Kganyago wil Reserwebank se mandaat beskerm

Lesetja Kganyago, president van die SA Reserwebank (Foto: Thobile Mathonsi/African News Agency/ANA)

Lesetja Kganyago, president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB), het Woensdag die sentrale bank verdedig teen diegene wat die mandaat wil uitbrei.

Maroela Media het vroeër berig Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, het Dinsdag gesê die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het ingestem dat die mandaat van die SARB uitgebrei moet word om ook groei en indiensneming in te sluit, meer as net prysstabiliteit.

Kganyago het tydens die bekendstelling van die SA25-herdenkingsirkulasie en -muntstukke in Johannesburg gesê die Grondwet het ʼn belangrike plek in die werk van die Reserwebank, waaronder die beginsels van onafhanklikheid en onpartydigheid in die belang van die instandhouding van doeltreffende staatsfinansies en administrasie.

“Die Grondwet gee ook ʼn uiteensetting van die primêre mandaat van die SARB, naamlik om die waarde van die geldeenheid te beskerm in die belang van gebalanseerde en volhoubare groei. Terwyl die SARB se leierskap die afgelope jaar oorweeg het wat die beste manier sou wees om 25 jaar van demokrasie te gedenk, was daar net een antwoord: die Grondwet,” het hy gesê.

“Die bevordering van basiese menseregte – die reg tot behuising, gesondheidsorg, basiese dienste soos water en elektrisiteit, die reg van werkers, die regte van burgerorganisasies, die aanspreeklikheid van die uitvoerende lede van die parlement, die transformasie van die bestuur van staatsgeld, die onafhanklikheid en bevoegdheid van die gereg, die onafhanklikheid en mandaat van die SARB – dit kom alles van die Grondwet.”

Magashule het gesê die ANC Lekgotla het die regering opdrag gegee om ʼn taakspan aan te stel om maatreëls in te stel om interdepartementele skuld te verlig en geld beskikbaar te maak vir ontwikkelingsdoelwitte. Magashule het gesê dié maatreëls moet die impak van inflasie op die rand en behoeftige persone in gedagte hou en alles in sy vermoë doen om dit te versag.

Magashule se uitlatings is met omstredenheid bejeën binne die regerende party en Tito Mboweni, minister van finansies, het die maatreëls verwerp en Enoch Godongwana, lid van die ANC se NUK en voorsitter van dié party se subkomitee vir ekonomiese transformasie, het gesê Magashule se uitlatings is “foutief”, omdat daar geen besluit was om die mandaat van die Reserwebank uit te brei nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Boerin ·

Al wat nog nie vernietig is nie…die moet ook nou grond toe!So baie oor en weer praatjies dat geen mens weet wat om te dink nie ! Die Skrif is aan die muur vir die Reserwe Bank ! Net ongelooflik ! Sterkte vir Mboweni en Kganyago…Julle het n moeilike taak om hierdie instansie te beskerm !

Pop ·

Ek kry diè 2 manne eintlik jammer. Ace is n kallant wat hom nie gaan laat voorskryf nie. Is oordat hy al in die tronk moes gewees het????

Gert van Wierdapark ·

Ace van Vrede-faam wil nou skynbaar nog waens by die Soustrein aanhak. Sy “groei en indiensneming” pleit-dooi kan gesien word as n oproep vir die a en see om te skep, en hier is die OBK al lankal in die visier!! Hy soek nog melkkoeie!!

Hannetjie ·

Gaan my verstand te bowe dat hierdie Ace nog enigsins in die parlement opgeneem is.So asof hy ook iemand iewers beet het waar dit seermaak

Diefie ·

Sterkte Mbownie, Kganyago mag die Vader vir jul wysheid en insig gee om staande te bly teen die aanslae van die vyand.

Jacques ·

Dis maklik , julle het mos baie papier, druk net n klomp note en deel dit uit soos jul boeties in die res van Afrika

ZAR ·

Dalk maar eers die geld terugbetaal wat aan die SARB geskuld word, die reserwe bank kyk na homself want dis ‘n besigheid wat geld leen, as jy wil hê dit moet huise nog ook bou, dan moet jy weet die SARB sal dit doen teen astronomiese bedrae, dan is ons nog dieper in die skuld en die inflasie gaan nog meer op.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.