Kgetlengrivier se water weer daarmee heen

Die Koster-rioolverwerkingsaanleg. (Foto: Willie Jones)

Die krane in Koster en Swartruggens in Noordwes het reeds begin opdroog en inwoners vrees boonop dat rioolvuil – soos in die verlede – teen die naweek ook weer in die strate kan begin afstroom.

Inwoners van dié dorpe in Noordwes sit sedert Donderdag weer eens aan en af sonder water, skaars ʼn dag nadat die water- en rioolwerke van die Kgetlengrivier-munisipaliteit ingevolge ʼn hofbevel weer aan die beleërde munisipaliteit oorhandig is.

Maande lank het die aanlegte klopdisselboom geloop en het skoon drinkwater uit inwoners se krane gevloei nadat die Kgetlengrivier Besorgde Inwoners-aksiegroep (KBI) beheer daarvan oorgeneem het.

Die KBI bestuur die aanleg sedert Desember verlede jaar ingevolge ʼn hofbevel. In Maart vanjaar het die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) en die Kgetlengrivier- plaaslike munisipaliteit ʼn dringende aansoek gebring om die bestuur van die water- en rioolwerke in die dorpe van die KBI terug te neem.

Die Mahikeng-hooggeregshof het verlede week egter beslis dat die KBI dié aanlegte teen Woensdag om 12:00 aan die munisipaliteit moet teruggee.

Teen Donderdag het die eerste probleme begin kop uitsteek.

Magalies Water het die bedryf van die aanlegte namens die munisipaliteit oorgeneem en sedertdien sit inwoners van Koster en Swartruggens oudergewoonte met gebrekkige waterverskaffing.

Carel van Heerden, ʼn verteenwoordiger van KBI, sê inwoners sal hulle eindelik na die Konstitusionele Hof wend indien nodig.

Van Heerden sê die KBI wou uit die staanspoor saam met die munisipale owerheid werk om die aanlegte aan die gang te hou. “Dit is in belang van die inwoners. Ons het gevra vir ʼn geleentheid om sáám te bestuur. Ons wil nie enige bates oorneem nie, ons wil net kuratorskap neem,” sê hy.

Van Heerden sê die Grondwet stel dit duidelik dat ʼn munisipaliteit water- en riooldienste aan inwoners moet voorsien, asook dat burgers op dié dienste geregtig is. “As ʼn munisipaliteit dit nie doen nie, of as die staat of munisipaliteit nie sy grondwetlike plig kan of wil nakom nie, moet inwoners mos ingryp.”

Van Heerden sê uiteindelik word inwoners as gyselaars aangehou omdat ʼn grondwetlike plig nie nagekom word nie en die “hof het die munisipaliteit nou in sy kwaad gesterk”.

Hy sê die KBI het die bestuursvernuf om die munisipaliteit, wat dit oënskynlik nié het nie, te help om die aanlegte doeltreffend te bedryf. Boonop het die KBI deurlopend volgehou dat hy sáám met die regering wil werk om ʼn langtermynoplossing vir probleme te vind. Van Heerden sê dit is steeds die geval.

“Ons het ʼn behoorlike bestuurspan nodig en diegene in beheer het nie die nodige kundigheid om die werke aan die gang te hou nie. Daar is absolute onkundigheid en totale chaos.”

Van Heerden sê die KBI wag nou op die redes vir verlede week se hooggeregshofbeslissing voordat daar met stappe begin gaan word om daarteen te appelleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
SjN

Mooi man mooi, laat die wat die hofbevel toegestaan het die probleem oplos.

Bernard

Ruil skoon water vir KFC en ‘n T-hemp.

Jack

Nou ja daar val alles weer om.Wonder hoe voel die regter nou nadat hy die aanleg terug geggee het vir die munisipaliteit ?? Hoe dom en kortsigtig en onbevoeg.Nou moet die mense maar die munisipaliteit verwoes en volgende keer nie weer vir die ANC stem nie.Die is ‘n klasieke voorbeeld van hoe ‘n swak regter ‘n nie geloofwaardige besluit neem en dan val alles om.

Renier johannes

Onbevoegde spul dis wat

Pieter

ANC: “A better life for all”. Die hof is ook skuldig aan skending van menseregte (geen drinkwater besoedeling). Duidelik is regters se intellek baie beperk, omdat hulle nie die geheelbeeld wil raaksien nie. Maar ek moet in my werk die totale prentjie sien en word baie minder betaal as ‘n regter.