as ekonoom by die bank aangestel. Sy het in 2009 die Reserwebank verlaat om by die nasionale tesourie aan te sluit waar sy in haar rol as senior ekonoom in die afdeling vir ekonomiese beleid begin het. Sy is kort daarna bevorder tot direkteur van fiskale beleid en daarna hoofdirekteur van strategie en risikobestuur in die afdeling bates en aanspreeklikheid. In 2017 is sy bevorder tot die amp van adjunkdirekteur-generaal.

Nomfundo Tshazibana en dr. Rashad Ismail Cassim se ampstermyne as die ander twee adjunkpresidente is ook vir ʼn verdere vyf jaar hernu met ingang vanaf 1 Augustus 2024.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.